Akteurs vertel: Dié ‘Fiela se kind’ is anders

Fiela Badtoneel (003)

Fiela se kind (Foto: Verskaf)

Hoewel die storie van Fiela se kind goed bekend en geliefd is onder die meeste Afrikaanssprekendes, wou die 2019-weegawe van dié nuwe rolprent ’n nuwe blik gee op die storie.

Zenobia Kloppers, wat die rol van Fiela Komoetie vertolk, sê die ervaring om aan dié rolprent te werk voel soos ʼn droom wat waar geword het.

“Dit was een van die ongelooflikste ervarings van my lewe. Dis só ʼn ikoniese rol en ʼn ikoniese storie. Dit was net een van daai rolle wat jy droom om te speel,” sê sy.

“Die ervaring op stel en om eintlik in Fiela se skoene te loop is lewensveranderend. Ek kan dit eintlik nie beskryf nie, dit is ʼn ervaring wat my lewe verander het.”

Wayne Van Rooyen vertolk die rol van Selling Komoetie (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Wayne van Rooyen, wat die rol van Selling Komoetie vertolk, sê hy het aanvanklik druk gevoel oor die rolprent omdat mense die verhaal reeds so goed ken en omdat daar reeds in 1988 óók ʼn Fiela se kind-rolprent vervaardig is.

“Maar toe ek met Brett Michael Innes (die regisseur) gepraat het, het al daardie druk weggegaan. Hy het my laat verstaan dat dit nie bloot die ou fliek is wat weer gemaak word nie, maar dat dit ʼn nuwe weergawe van die storie is.

Wayne Smith vertolk die rol van ‘n ouer Benjamin (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Daar is verskillende maniere om ʼn storie te vertel. En ja, natuurlik gaan mense praat oor die eerste fliek en dit vergelyk, maar ons het ʼn storie probeer vertel en ons het alles daarin gesit,” sê hy.

Kloppers sê sy het ook ʼn groot verantwoordelikheid gevoel om die ikoniese rol van Fiela te vertolk.

“ʼn Mens voel nogal die druk van die boeke en die vorige fliek, maar wat ek gedoen het, is ek het glad nie na die vorige fliek gekyk nie. Ek het gefokus op die Fiela oor wie Dalene Matthee geskryf het, ek het gefokus op die rol. Die stres het meestal gekom om eer te bring gaan Dalene Matthee se Fiela, eerder as die Fiela in die vorige fliek,” sê sy.

Zenobia Kloppers vertol die rol van Fiela Komoetie (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Wayne Smith, wat die rol van ʼn ouer Benjamin Komoetie vertolk, glo hulle het nuwe lewe in dié weergawe van Fiela se kind geblaas en dat hulle die storie nuwe lewe gegee het op ʼn interessante manier.

Klopper vertel dat sy kan onthou die eerste keer toe sy Fiela se kind gelees het. “Ek was twaalf jaar oud en ek het dit in Engels gelees. Ek was so mal daaroor dat ek dit toe weer ʼn keer in Afrikaans gelees het. Dit was vir my van die begin af so ʼn hartroerende verhaal en ek was van die begin af mal daaroor,” sê sy.

Ook vir Van Rooyen het dié storie ʼn spesiale betekenis.

Fiela se kind was die eerste rolprent wat my ouma, wat nou oorlede is, ooit gesien het. Omdat dit my ouma se eerste rolprent was, het dit ʼn groot rol in my lewe gespeel en dit was baie na aan my. Dit het ʼn baie spesiale plek in my hart,” het hy gesê.

Fiela se kind begin op 13 September in teaters landwyd draai. Lees Maroela Media se resensie oor Fiela se kind hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Ag ek weet nie of dit die moeite werd gaan wees nie. Almal het vir Fiela gekyk daaityd en ek kan nou regtig nie insien dat daar n ander storie vertel kan word nie. Sal maar sien as dit uitkom of dit kan kers vashou by die vorige een.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.