Akteur se rol in fliek geskrap ná aantygings

Kevin Spacey. Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File

Talle tonele wat deur die akteur Kevin Spacey in ʼn nuwe Amerikaanse rolprent vertolk is, gaan geskrap en oorgeskiet word met ʼn ander akteur nadat talle aantygings van seksuele teistering teen Spacey gemaak is.

Die vervaardigers van All the Money in the World, wat glo steeds in Desember vanjaar uitgereik gaan word, het vandeesweek bevestig dat die veteraanakteur Christopher Plummer die rol sal oorneem.

Spacey sou die rol van die oliemagnaat John Paul Getty in dié prent vertolk het.

Volgens die vervaardigers gaan talle tonele in die fliek – waarin Spacey onder meer die enigste akteur is én tonele waarin hy teenoor ander akteurs speel – weer verfilm word.

All the Money in the World is ook onttrek aan die American Film Institute se jaarlikse rolprentfees in Los Angeles.

ʼn Storm het vroeër vandeesmaand om Spacey se kop losgebars nadat Anthony Rapp, ook ʼn akteur, in ʼn onderhoud met BuzzFeed gesê het dat Spacey hom seksueel geteister het toe hy net 14 jaar oud was. Rapp het gesê hy het in 1986 ʼn partytjie bygewoon wat deur Spacey (58), toe 26 jaar oud, gereël is. Volgens hom het Spacey seksuele toenadering gesoek deur bo-op hom te lê waarna hy Spacey weggestoot en toe die huis verlaat het.

Spacey het in reaksie hierop gesê hy kan nie die voorval onthou nie, maar hy het onvoorwaardelik om verskoning gevra en gesê hy was waarskynlik onder die invloed van alkohol ten tyde van die voorval.

Ná Rapp se aantygings teen Spacey het talle ander akteurs ook die vinger na hom gewys.

Heather Unruh, ʼn voormalige Amerikaanse TV-ankervrou, het vroeër vandeesmaand tydens ʼn perskonferensie gesê Spacey het haar 18-jarige seun in Junie verlede jaar betas. Sy beweer die akteur het drank vir haar seun gekoop terwyl die wettige ouderdom om alkohol in Massachusetts te gebruik 21 is. Volgens haar het hy sy hand in haar seun se broek gedruk nadat hy “hom dronk gemaak het”.

Kris Nixon, ʼn kroegman in die noorde van Ierland, het ook in ʼn onderhoud met BBC gesê dat Spacey hom glo vasgedruk en betas het. ʼn Drama-onderwyser en ʼn rolprentregisseur van Londen het ook hul stemme by dié aantygings gevoeg.

Die polisie in Brittanje het bevestig dat ʼn ondersoek teen Spacey tans aan die gang is. Die akteur het intussen ook bevestig dat hy “behandeling” ontvang, maar wou nie bevestig wat dié behandeling behels nie.

Sedert die eerste aantyging teen hom het Netflix bevestig dat hy nié die kontrak vir sy politieke drama House of Cards, waarin Spacey die hoofrol vertolk, vir ʼn sewende seisoen gaan hernu nie.

Die organiseerders van die Emmy-toekennings het ook gesê dat Spacey nié meer in November ʼn spesiale toekenning sal ontvang nie. ʼn Verklaring van die Emmys het gesê die toekenning word “onttrek in die lig van onlangse gebeure”.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.