
De Klerk Oelofse, Cintaine Schutte en Dean Balie is elkeen met ‘n Sinjatuur-toekenning vereer. (Foto: Nardus Engelbrecht)
Die jong kunstenaars Cintaine Schutte, De Klerk Oelofse en Dean Balie is Sondag op die 11de kykNET Fiëstas-geleentheid met Sinjatuur-toekennings vir uitsonderlike prestasie in hulle loopbane vereer.
Dié toekenningsgeleentheid is vanjaar vir die eerste keer vooraf opgeneem en nie oudergewoonte regstreeks uitgesaai nie.
Robert Hindley en Anna-Mart van der Merwe is albei vir hulle rolle in die teaterstuk Valsrivier vereer. Hindley is ook as beste opkomende kunstenaar aangewys.
Van der Merwe het Schutte se toekenning aan haar oorhandig. “Jou teenwoordigheid in ons bedryf is van onskatbare waarde. Hierdie toekenning is erkenning, herkenning en aansporing vir jou – dat jy moet weet ons sien jou, die bedryf het waardering vir jou en om vir jou te sê die pad waarop jy is, is goed en reg,” het sy gesê.

Anna-Mart van der Merwe. (Foto: Nardus Engelbrecht)
Die poet, wie’s hy? is met ʼn handjievol Fiëstas vereer, onder meer vir beste regie vir Frieda van den Heever, beste teaterontwerp en beste musiekgedrewe teaterproduksie vir Charl-Johan Lingenfelder asook beste nuutgeskepte Afrikaanse teks, verwerking of vertaling vir Frieda van den Heever en Dean Balie, en beste feesproduksie.
Dié Fiëstas vereer sedert 2011 uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste. Volgens Karen Meiring, M-Net-direkteur van kykNET-kanale, het die Covid-19-pandemie kunstenaars genoop om om den brode te eksperimenteer en nuwe platforms te vind.
“Die Afrikaanse feeste het leiding geneem en met verskeie innoverende projekte struktuur en vernuwing in ons bedryf teweeggebring. Die eindresultaat was soveel nuwe aanlyn en virtuele vertonings dat ons vanjaar nuwe kategorieë instel om ook uitstaande werk in hierdie nuwe mediums te erken. Dankie aan elke kunstenaar wat aanhou werk het om lig te bring in die donker tyd van die pandemie,” het Meiring gesê.

Karen Zoid. (Foto: Nardus Engelbrecht)
Karen Zoid het haar toekenning vir beste musiekgedrewe buitelugproduksie opgedra aan “al die musikante daar buite wat nou ʼn bietjie sukkel”.
“Ons is nie bedelaars nie; ons is nie boemelaars nie; ons speel nie vir tips nie. Die creative industry is heeltemal stukkend, maar ons is kreatiewe mense en ek wil net vir almal sê, kom ons figure hierdie ding saam uit. Ons kan en ons moet saamstaan.”
Vanjaar se benoemdes en wenners is gekies deur die Fiëstas-paneel wat bestaan uit Herman van der Westhuizen (sameroeper), Ronnie Samaai, Eduard Greyling, Gillian Mitchell, Laetitia Pople, Diane de Beer, Robyn van de Rhede, Jill Markram, Martli Jordaan, Maulise Kotze, Ilza Roggeband, Mariana Malan en CJ de Swardt.

Robert Hindley. (Foto: Nardus Engelbrecht)
Al die benoemdes van die 11de kykNET Fiësta-toekennings ontvang twee Checkers-koopbewyse, waarvan hulle een aan ʼn medekunstenaar of verdienstelike organisasie kan gee.
Meiring het die geleentheid met hierdie woorde afgesluit: “Aan elke kunstenaar: mag julle, soos dikwels vantevore ná ʼn wêreldkrisis, leiding neem, en deur julle werk gehore vertroos en verkwik. Ons erken en waardeer julle besondere vermoëns en sien reikhalsend uit om julle so gou moontlik op die verhoog te sien.”
Hiermee ʼn lys van vanjaar se wenners:
Beste Akteur
Robert Hindley
Valsrivier
Beste Aktrise
Anna-Mart van der Merwe
Valsrivier
Beste Regie
Frieda van den Heever
Die poet, wie’s hy?
Beste Teaterontwerp
Charl-Johan Lingenfelder
Die poet, wie’s hy?
Beste Nuutgeskepte Afrikaanse Teks, Verwerking of Vertaling
Frieda van den Heever & Dean Balie
Die poet, wie’s hy?
Beste Prestasie in Klassieke Musiek
Bryan Wallick, Frank Stadler, Dean Balie, en Peter Martens
Beethoven Triple Concerto
Beste Prestasie in Visuele Kuns
Dineke van der Walt
KKNK se Virtuele Galery
Beste Musiekgedrewe Produksie – Buitelug
Karen Zoid
Karen Zoid 20 jaar Pops
Beste Musiekgedrewe Produksie – Teater
Charl-Johan Lingenfelder
Die poet, wie’s hy?
Beste Aanlyn Feesprojek
Alfred Hinkle
Dans van die heenkoms
Beste Feesproduksie
Die poet, wie’s hy?
Woordfees
Beste Opkomende Kunstenaar
Robert Hindley
Valsrivier
Sinjatuur
Cintaine Schutte
De Klerk Oelofse
Dean Balie
Legendes
Bob Martin
Nic de Jager
Terry Fortune
Blou Fiësta
Jana Hattingh
Suidoosterfees Inryteater
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
1 Kommentaar
Sjoe baie dankie, dit was ‘n fantastiese program en elke benoemdes en wenners verdien die lof. Die sang het my in trane gehad! Die dekor en beligting was regtig iets besonders! Doen so voort ons kunstenaars! Trots op julle! Baie dankie Karen Meiring!