Agter die skerms van ʼn nuwe Afrikaanse fliek

John-Henry Opperman op die stel van Musiek vir die Agtergrond.

Die span van Roepman en Verraaiers is weer hard aan die werk met ʼn nuwe Afrikaanse fliek, Musiek vir die agtergrond.  En met die uiters talentvolle span wat aan stuur van sake is, kan Afrikaanssprekendes maar gerus op die punt van hul stoel sit en wag vir dié film om sy verskyning te maak.

Die storie, wat afspeel in die musiekbedryf, is geskryf deur Sallas de Jager wat self ʼn bekende in die musiekwêreld is.

John-Henry Opperman vertolk die rol van die talentvolle musikant, Paul van der Merwe, wie se talent raakgesien word deur ʼn musiekvervaardiger, gespeel deur Brümilda van Rensburg.  Dié kontrak kom egter met ʼn prys en Paul moet besluit of hy sy eie musiek en sukkelende bestaan sal prysgee vir die kommersiële bedryf en sodoende meer geld maak. “Dit gaan oor ʼn outjie wat figuurlik sy siel aan die duiwel verkoop en dit probeer terugkry,” vertel De Jager.  Die fliek is wel ‘n liefdesverhaal, maar handel ook oor keuses en wat ʼn mens sal prysgee vir sukses.

Daar is ʼn paar groot musikante wat bydra tot die musiek in die fliek, onder andere Karen Zoid, Gian Groen en Jack Parrow.  De Jager, wat ook die regisseur en mede-vervaardiger van die fliek is, maak dit duidelik dat dit ʼn storie oor ʼn musikant is en nie ʼn musiekblyspel nie.

Volgens De Jager, wat ook mede-vervaardiger van Roepman en Verraaiers was, is dit belangrik dat Afrikaanssprekendes kontemporêre stories begin vertel.  “Die moderne Afrikaanssprekende se omgewing is ʼn baie interessante omgewing, maar is terselfdertyd ʼn baie moeilike omgewing om in te werk.  Juis vir daardie rede is ek baie trots op dít wat ons gedoen het: die mense gaan sien dat ons lewe net so interessant is soos ʼn honderd jaar gelede.”

Ander bekende gesigte wat ook in die fliek te sien is, is Terence Bridgett, Ian Roberts, Lizelle de Klerk en Neil Sandilands. Musiek vir die agtergrond sal na verwagting in Oktober vanjaar op die grootskerm te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.