Afrikaanse fliek wen beste regisseur-toekenning oorsee

Nommer 37 EPK

Skermgreep uit Nommer 37 (Foto verskaf aan Maroela Media)

Dit is pas aangekondig dat regisseur en draaiboekskrywer, Nosipho Dumisa, die Cheval Noir Jury-prys gewen het vir beste regisseur by die Fantasia Internasionale Rolprentfees in Montreal, Kanada, vir haar eerste speelfilm, NOMMER 37.

“Nosipho Dumisa wys ’n elegante sensitiwiteit met haar debuut-speelfilm; ’n Hitchcock-styl vertelling wat afspeel ’n gevaarlike krotbuurt in Kaapstad. Die rolprent is ’n toonbeeld van presiesheid en finesse, maar daar is ook genoeg ruimte gelaat om asem te haal en harte te verower – selfs met ’n geweer teen die kop,” sê Tim Matheson, hoof van die toekenningsraad van dié groot rolprentfees in Noord-Amerika.

Nosipho wat oorspronklik van Durban af kom, maar tans in die Kaap woon, was al die regisseur van verskeie advertensies, televisiereeks- en realiteitsreeksvoorskoue, leefstylprogramme en kortfilms. Sy is ook een van die vervaardigers van die gewilde kykNET-sepie, Suidooster.

“Geen regisseur maak ’n fliek op sy of haar eie nie; dis van die begin af ’n spanpoging en NOMMER 37 se reis was geensins anders nie,” sê Nosipho oor haar nuutste prestasie, wat ewe goed plaaslik ontvang is. “My werk, as regisseur, was bloot om die talent en pogings van al die betrokke partye te bestuur. Hierdie toekenning is dus nie net vir my nie, maar vir almal – van die span by Gambit Films, tot die akteurs wat alles gegee het, die span wat my vertrou het en hard gewerk het om hierdie visie lewe te gee, asook diegene wat die reis saam met ons begin het met die kortfilm. Ek wil ook dankie sê vir Jan du Plessis, Kaye Ann Williams en Anneke Villet, wat my gelei het deur die maak van hierdie fliek. Hierdie toekenning is ’n bevestiging vir almal van ons en ek is so trots op die span!”

Nosipho Dumisa, regisseur en draaiboekskrywer van “Nommer 37” (Foto verskaf aan Maroela Media)

Hierdie Kaapstadse produksie, wat aan die wêreld bekendgestel is tydens die internasionale SXSW-rolprentfees in Texas, is gekies is om die land verder te gaan verteenwoordig by die agtiende jaarlikse Internasionale Neuchâtel Fantastic-Rolprentfees (NIFFF) in Switserland, vanaf 6 tot 14 Julie 2018 en was ook deel van die Sydney-Rolprentfees in Junie 2018. Dark Star Pictures het ook eksklusiewe regte bekom het om die fliek in Noord-Amerika te versprei. Die Noord-Amerikaanse vertonings sal in New York en Los Angeles begin, waarna dit ook vroegwinter op ’n DVD-op-aanvraag-basis vrygestel sal word. Reel Suspects het verder ook verspreidingsregte vir die rolprent in China, Duitsland, Oostenryk, Switserland en Japan bekom.

NOMMER 37 is ’n spanningsbelaaide grootskerm-ervaring, wat gebaseer is op die SAFTA-bekroonde kortfilm met dieselfde naam, waarvan Nosipho Dumisa en Travis Taute die regisseurs was. Dit is een van daardie flieks wat kykers op die punte van hulle stoele sal hou tot en met die laaste toneel en vertel die verhaal van Randal Hendricks wat onlangs deur ’n ongeluk gestrem gelaat en nou rolstoel- woonstelgebonde is. Hy is kniediep in die skuld by ’n sosiopatiese geldskieter met die naam Emmie (Danny Ross), wat sy pond vleis eis. Wanneer sy toegewyde meisie, Pam (Monique Rockman), vir hom ’n verkyker present gee kan hy sy bure dophou en sien hy op ’n dag hoe ’n gevaarlike bendeleier, Lawyer (David Manuel), ’n moord pleeg en besluit om hom af te pers vir geld. Met verraad en gierigheid om elke hoek en draai, neem die gebeure wat volg hulle op ’n lewensgevaarlike reis, soos wat die wêreld rondom hom verder en verder in chaos gedompel word.

Komplimente stroom ook steeds in vir die uitstekende rolverdeling wat Sandi Schultz, Deon Lotz, Elton Landrew, Ephraim Gordon en Amrain Ismail-Essop insluit; asook vir die treffende kletsrymverwerking, Dala Wat Jy Moet, deur Youngsta CPT en hoofrolspeler, Irshaad Ally, vir die klankbaan geskep is.

Die fliek is vervaardig deur Bradley Joshua en Benjamin Overmeyer van Gambit Films, in samewerking met kykNET Films, M-Net, XYZ Films en die departement van handel en nywerheid (DTI). Dit is plaaslik deur Filmfinity (Edms) Bpk. versprei. Die DVD van dié lokettreffer sal vanaf 3 September op BoxOffice beskikbaar wees en vanaf 7 September 2018 op winkelrakke te koop wees.

WAARSKUWING: Die lokprent bevat krutaal wat nie geskik is vir kinders of sensitiewe kykers nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Essa ·

Knap gedaan Nosipho Dumisa en almal betrokke. Aangesien ek die spreekwoordelike sensitiewe kyker is sal ek waarskynlik nie die fliek kyk nie, maar is bly vir die internasionale erkenning daarvan!

John ·

‘n Alfred Hitchcock-fliek het dieselfde tema met Grace Kelly in ‘n hoofrol. Nie?

Fliekvlooi ·

Ja, mens noem dit eerbetoon (aan Hitchcock se Rear Window, in hierdie geval). Rear Window is gegrond op ‘n kortverhaal, It Had to Be Murder deur Cornell Woolrich, en Hollywood het self ook die storie al oorvertel in 2007 se Disturbia (met Shia LaBeouf) Maar ‘n rolstoel en ‘n verkyker maak nie ‘n fliek nie – Nommer 37 is genoegsaam nuut en anders.

E.K. die eerste ·

Well done you! Mooi so! EN dit in Vrouemaand – baie gepas!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.