Afrikaanse fliekvermaak vir Aprilmaand

n-Pawpaw-vir-my-darlingKykers kan vandeesmaand ʼn hele paar opwindende Afrikaanse flieks op kykNET, DStv-kanaal 144, verwag.

Nul is nie niks nie – Saterdag 7 April om 20:30

Hoender word onverwags vriende met die nuwe buurseun, Drikus Ferreira. Drikus ly aan Hodgkins se siekte en sy laaste droom is om ’n zombiefliek te maak. Hoender, die rissiepit Chris (Hoender se droommeisie) en Drikus vorm vinnig ’n hegte band. Die filmspannetjie ontsnap saam van hulle daaglikse eentonige lewens en bekommer hulle nie meer oor skoolboelies, Drikus se oorbeskermende ouers en Hoender se kluisenaar-ma nie.

Hoender moet diep delf – om seker te maak Drikus se film word wel voltooi, moet hy opstaan vir dit wat reg is, gaan vir dit wat hy wil hê en nooit opgee in dit wat hy glo nie. Drikus se film red die dooie gemeenskap en blaas weer nuwe lewe in die eens stil en verlate strate. Hoender se familie besef ook dat hulle nie meer in die verlede kan lewe nie. Die tyd om te lewe is nou! “Nul is nie niks nie, dis die middel. Dis halfpad tussen die positiewe en negatiewe getalle. Nul… is nie niks nie.”

Met Reine Swart, Kim Syster en Antoinette Louw

Jou Romeo – Saterdag 14 April om 21:00

In ’n sportmalskool is Yvette, Tyler en die dramabrigade ’n piepklein minderheid. Hulle het slegs een doel voor oë: Om Romeo en Juliet in hul matriekjaar op die planke te bring.

Die skoolhoof, meneer Kirby Potgieter, het egter ander planne en sny die kuns- en kultuurbegroting vir opgraderings aan die krieketklubhuis. Desperaat om kaartjies te verkoop en sodoende die vertoning te red, besluit Yvette en Tyler om die skool se sportheld en hartebreker, Marko Marais, te oortuig om die rol van Romeo te vertolk.

ʼn Onverwagse romanse onstaan, maar leuens en ambisie laat Yvette wonder of Marko werklik haar Romeo kan wees.

Met Ruan Wessels, Elani Dekker en Pierre Breytenbach

Jagveld – Saterdag 21 April om 21:00

Emma le Roux is op pad huis toe na die familieplaas in die Groot Karoo. Sy sien hoe ses mans ’n polisieman skiet. En hulle sien haar. Nou jag hulle haar soos ’n dier in die Groot Karoo. Sy’s mos maklike prooi. Dis gou-gou klaar.

Die probleem is, Emma is Jacques le Roux se kind. En Jacques le Roux was ’n recce. Dié jagtog wil nie volgens plan verloop nie. Dit ontrafel. Vinnig. Wat hulle dryf, is nie meer haat of wraak nie: nou is dit oorlewing.

Met Leandie du Randt Bosch, Edwin van der Walt en Bouwer Bosch

ʼn Paw Paw vir my Darling – Saterdag 28 April om 21:00

Die fliek is gebaseer op Jeanne Goosen se roman. Dis ’n greep uit die lewe van die Beeslaer-gesin van Frik Du Preezstraat 24, Damnville, wat afspeel in 2003 en waarin hul lief en leed gesien word deur die oë van hul straatbrak, Tsjaka.

Dit is ’n verhaal van oorlewing in ’n uitsiglose bestaan, van humor en patos, van lief en leed, van vreugde en verlies, van hunkering, hoop en uiteindelike aanvaarding van ’n lewe sonder trimmings.

Met Tobie Cronjé, Brümilda van Rensburg en Deon Lotz

Skakel in op DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daan Erasmus ·

En as jy “Johnny is nie dood nie” gemis het. Maak ‘n plan. Johnny is nie dood nie, ons is. Dit is net anders en raak. Jy gaan iemand in die regte lewe daar raaksien.
Maar kan ons Darm ‘n expert se mening oor hierdie films kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.