Anel, Nico en kie weer saam op die grootskerm vir ‘Semi-Soet 2’

Die rolverdeling van 'Semi-Soet' destyds tydens die produksie van dié lokettreffer. Van links na regs agter: Paul du Toit, Diaan Lawrenson, Corinne du Toit, Louw Venter, Sandra Vaughn en Nico Panagio. Voor is James en Anel Alexander. James het help skryf aan dié fliek. (Foto: Facebook via Semi-Soet - Die Movie)

Die rolverdeling van ‘Semi-Soet’ destyds tydens die produksie van dié lokettreffer. Van links na regs agter: Paul du Toit, Diaan Lawrenson, Corinne du Toit, Louw Venter, Sandra Vaughn en Nico Panagio. Voor is James en Anel Alexander. James het help skryf aan dié fliek. (Foto: Facebook via Semi-Soet – Die Movie)

Byna agt jaar gelede het die aanvallige rooikop-aktrise, Anel Alexander, as die werkholis Jaci van Jaarsveld, en die sjarmante hartebreker, Nico Panagio, as die model JP Basson, in die romantiese komedie Semi-Soet fliekgangers in teaters landwyd laat snik en skater.

Nou word daar eersdaags ʼn tweede Semi-Soet-rolprent gemaak, en sal Alexander, Panagio én die res van die gesogte rolverdeling weer op hul pos wees om Afrikaanse fliekliefhebbers na fliekteaters te lok.

Volgens Sandra Vaughn, medeskrywer van Semi-Soet wat ook die rol van Karla Jordaan vertolk het, sal sy saam met Alexander, Panagio, Diaan Lawrenson, Louw Venter en Paul du Toit weer hul ou rolle in Semi-Soet 2 hervat.

Alexander en Vaughn sal saam met Corinne du Toit die skryfwerk vir die nuwe rolprent behartig. Volgens Vaughn is dit baie opwindend om die geliefde karakters van die suksesvolle eerste rolprent te laat herleef.

Van links na regs: Louw Venter, Paul du Toit, Sandra Vaughn, Anel Alexander, Diaan Lawrenson en Nico Panagio sal almal weer hul rolle hervat in die nuwe rolprent, 'Semi-Soet 2'. (Foto: Facebook via Sandra Vaughn)

Van links na regs: Louw Venter, Paul du Toit, Sandra Vaughn, Anel Alexander, Diaan Lawrenson en Nico Panagio sal almal weer hul rolle hervat in die nuwe rolprent, ‘Semi-Soet 2’. (Foto: Facebook via Sandra Vaughn)

“Die beplanning vir die fliek is gedoen en ons weet hoe lyk die wêreld waarin hulle leef. Ons weet ook wie die bykomende karakters gaan wees en ons gaan weer met dieselfde komedie en trant skryf,” sê sy in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Dit is egter nog nie bevestig presies wanneer die fliek op die grootskerm te siene sal wees nie, maar sy kon wel verklap dat dit nie vanjaar sal wees nie. “Anel en haar man, [die akteur] James Alexander, woon in die VSA en is onlangs terug soontoe.

“Sy sal egter weer Suid-Afrika toe kom wanneer ons met die skietproses vir die fliek begin. Gelukkig is sy al gesout daarin om tasse in en uit te pak, al haat sy dit net soveel soos ek,” vertel Vaughn.

Sy vertel hoewel hulle nooit van plan was om ʼn tweede Semi-Soet-fliek te vervaardig nie, het Alexander tydens haar onlangse besoek aan Suid-Afrika van plan verander en het die oorspronklike groep skrywers en akteurs in Kaapstad bymekaargekom om beplanning te doen.

Die plakkaat vir 'Semi-Soet', wat in 2012 uitgereik is. (Foto: Facebook via Semi-Soet - Die Movie)

Die plakkaat vir ‘Semi-Soet’, wat in 2012 uitgereik is. (Foto: Facebook via Semi-Soet – Die Movie)

“James en Anel was in die Kaap waar James besig was om te skiet aan die oorsese reeks Trackers vir HBO, en ek is ook in die Kaap, so dit was maklik om oor en weer koppe bymekaar te sit en lyf aan die nuwe storie te gee.”

Vaughn kon ook nog nie meer oor die storielyn van Semi-Soet 2 verklap nie. “Ek kan wel sê dit is nou agt jaar later en ons fokus dié keer meer op familie.”

Die eerste rolprent vertel die verhaal van Jaci van Jaarsveld (Alexander), ʼn selferkende werkholis, wat alles in haar vermoë sal doen om te keer dat die advertensiemaatskappy waarvoor sy werk, oorgeneem word deur ʼn genadelose sakeman bekend as ‘The Jackal’.

Haar enigste hoop is om ʼn groot kontrak los te slaan vir ʼn wynlandgoed wat hul wyne internasionaal wil bemark, maar die wynboer vereis dat die persoon wat sy wyn gaan bemark in ʼn gevestigde liefdesverhouding moet wees.

Uit desperaatheid besluit Jaci om ʼn model (Panagio) te huur om hom voor te doen as haar verloofde. Gevolglik neem sy aan dat die eerste aantreklike man wat by hulle kantoor instap deur die modelagentskap gestuur is.

Hier is die lokprent vir Semi-Soet, wat in 2012 uitgereik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Zettie ·

Ek is gek na SemiSoet – ek kyk dit tot vandag toe nog weer en weer. Ek hoop die 2de film gaan net so suksesvol wees soos nr. 1. Kan nie wag vir die vrystelling nie!!!!!

wielie ·

Asseblief roer julle … kan nie meer wag nie! Wees groter as die vark ,,,, en skryf daai movie !!

Agter die skerms ·

Bring hom Semi-Soet 2 – kan ook nie wag nie – Semi Soet 1 was net absoluut fantasties…

Rina Kotze ·

Dis nou baie goeie nuus!!!

My dogtertjie van 9 is net so erg oor die fliek as haar Mamma!

Kan nie wag nie, skryf en skiet gou sodat ons dit gou kan kyk!!!

Pantoffel ·

Aggenee! Ek dog Semisoet 2 wys al op die Grootskerm????
Kannie wag nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.