30 jaar oue verhaal roer die hartsnare

(Foto: Maroela Media)

Voelgoedfliek-fanatici kan hul vere reg skud vir ’n romantiese verhaal uit die boonste rakke.

As die naam van die fliek, Redeeming Love, ’n paar klokkies by jou laat lui, is daar ’n goeie rede daarvoor. Dit is die fliekweergawe van ’n Francine Rivers‑boek wat al in 1991 gepubliseer is.

Die romantiese periodedrama is gebaseer op die verhaal van Hosea in die Bybel. Dit speel af in ʼn myndorpie in Kalifornië gedurende die 1840’s, en vertel die storie van Angel (vertolk deur Abigail Cowen) wat van kindsbeen af geweet het hoe dit voel om swaar te kry. Haar geloof het egter in die proses gesneuwel.

Na jare se mishandeling, verwerping en misbruik, ontmoet Angel vir Michael (vertolk deur Tom Lewis), ʼn plaaslike boer wat ʼn noue pad met die Here stap. Angel het aanvanklik nie veel aandag aan Michael se flankeerdery gegee nie, maar hy het egter nie moed opgegee nie.

Liefde oorwin alles – dit is die deurlopende boodskap van die verhaal. Elke karakter het ʼn pad van liefde, hoop en oorwinning gestap. Daar is om elke hoek en draai ʼn uitdaging, ʼn antagonistiese teenwoordigheid, tog is dit liefde en hoop wat elke keer seëvier.

Die storie, wat 30 jaar gelede uit die pen van Francine Rivers verskyn het, raak tot vandag toe die hartsnare aan. Leigh Clarke, lynvervaardiger van die rolprent, het Woensdag met die rolprent se plaaslike première die impak wat die storie deur die jare op mense gehad het aan Maroela Media beklemtoon.

“Jy sal nie glo hoeveel mans, snaaks genoeg, die boek al gelees het nie,” het sy gesê. Die verhaal van Angel, haar swaarkry wat grens aan ellende, en haar oorwinning, is ʼn hartsverhaal wat deur die jare ʼn plek oopgewoel het in talle huise wêreldwyd.

Afgesien van die hoofboodskap wat deurlopend oorgedra word, is daar duidelik ʼn gevoel van vrymaking. Angel, wat eens letterlik en figuurlik vasgevang was deur wat ander mense namens haar besluit het, kon haarself vrymaak. Sy kon weer glo in wat eens so ver vir haar gevoel het.

Redeeming Love is ʼn fliekuitstappie werd. Wees op die uitkyk daarvoor in rolprentteaters naby jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

My vrou was mal oor hierdie boek. Eendag as ons weer sonder dompasse mag gaan fliek, sal ek haar graag wil vat om te gaan kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.