Enigiets is moontlik by Innibos

Bobby van Jaarsveld het saam met Blackbyrd en Pieter Koen die gehoor vermaak by vanjaar se Innibos bekendstellingskonsert. Foto: Riaan Grobler.

Bobby van Jaarsveld het saam met Blackbyrd en Pieter Koen die gehoor vermaak by vanjaar se Innibos bekendstellingskonsert. Foto: Riaan Grobler.

Innibos se amptelike program is die naweek by die fees se gratis konsert in Nelspruit bekendgestel, en vanaf 2 tot 5 Julie sal die Laeveld weer die tuiste wees vir van die land se beste kunstenaars.

Die feestema is vanjaar “Innibos, is alles moontlik” en die bestuur het uit hul pad gegaan om ʼn feesprogram saam te stel wat nie net die beste produksies op die musiek- en toneelfront bied nie, maar ook ʼn hele paar verrassings insluit. Meer as 300 akteurs, sangers, musikante en visuele kunstenaars sal te sien wees by die elfde Nasionale Kunstefees in die Laeveld.

Daar is elke aand ʼn musiekkonsert op die Standard Bank-verhoog en na verwagting sal tot 35 000 mense per aand weer dié vertonings bywoon. Gehore kan veral uitsien na die Jacaranda FM-konsert op Saterdag, 2 Julie: ʼn skouspel wat glo nog nie op enige ander opelugverhoog gesien is nie. Agtien van Suid-Afrika se gunstelingkunstenaars met ʼn orkes, strykers, spesiale beligting en ander effekte sal seker maak dat die gehoor na hulle asems sal snak. Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Bok van Blerk, Laurika Rauch en Corlea Botha is van die kunstenaars wat by dié konsert sal optree. Barry Pretorius wat ook verantwoordelik is vir die regie van Afrikaans is Groot en die jaarlikse Ghoema Musiektoekennings, het dié produksie saamgestel.

Bobby van Jaarsveld, Theuns Jordaan, Riana Nel en Kurt Darren is maar net ʼn paar van die ander name wat ook elke aand op hierdie verhoog te sien sal wees. Daar is ook ʼn rock-verhoog waar bekends soos Die Heuwels Fantasties, Black Cat Bones, Karen Zoid en Van Coke Kartel sal optree.

By Innibos is alles moontlik – selfs vlakvarke kan vlerke kry: dít is die inspirasie vir hierdie jaar se gelukbringer by die Innibos-kunstefees, Frikkie. Volg al die gebeure by Innibos deur die hutsmerk #varkenlekker dop te hou op Twitter. Foto: www.innibos.co.za

By Innibos is alles moontlik – selfs vlakvarke kan vlerke kry: dít is die inspirasie vir hierdie jaar se gelukbringer by die Innibos-kunstefees, Frikkie. Volg al die gebeure by Innibos deur die hutsmerk #varkenlekker dop te hou op Twitter. Foto: www.innibos.co.za

Buiten vir die musiekverhoë is daar ook ʼn spesiale gratis teater op die feesterrein, naamlik die Boma-kuierteater. Feesgangers sal by hierdie kuierteater elke dag kort toneelstukkies en onderhoude kan sien. Albert Maritz gesels byvoorbeeld met Casper de Vries; Altus Theart doen ʼn uittreksel uit sy eenmanvertoning, “Hoe ʼn man se kop werk”; en Andries Vermeulen, die koning van storievertellers, kom doen ook hier sy ding.

Daar is ook ʼn gratis fliekteater – die kykNET Bosbioskoop – waar verlede jaar se Silwerskerm-filmfeeswenners te sien sal wees. Die Windpomp, Faan se Trein, Konfetti en Pad na jou Hart sal ook hier te sien wees. Die jongspan sal ook heeldag vermaak word by die Apies Innibos-kindervenue.

Al die kunstenaars en vertonings op die feesterrein is by die hektoegang ingesluit. Die volledige feesprogram is by www.innibos.co.za beskikbaar en kaartjies kan ook hier aangekoop word. Kaartjies kan ook deur Computicket bespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.