Anel Alexander gesels uit VSA oor ‘Semi-Soet 2’

Anel Alexander, Corinne du Toit en Sandra Vaughn. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Anel Alexander, Corinne du Toit en Sandra Vaughn tydens die kykNET-sepie ‘Getroud met rugby’ se 10de verjaarsdagviering vroeër vanjaar. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

In Februarie 2012 het fliekgangers landwyd na teaters gestroom om die Afrikaanse romantiese komedie, Semi-Soet, op die grootskerm te beleef. Dié fliek, met Anel Alexander en Nico Panagio in die hoofrolle, was ʼn lokettreffer.

Vandag, byna agt jaar en baie water in die Afrikaanse rolprent-see later, bly dié fliek met sy unieke komiese kwinkslae en storielyn steeds een van die gewildste rolprente onder Afrikaanse fliekliefhebbers.

Die vervaardigers van Semi-Soet het pas aangekondig dat ʼn tweede Semi-Soet-fliek eersdaags die grootskerm gaan tref en aanhangers van die rolprent is uit hulle velle oor dié nuus.

Alexander, wat tans saam met haar man, die akteur James Alexander, in die VSA woon, het aan Maroela Media bevestig dat produksie vir die fliek in die eerste helfte van volgende jaar sal geskied.

“Ons is tans op soek na ʼn vakansieoord waar ons die fliek kan skiet en waar die grootste gedeelte van die storie gaan afspeel,” sê Alexander oor Semi-Soet 2, wat glo dié slag meer op familie sal fokus.

Volgens Alexander was die span van Semi-Soet aanvanklik nooit van plan om ʼn opvolgfliek te vervaardig nie, maar wou dié bekende rolverdeling weer saam met hul vriende, op en van die skerm af, saamwerk.

“Ek en James het altyd gesê ons sal nooit, ooit ʼn tweede een maak nie, maar toe het soveel goed in plek geval dat ons dit nie nié kon doen nie. Ons is nou op ʼn punt in ons lewens waar ons net ons werk wil geniet. Ek het niks om aan iemand te bewys nie en ons moet ook ʼn lewe kan maak uit wat ons doen,” vertel Alexander.

Sy voeg by dat Semi-Soet een van die lekkerste projekte is waaraan sy nog ooit gewerk het. “Dit is so ʼn klomp spesiale mense wat saamgewerk het en dit was ʼn fliek wat geweldig baie vreugde aan mense verskaf het – iets wat myns insiens uiters nodig is in Suid-Afrika op die oomblik.”

Van links na regs: Louw Venter, Paul du Toit, Sandra Vaughn, Anel Alexander, Diaan Lawrenson en Nico Panagio sal almal weer hul rolle hervat in die nuwe rolprent, ‘Semi-Soet 2’. (Foto: Facebook via Sandra Vaughn)

Van links na regs: Louw Venter, Paul du Toit, Sandra Vaughn, Anel Alexander, Diaan Lawrenson en Nico Panagio sal almal weer hul rolle hervat in die nuwe rolprent, ‘Semi-Soet 2’. (Foto: Facebook via Sandra Vaughn)

Alexander en Panagio sal saam met Diaan Lawrenson, Louw Venter, Paul du Toit en Sandra Vaughn weer hul ou rolle in Semi-Soet 2 hervat. Alexander en Vaughn sal ook saam met Corinne du Toit die skryfwerk vir die nuwe rolprent behartig. Dit is nog nie bevestig wie die regisseur vir die fliek sal wees nie. Lucia Meyer-Marais en Jozua Malherbe sal saam met Alexander as mede-vervaardigers dien.

“Uit die aard van die saak sit ek soms aan die anderkant van die wêreld. Ek sal beslis weer ʼn ruk in Suid-Afrika kom deurbring vir voor-produksie, verfilming, na-produksie en bemarking. Ek en James het nou maar vrede gemaak daarmee dat ons eintlik in twee lande leef en in ʼn hele klomp verskillende stede. Ons is wêreldburgers!” sê sy.

Alexander bespiegel dat die uitreiking van Semi-Soet destyds dalk die eerste keer was wat ʼn breër spektrum van Suid-Afrikaners hulself kon herken op die grootskerm en dat dit bygedra het tot die sukses van dié geliefde fliek.

“Tot dan was die meeste Suid-Afrikaners, en veral Afrikaners, uitgebeeld as of dom, rassisties of platvloers. Die meeste Afrikaanse flieks was ook óf slapstick óf het gegaan oor vigs of apartheid. Semi-Soet se humor was vinnig en snaaks sonder dat iemand op ʼn piesangskil gly of miere in hul onderbroek het. Dit was net lekker pret. Ek dink die fliek het vir die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf kom wys: Kyk, ons kán ander genres as slapstick of wroeging aanpak!”

Anel en James Alexander by die première van die rolprent, 'Sink'. (Foto: Adéle Changuion/Maroela Media)

Anel en James Alexander by die première van die rolprent ‘Sink’. (Foto: Adéle Changuion/Maroela Media)

Sy skryf ook die X-faktor van Semi-Soet toe aan die tasbare energie tussen die akteurs en die res van die span. “Dit is iets wat mens nie kan voorspel óf forseer nie. Ons het dit natuurlik haarfyn beplan en probeer orkestreer, maar daar is ʼn sekere element van daai chemistry wat ʼn mens eers kan sien sodra al die elemente bymekaar kom. Semi-Soet was een van daai seldsame projekte waar dit gewerk het – voor én agter die kameras.”

Die eerste rolprent vertel die verhaal van Jaci van Jaarsveld (Alexander), ʼn selferkende werkholis, wat alles in haar vermoë sal doen om te keer dat die advertensiemaatskappy waarvoor sy werk, oorgeneem word deur ʼn genadelose sakeman bekend as “The Jackal”.

Haar enigste hoop is om ʼn groot kontrak los te slaan vir ʼn wynlandgoed wat hul wyne internasionaal wil bemark, maar die wynboer vereis dat die persoon wat sy wyn gaan bemark in ʼn gevestigde liefdesverhouding moet wees.

Uit desperaatheid besluit Jaci om ʼn model (Panagio) te huur om hom voor te doen as haar verloofde. Gevolglik neem sy aan dat die eerste aantreklike man wat by hulle kantoor instap deur die modelagentskap gestuur is, maar dit is natuurlik nie die geval nie.

Hier is die lokprent vir Semi-Soet, wat in 2012 uitgereik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Esme ·

Die beste nuus wat ek vandag gelees het… of die week. Of die jaar. Was MAL semi-soet. Nee, IS mal oor Semi-Soet, Ek en my dogter het dit soveel kere gekyk, ons het ophou tel. Kan nie wag nie!!

fliek aanhanger ·

Kan nie wag nie, Het die fleik ook seker 100 keer gekyk!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.