Fiëstas: Regstreekse uitsending van prysaand

FiëstasTrek jou dagboek nader en maak ʼn nota van kykNET se Fiëstas wat op Donderdag 18 Februarie om 20:00 regstreeks op DStv kanaal 144 uitgesaai word.

Die Fiëstas, toekennings vir presteerders op nasionale kunstefeeste, word vanjaar vir die sesde keer aangebied, vanjaar in die Staatsteater in Pretoria.

Die gasheer en gasvrou vir die aand is Pierre Breytenbach en June van Merch en die gasaanbieders is Clint Brink, Erik Holm, Leandi du Randt, Rozanne McKenzie en Deon Lotz. Daar is ook optredes deur Adam, Jaco van der Merwe, Vicky Sampson, Esther Nasser se dansgeselskap, SircuSynergy en die Universiteit van Pretoria se Camerata-koor.

Soos met vorige jare se Fiësta-prysaande sal daar ook uittreksels uit van die benoemde toneelstukke wees, onder meer Amper, Vrystaat met Antoinette Louw, Cintaine Schutte en Milan Murray en Die dag is bros met Ben Albertyn en Sandra Prinsloo.

Die artistieke regisseur is Juanita Kotzé, die musiekregisseur is Janine Neethling en die verhoogregisseur is Ian von Memerty. Die kostuums is ontwerp deur Karen ter Morshuizen, Stiaan Louw, Suzanne Heyns en Vesselina Pentcheva. Die trofeë is deur Glass Forming Academy vervaardig.

Produksies wat verlede jaar op die grootste kunstefeeste in Suid-Afrika te sien was, ding in 13 kategorieë mee om ʼn Fiësta. Son. Maan. Sterre. het agt benoemings gekry; Amper, Vrystaat, Die dag is bros en In glas het elk vyf benoemings ingepalm; Liewe Heksie: Flower Power en Skuldeiser spog met vier benoemings elk; Santa Gamka met drie benoemings en Buite blaf die honde swart, Nie as ek sing nie en Al lê die berge nog so blou het elk twee benoemings gekry.

Lida Botha, Ronnie Samaai en Pieter Fourie word vanjaar vir hulle lewensbydrae vereer. Die Blou Stoel-toekenning asook die toekenning vir die gewildste fees in die land word ook op die prysaand bekend gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.