Afrikaanse kortfilm op pad na Cannes-fliekfees

heen en weer

Melt van der Spuy in ‘n skermgreep uit die fliek.

Die Afrikaanse kortfliek Heen en Weer gaan in Mei by die Cannes-fliekfees in Frankryk ten toon gestel word.

Die fliek, wat in September verlede jaar tydens die 48 Hour Film-fliekprojek in Kaapstad verfilm is, is deur die Kaapse produksiemaatskappy Wyrd Films geskryf en vervaardig.

Melt van der Spuy, wat die rol van Christoff in die kortfliek vertolk, het aan Maroela Media gesê ongeveer 40 fliekspanne het deelgeneem aan die 48 Hour Film-fliekprojek in Kaapstad, waar spanne slegs 48 uur het om ʼn kortfilm aanmekaar te sit.

“Die Vrydagaand kom almal bymekaar waar ʼn genre, ʼn rekwisiet, ʼn karakter en ʼn lyn wat in die fliek gebruik moet word aan elke span toegeken word. Daarna het elke span 48 uur om die teks te skryf, te verfilm en te redigeer,” verduidelik hy.

Heen en Weer het na afloop van die projek met die louere weggestap. Die fliek is in Februarie vanjaar by die Filmapalooza-fliekfees in Frankryk vertoon.

“Filmapalooza is ʼn versamelpunt vir al die wenners van die 48 Hour Film-projekte wêreldwyd. Daar word ongeveer 140 flieks uit 140 stede vertoon,” het Van der Spuy gesê. “Die top-15 flieks is daar aangekondig en dié flieks gaan dan na die Cannes-fliekfees in Frankryk.”

heen en weer2

Nicole Holm en Melt van der Spuy in ‘n skermgreep uit die video.

Nicole Holm, wat die rol van Jenna vertolk, is benoem vir beste aktrise tydens Filmapalooza en Heen en Weer is gekies om in Mei vanjaar op die grootskerm tydens die Cannes-fliekfees vertoon te word.

Volgens Linsen Loots, medevervaardiger en regisseur van die fliek, handel die fliek oor twee karakters wat mekaar toevallig ontmoet wanneer die een se motor gaan staan op pad na ʼn begrafnis. “Hulle ontdek ooreenkomste in mekaar se stories.”

Hy het gesê dit is ʼn groot mylpaal vir hom en medevervaardiger van Wyrd Films, Dewet van Rooyen. “Ons is baie opgewonde. Om flieks te maak is ons passie, en dit is ʼn goeie stap in die regte rigting vir ons en ʼn aanduiding dat ons vordering maak.”

Die Cannes-fliekfees vind plaas van 8 tot 19 Mei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.