AfriForum toer met ‘Modder en bloed’

(Foto: Facebook via AfriForum)

(Foto: Facebook via AfriForum)

AfriForum se #FliekOpDieVeld-toer, waartydens die Afrikaanse fliek Modder en bloed landwyd vertoon gaan word, skop op 27 Julie af in Gauteng.

Die burgerregte-organisasie beoog om 36 dorpe in sewe provinsies saam met die rolprentspan van Modder en bloed te besoek, waartydens dié rolprent op ʼn groot buitelugskerm op skoolrugbyvelde vertoon sal word.

Beatrice Pretorius, AfriForum se nasionale projekkoördineerder, sê dié landwye toer gaan ook terugploeg in gemeenskappe en skole. Die skole gaan telkens ʼn persentasie van die kaartjieverkope kry.

“AfriForum wil met die #FliekOpDieVeld-toer die Afrikaanse taal, kultuur en rolprentbedryf bevorder en terselfdertyd aan gemeenskappe die geleentheid bied om geld vir hul skole in te samel,” het sy gesê.

Die individuele skole beplan ook verversings en aktiwiteite soos raakrugby vir die fliekgangers. Fliekgangers kan egter ʼn piekniekmandjie, komberse en kampstoele saambring om die vertonings te geniet.

Daar gaan ook ʼn geleentheid wees om skouers te skuur met die fliekbekendes.

Die eerste vertoning vind op 27 Julie om 17:00 by die Christelike-volkseie skool in Akasia in Pretoria-Noord, op die hoek van Ivorystraat en Daan de Wet Nelweg plaas.

Kaartjies kos R60 per persoon en is beskikbaar by iTickets.

Inligting oor dorpe wat in Noordwes, Noord-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat, Mpumalanga en Limpopo besoek word, is ook beskikbaar op iTickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Piet Potgieter ·

Het sonder sukses prober uitvind wanneer word die fliek waar gewys.

Jackie ·

Sal dit bitter graag wil bywoon en dit is lekker naby my huis, maar dit is bibberkoud en ek sien nie kans om met my gesin wat alreeds siek is, buite op n rugbyveld te gaan fliek kyk vanaand nie. hoe lyk die program in Pretoria verder??

Anton ·

Het die vertoning bygewoon vanaand. Die fliek geniet maar bywoning was baie swak en geen “fliekbekendes”daar gesien nie. Uiters teleurgesteld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.