‌Video: Afrikaanse komedie maak sy buiging onder die sterre

Lika Berning, June van Merch en Illse Roos. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die nuwe Afrikaanse rolprent, #LoveMyselfie, is Vrydagaand tydens ʼn eksklusiewe buite-vertoning onder die sterre op die Blaauwklippen-wynlandgoed in Stellenbosch bekendgestel.

In dié komedie gryp die plaaslike televisiester, Adele Swan, ʼn geleentheid aan om haar skuld te delg deur in te stem om die gesig van eiendomsmagnaat, George, se veldtog te word: ʼn kompetisie op die luukse plesiervaart, die MSC Sinfonia.

Hier moet sy help om eksklusiewe eenhede van die Silwer Eike-aftreelandgoed te verkoop.

Nie net kry haar ego ʼn knou wanneer sy agterkom dat sy aan die Survivor of Seniors-kompetisie aan boord van die skip sal moet deelneem nie, maar sy loop ʼn ou skoolvriendin, Winifred, raak wat die deure van haar langvergete verlede open.

Die hoofkarakter word vertolk deur Illse Roos, bekend vir rolle in Egoli, Die Boekklub, Boland Moorde, Troukoors, Fynskrif en onlangs in die kykNET-sepie, Suidooster.

“Die fliek gaan oor vriendskap, vergifnis, selfontdekking en sisterhood, dis almal universele temas. Om boonop in hierdie dag en eeu vier middeljarige vroue te hê wat ʼn fliek dryf is net ʼn absolute plesier,” het Illse op die rooitapyt aan Maroela Media gesê.

Akteurs soos June van Merch, Joanie Combrink, Robyn Scott, Chané Grobler, Hélène Truter, Chanelle de Jager, Moses Williams en Kevin Smith vorm ook deel van die swaargewigrolverdeling.

“Ek dink die interpersoonlike verhoudings tussen ons klomp aktrises word ook op ʼn outentieke manier op die groot skerm weerspieël,” het June bygevoeg, wat die fliek se draaiboekskrywer Hélène Truter sedert studentedae ken.

Nigel Tattersal, Vlokkie Gordon, Kurt Darren en Lika Berning het die fliek vervaardig. Die rolprentmaker en aktrise Lika maak ook haar buiging as regisseur van ʼn vollengte rolprent.

“Dit was nogal vreesaanjaend, definitief ʼn vuurdoop vir my,” het Lika oor haar ervaring gesê.

Die rolprent is op twee MSC-vaarte geskiet: ʼn tweenagvaart na Mosselbaai en ʼn viernagvaart na Walvisbaai, Namibië – iets wat volgens Lika baie logistieke mannekrag geëis het.

“Die skip was vol passasiers, so ons moes dikwels in die aand of vroeg in die oggend skiet wanneer almal nog slaap. Dit was ʼn unieke ervaring en beslis ʼn eerste vir baie van die akteurs en produksiespan.”

Lika, wat die dogter van aktrise Jana Cilliers en filmmaker Regardt van den Bergh is, skerts dat sy wel een of twee keer haar regisseurpa om hulp gevra het.

“Hy het my moed ingepraat om vas te byt en in die proses te vertrou. My ma het die teks ook vooraf gelees en my herinner om pret daarmee te hê. My ouers is wonderlik, ek is geseënd met hulle.”

Regardt het Lika ook op die rooitapyt kom ondersteun.

“Die nalatenskap leef nou voort en op so ʼn wonderlike manier. Lika het ʼn fantastiese gesindheid en manier van werk, ek loop oor van trots.

“Komedie is ook nie ʼn maklike genre nie en om met die rykdom van Afrikaanse aktrises te werk as nuwe regisseur, is ʼn groot taak, maar mens kan sien hoe hulle haar ondersteun en vertrou het.”

Die publiek het ook die geleentheid gekry om skouers met die fliek se bekendes te skuur en saam die geleentheid te geniet. Verskeie vertonings van die fliek word nog beplan en nuwe vertonings sal gereeld op die webblad gelaai word.

  • Om die rolprent by jou landgoed, gemeenskapsaal of enige ander gepaste venue te vertoon, kontak gerus die fliek se bemarkingspan op die webblad.
  • Kyk die video van die mees onlangse vertoning hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.