2018: Die flieks waarna almal uitsien

Ocean’s 8 (Foto: Facebook)

Van animasie en wetenskapsfiksie tot drama en komedie – talle nuwe flieks is dié jaar op pad.

Maroela Media het ʼn lys gemaak van enkele van die prente waarna fliekvlooie die meeste in 2018 kan uitsien.

Vir ʼn meer volledige lys flieks wat reeds almal aan die praat het, besoek IMDB of Gadgets.

Avengers: Infinity War
Die Avengers en hul bondgenote moet alles opoffer in ʼn poging om die bose Thanos te verslaan voordat hulle die heelal verwoes. Met Karen Gillan, Pom Klementieff, Tessa Thompson en Chris Pratt.

Solo: A Star Wars Story
Die fliek volg die avonture van Han Solo en Chewbacca voordat hulle by die sogenaamde Rebellion aansluit. Met Emilia Clarke, Alden Ehrenreich, Paul Bettany en Joonas Suotamo.

Deadpool 2
Untitled Deadpool Sequel is geskoei is op die Marvel Comics-karakter met dieselfde naam. Die fliek volg op die 2016-fliek Deadpool. Met Morena Baccarin, Ryan Reynolds, Josh Brolin en TJ Miller.

Mary Poppins Returns (Foto: Facebook)

The New Mutants
Die karakters Magik, Wolfsbane en ander jeugdiges probeer hul superkragte aanvaar en leer ken terwyl hulle in ʼn geheime fasiliteit woon. Die fliek is bedoel om die 11de aflewering van die X-Men-flieks te wees. Met Maisie Williams, Charlie Heaton, Anya Taylor-Joy en Alice Braga.

X-Men: Dark Phoenix
X-Men: Dark Phoenix volg op die fliek X-Men: Apocalypse. In dié fliek neem die karakters Mystique, Beast, Storm, Nightcrawler en die res van die X-Men aksie wanneer ʼn bose mag Jean Grey se gedagtes probeer oorneem. Met Sophie Turner, Jennifer Lawrence, Jessica Chastain, Michael Fassbender, Evan Peters en Nicholas Hoult.

Black Panther
T’Challa keer ná die dood van sy pa, ook die koning van Wakanda, terug na sy tuisdorp om sy regmatige plek as koning te neem. Hy gaan oor tot aksie nadat ʼn ou vyand die lot en veiligheid van sy volk bedreig. Met Chadwick Boseman, Michael B. Jordan, Lupita Nyong’o en Danai Gurira.

The Predator
The Predator is die nuwe weergawe van die 1987 wetenskapsfiksiefliek Predator. Met Olivia Munn, Jacob Tremblay, Yvonne Strahovski en Boyd Holbrook.

The Post
Katharine Graham is die eerste vroue-uitgewer van ʼn groot Amerikaanse koerant, The Washington Post. Die fliek gaan oor Graham en Ben Bradlee, redakteur van die koerant, wat regeringsgeheime wat strek oor drie dekades wil publiseer. Met Meryl Streep, Tom Hanks, Alison Brie, Sarah Paulson en Matthew Rhys.

The Post (Foto: Facebook)

The Irishman
Die fliek is geskoei op die boek I Heard You Paint Houses: Frank ‘The Irishman’ Sheeran and the Inside Story of the Mafia, the Teamsters, and the Final Ride of Jimmy Hoffa. Dit is ʼn biografiese drama wat die storie vertel van ʼn sluipmoordenaar wat sy moontlike betrokkenheid by die dood van Jimmy Hoffa heroorweeg. Met Al Pacino, Robert De Niro, Jesse Plemons en Bobby Cannavale.

A Wrinkle in Time
Die fliek is ʼn aanpassing van die Amerikaanse skrywer Madeleine L’Engle se boek met dieselfde titel wat in 1962 gepubliseer is. Dit vertel die verhaal van Meg Murry en haar jonger broer, Charles Wallace, wat hul pa vyf jaar laas gesien het nadat hy ʼn nuwe planeet ontdek het – ʼn plek waar al die boosheid van die heelal bymekaarkom. Die kinders wil hul pa red met die hulp van drie bonatuurlike wesens. Met Oprah Winfrey, Reese Witherspoon, Chris Pine en Mindy Kaling.

Pacific Rim Uprising
Jake Pentecost, die seun van Stacker Pentecost, word herenig met Mako Mori om ʼn nuwe generasie Jaeger-vlieëniers op te lei en te veg teen ʼn nuwe bedreiging. Met John Boyega, Tian Jing, Scott Eastwood en Adria Arjona.

Tomb Raider
Die fliek is ʼn rolprentweergawe van die 2013 gewilde Tomb Raider-rekenaarspeletjie. Dit vertel die verhaal van Lara Croft wat haar pa se navorsing voorsit op die eiland waar hy vermis geraak hy. Tydens haar navorsing ontdek sy eeue oue geheime. Met Alicia Vikander.

Fantastic Beasts: The Crimes of Grindelwald
Newt Scamander snoer kragte saam met die towenaar Albus Dumbledore om die bose Gellert Grindelwald in 1920 te beveg. Met Johnny Depp, Eddie Redmayne, Jude Law, Zoë Kravitz, Katherine Waterston en Dan Fogler.

A wrinkle in time (Foto: Facebook)

Ocean’s 8
Die fliek vertel die verhaal van Danny Ocean, ʼn karakter uit die Ocean’s-rolprente, se vervreemde suster, Debbie, wat die rooftog van die jaar wil uitvoer tydens die jaarlikse Met Gala-geleentheid. Die teiken is die peperduur juwele wat deur die aktrise Anne Hathaway gedra word. Met Cate Blanchett, Mindy Kaling, Sarah Paulson, Rihanna, Helena Bonham Carter en Awkwafina.

Incredibles 2
Elastigirl, Mr. Incredible, Violet, Dash en Jack-Jack keer ná 14 jaar terug in die tweede aflewering van dié gewilde animasiefliek. Met Samuel L. Jackson, Holly Hunter, Craig Nelson en Sarah Vowell.

Jurassic World: Fallen Kingdom
Jurassic World: Fallen Kingdom speel af vier jaar ná die gebeure in die oorspronklike fliek, Jurassic Park, wat in 1993 uitgereik is. Die lewe van die oorblywende dinosourusse word bedreig deur ʼn vulkaan wat dreig om uit te bars. Met Chris Pratt, Bryce Dallas Howard, Jeff Goldblu, Toby Jones en James Cromwell.

Mary Poppins Returns
Dié fliek is die opvolg van die oorspronklike Mary Poppins-fliek wat in 1964 uitgereik is. Dié keer vertolk die Britse aktrise Emily Blunt die rol wat Julie Andrews destyds vertolk het. Mary Poppins Returns speel af in 1935 gedurende die Depressie in Brittanje. Met Meryl Streep, Dick van Dyke, Ben Whishaw, Emily Mortimer, Colin Firth en Julie Walters.

Tomb Raider (Foto: Facebook)

Mission: Impossible 6
Dié fliek is die sesde aflewering van die oorspronklike spioenasiefliek Mission: Impossible wat in 1996 uitgereik is. Die fliek volg Ethan Hunt weer op sy avonture. Met Tom Cruise, Rebecca Ferguson, Ving Rhames, Simon Pegg, Michelle Monaghan, Alec Baldwin en Sean Harris.

Aquaman
Arthur Curry is die erfgenaam van die onderwater-koninkryk van Atlantis en hy moet leer om sy eie mense te lei en ʼn held te wees. Met Jason Momoa, Amber Heard, Willem Dafoe en Nicole Kidman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.