‘Avengers: Endgame’ gereed om rekords te laat spat

Avengers: Endgame gaan na verwagting rekords by die loket laat spat en resensente kan klaar ook nie uitgepraat raak daaroor nie.

Die wêreldpremière van dié rolprent het Maandagaand in Los Angeles plaasgevind. “Ek weet nie van julle nie, maar ek het iets soos ses keer gehuil, het Chris Evans, wat die rol van Captain America in die rolprent vertolk, tydens die première gesê. “Ek het meer as ses keer gehuil, Chris,” het Chris Hemsworth, wat die rol van Thor vertolk, bygevoeg.

Avengers: Endgame begin Donderdag in die VSA draai en Vrydag in Suid-Afrika. Endgame word as die afronding van 11 jaar en 22 rolprente in die reeks beskou. Dit het begin met Iron Man in 2008 en bring die reeks tot ʼn einde ná verlede jaar se Avengers: Infinity War toe Thanos die helfte van die heelal verwoes het.

Akteurs van al die vorige rolprente sowel as Avengers: Endgame was by die première op die rooi tapyt.

Mense wat reeds die rolprent gesien het, gebruik die woorde “epies”, “emosioneel” en “verstommend” om dit mee te beskryf.

Daar word intussen verwag dat Avengers: Endgame soveel as $1 miljard in sy eerste week kan verdien. Die rolprent is net meer as drie uur lank.

Avengers: Infinity War, wat twee uur en 29 minute lank is, hou tans die rekord vir die grootste openingsnaweek nadat dit $640 miljoen wêreldwyd verdien het. Die rolprent het uiteindelik meer as $2 miljard verdien.

Van die resensente het Endgame as volg beskryf:

The New York Times se Dave Itzkoff het geskryf hy was “nie voorbereid op die verskeidenheid emosies wat #Endgame veroorsaak het nie, van absolute wanhoop tot suiwer vreugde”.

Entertainment Weekly se Anthony Breznican het bygevoeg: “Epies is die woord. Epies vermenigvuldig met ʼn dekade van emosie en opwinding. Dit het my hart volgemaak.”

People-tydskrif se Kara Warner het gesê: “Sien dit so gou as moontlik.”

Hier is die amptelike lokprent vir Avengers: Endgame:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MARVEL FAN ·

Ek en my verloofde het gisteraand dit gaan fliek…

En WOW…

Dit was die beste fliek wat ek in my hele lewe gesien het.

Dit was epies, ongelooflik, fantasties…

My brein probeer nog hestel na dit want dit was ‘n absolute meesterstuk.

Gaan kyk dit beslis, julle lewe sal verander vir die beter, gewaarborg.
Ek sal geld wed dat dit die fliek is wat alle rekords laat spat!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.