Arnold Vosloo oor SA en rol in ‘Griekwastad’

Arnold Vosloo (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Hoewel die internasionale rolprentakteur Arnold Vosloo jare gelede al Amerika sy tuiste gemaak het, meen hy daar is steeds iets van die Suid-Afrikaanse lug en die Afrikaanse taal wat vir hom soos “huis” voel.

Vosloo, wat in Suid-Afrika gebore is, is veral bekend vir sy rol as Imhotep in die bekende 1991-fliek, The Mummy en later, The Mummy Returns. Hy is tans terug in Suid-Afrika vir sy rol in die rolprent Griekwastad, wat sy première vandag op die Silwerskermfees in Kampsbaai het.

Vosloo het gesê die hoofrede hoekom hy ingestem het om die rol van kol. Dick de Waal in Griekwastad te vertolk, is oor sy liefde vir Afrikaans.

“Ek vertolk baie keer die rolle van Suid-Afrikaners in Engelse flieks, en dit is lekker, maar ek wou terugkom en in Afrikaans werk. Toe gebeur hierdie wonderlike ding genaamd Griekwastad, maar dit het vir my gegaan oor Afrikaans,” het die akteur tydens ʼn mediakonferensie in Kampsbaai gesê.

Vosloo is al voorheen genader om in Afrikaanse prente te speel, maar hy sê dit is tog belangrik dat die teks goed moet wees. “Die teks van Griekwastad is baie goed. ʼn Mens kan nie in ‘kommin’ Afrikaans werk nét om in Afrikaans te werk nie. Dis hoekom Griekwastad my goed gepas het,” het hy gesê.

Tracey Lange het die gesprek met Arnold Vosloo gelei (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Afrikaans is my moedertaal en as jy dink aan akteur-wees, is dít jou instrument: jou liggaam, jou oë, jou stem, jou emosies. Wanneer ek in Afrikaans praat is daar nie ʼn filter nie, maar met Engels is daar ʼn filter. Ek kan myself die beste uitdruk in Afrikaans – dit is ingeplant in my en dis deel van my emosies.”

Vosloo sê dit is nie net die taal nie, maar ook sy geboorteland, wat vir hom spesiaal is, en altyd sal bly.

“Die eerste ding wat ek gedoen het toe ek op OR Tambo Internasionale Lughawe geland het, was om ʼn Stoney-gemmerbier en ʼn Bar One-sjokolade te koop – dit is my gunstelinge. Ek mis my ma se kos, en sonsondergange.”

Arnold Vosloo in ‘The Mummy’

Die vreemde ding is dat as ek hier [in Suid-Afrika] wakker word, hoef ek nie die radio of televisie aan te skakel om te weet hoe die weer gaan lyk nie. Ek voel dit aan my lyf, ek is deel van dié plek, so ek kan dit aanvoel. In Amerika moet ek wel die televisie aansit, daar is ek ʼn vreemdeling.”

Vosloo het gesê hy sal daarvan hou om binne die volgende paar jaar meer tyd in Suid-Afrika deur te bring, met die oog daarop om vier of vyf maande van die jaar in Suid-Afrika te bly.

In die buiteland het Vosloo nie geweet van die opspraakwekkende Griekwastad-moorde nie, en het hy eers daarvan gehoor toe hy die teks vir Griekwastad lees.

“Toe ek vir my familie in Suid-Afrika vertel dat ek in die fliek gaan wees, het hulle almal geweet waarvan ek praat, so toe kon ek sien dit was ʼn groot storie.”

Arnold Vosloo (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Wat vir Vosloo veral aangegryp het van Griekwastad-moorde, is dat daar geen ander DNS in die Steenkamp-huis gevind is nie.

“Hoe is dit moontlik? Het hulle nie maats, familie of ʼn huishulp gehad nie? Die polisie het meer as 170 DNS-toetse gedoen in die huis, meer as ooit tevore, en hulle het niemand anders se DNS gekry nie. Net die ma, pa en twee kinders. Dis baie vreemd, so wat het gebeur in daardie pienk huis?”

Griekwastad, wat in Hopefield in die Wes-Kaap geskiet is, is die eerste Afrikaanse rolprent wat Vosloo in 32 jaar maak. In sy vorige een, Boetie gaan border toe, was hy maar net 21 jaar oud.

Vosloo sê hy wou nie die regte kol. Dick de Waal ontmoet nie omdat hy nie homself kon wegsteek nie. Hy wou wel in De Waal se kop klim, en dít kon hy regkry deur sorgvuldig deur De Waal se gedetailleerde dagboek en notas te werk.

Volgens Vosloo is Alex van Dyk, wat die rol van Don Steenkamp vertolk, uitgeknip vir die rol.

Tracey Lange het die gesprek met Arnold Vosloo gelei (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Hy is aan die een kant soos ʼn engel en die ander kant demonies – hy is mooi en lelik, alles tegelykertyd,” het Vosloo gesê.

Vosloo sê hy is oop daarvoor om nog Afrikaanse rolprente te maak, maar dat hy nie weet of hy sal kan nie. “Ek weet nie of ek hierdie fliek kan top nie, hierdie is ʼn bleddie goeie prent. Ons het hard gewerk en ons verdien ʼn goeie uitslag,” het hy gesê.

Die vervaardiging van Griekwastad was een van SCENE23 se eerste projekte. Deon Meyer, Tim Theron, Cobus van den Berg en Tracey Lange is die vervaardigers aan die stuur van dié produksiehuis en die fliek Griekwastad. Rolanda Marais vertolk die rol van Henriette de Waal, Dick se vrou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frank ·

Sien uit om dit te sien, veral ook omdat Arnold daarin is. Mooi om sy liefde vir sy land en taal te sien…

Kaptein ·

Ek dink jy misverstaan die konsep “al die geld in die wêreld”. Ek is seker jy doen meer vir minder elke maand ;-)

Lourens ·

Ek hou daarvan dat hy nie hou van kommin Afrikaans nie.
Ek probeer ook altyd om mý taal reg te gebruik.
Sukkel deesdae omdat ek op 10 Durban toe is, en op 24 Kaap toe, en steeds in die Kaap is. Die ingels en “capie” wil wil aanmekaar deurslaan.

Sonja Alberts ·

Sien baie uit om die fliek te sien is so lekker om te weet Arnold Vosloo sy tyd om in n Afrikaanse fliek te speel.Ek en my is verslaaf aan die Kyknet silwerskerm films is net jammer dit word sover gehou dit sowaar puik produksies!!!!Arnold jy’s n legend!!!Geniet jou kuiertjie in Suid-Afrika met n Barone en Stoney gemmerbier en jou Mamma se kos!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.