Aksiebelaaide ‘Vuil Wasgoed’ eersdaags in teaters

Vuil-Wasgoed-PosterVuil Wasgoed, die jongste rolprent uit die pen van Bennie Fourie, word op 8 Desember vanjaar in fliekteaters landwyd vrygestel.

Dié fliek het reeds in 2014 fliekvlooie se aandag getrek toe dit aangewys is as beste kortfilm tydens die Silwerskermfees. Fourie en Bouwer Bosch vertolk die hoofrolle.

Die storie handel oor Wim en Kevin, twee beste vriende wat ook saam by ʼn klerewassery werk, maar daarvan droom om hul eie koffiewinkel oop te maak. Hoewel die twee net tydelik by die klerewassery sou werk, is albei sewe jaar later steeds daar. Vir hulle is dit ʼn hoogtepunt om elke aand die klere van die wassery se kliënte aan te trek en partytjies by te woon.

Hierdie stelsel werk goed. Kevin is selfs naby daaraan om die liefde van sy lewe te kry, totdat ʼn onderduimse juweelhandelaar verraai en sy vinger afgesny word, en dié vinger in ’n baadjiesak by die wassery beland.

Wim en Kevin word teen hulle sin by ’n gevaarlike onderwêreld ingesleep. Twee skelm broers, ʼn blinde handlanger, twee top-polisiebeamptes en ’n ongenaakbare verraaier is almal op Wim en Kevin se spoor. En êrens staan ’n skeepsvraghouer met ’n kosbare vrag en wag vir die hele spul om toe te sak.

Vuil Wasgoed se draaiboek is geskryf deur Fourie en word vervaardig deur Danie Bester, Fourie en Bosch. Morné du Toit het die regie behartig.

Nico Panagio, Tim Theron en Charlie Bouguenon vertolk die rolle van die skurke. Leandie du Randt en Simoné Nortmann vertolk die rolle van Alecia en Nikki, en Stiaan Smith is die sekuriteitswag.

Vuil Wasgoed het tydens vanjaar se Silwerskermfees weggestap met toekennings vir beste regisseur (Morné du Toit), beste redigering (Quinn Lubbe), beste akteur (Fourie), beste produksie-ontwerp (Merishen Wessels) en beste klankontwerp (Janno Muller) en oorspronklike musiek (Benjamin Willem).

Kyk hier na die lusmakerlokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.