Afrikaanse debuutfliek vir Namibiese nuweling

ʼn Splinternuwe Afrikaanse rolprent getiteld Woestynpsalm sal eersdaags deur ʼn nuwe Namibiese produksiemaatskappy vervaardig word.

Bosman Films het pas aangekondig dat die voorproduksie vir hulle eerste rolprent onlangs begin het. Die maatskappy is gestig deur die 22-jarige Namibiese rolprentmaker Ben van der Walt.

Van der Walt, ʼn student aan die Kanbar Instituut vir Rolprente en Televisie aan die New York Universiteit se vooraanstaande Tisch-kunsteskool, is die skrywer en regisseur van Woestynpsalm. Hy is ook ʼn voormalige hoofseun van Windhoek Afrikaanse Privaatskool.

Hy moes in Maart verlede jaar noodgedwonge na Namibië terugkeer kort voordat die VSA se grense as gevolg van die Covid-19-pandemie gesluit is. Hy sal waarskynlik eers in September vanjaar na New York kan terugkeer om sy studies voort te sit.

Covid-19 het egter nie sy passie vir rolprentvervaardiging aan bande gelê nie en het hy tydens die inperking saam met sy gesin in Windhoek dié vollengte rolprent begin konseptualiseer.

“Die fliek bring hulde aan my gesin en ons mooi land. Dit is losweg op ʼn ware verhaal geskoei en handel oor die fisieke en emosionele uitdagings daarvan om iets waarvoor jy lief is in ʼn woestyn aan die lewe te probeer hou,” vertel Van der Walt.

Ben van der Walt, regisseur en skrywer van ‘Woestynpsalm’. (Foto: Verskaf)

Die storielyn sentreer om Nadia, Die Vrou in die Woestyn. Sy is ʼn jong Protestantse dominee wat elke naweek ver afstande deur die Namibiese woestyne aflê om vir ʼn sterwende gemeente te gaan preek.

Haar verhaal speel in ʼn onbepaalde tydperk af – iewers tussen die 1980’s en die hede – waartydens sy onder toenemende druk van buurkerke en familie geplaas word om haar lewenspad as vrouedominee te heroorweeg.

Sy word gedwing om tradisionele en moderne gesigspunte van geloof, geloofsleierskap en die sogenaamde aanvaarbare rolle van ’n vrou in ons samelewing teen mekaar op te weeg.

Volgens Van der Walt sal die kameras later vandeesmaand begin rol met ʼn Namibiese rolverdeling en ʼn internasionale rolprentspan. Dié span bestaan uit Namibiese, Suid-Afrikaanse, Amerikaanse en Nederlandse lede.

Verfilming sal hoofsaaklik in Windhoek en in die suidelike dele van Namibië plaasvind, moontlik tot so ver as Lüderitz.

Volgens Elizma Theron, uitvoerende bestuurder van Netwerk in Namibië, doen Van der Walt en sy span baanbrekerswerk vir Afrikaans in Namibië en stel “ʼn navolgenswaardige voorbeeld vir die jeug om nie terug te deins vir groot uitdagings nie”.

“Ouderdom moenie dien as ʼn verskoning om groot dinge te bereik nie – dit moet juis as aansporing dien. Ons doen ʼn beroep op die sakegemeenskap en Afrikaanssprekende individue om hierdie inisiatief te ondersteun ten einde hierdie groep jong entrepreneurs ʼn hupstootjie te gee.”

ʼn Geldinsamelingsveldtog is aanlyn van stapel gestuur waarmee ʼn totale bedrag van ongeveer N$71 000 ingesamel is. Al die lede van die produksie werk sonder vergoeding en alle gelde word dus vir die vervaardiging van die film aangewend.

Daar is nog ’n behoefte aan akkommodasie in Lüderitz en Solitaire, asook vervoer en spyseniering. Verskillende opsies om publisiteit te verkry, is beskikbaar vir sakeondernemings wat borgskappe bied. Meer besonderhede is hier beskikbaar.

Woestynpsalm se première en vrystelling, in samewerking met Netwerk in Namibië, word vir Oktober vanjaar beplan.

Besoek die webtuiste vir meer inligting oor die rolprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.