Barnard-biografie gaan eersdaags silwerdoek toe

Author-James-Brent-Styan-and-Film-Producer-Anant-Singh

James-Brent Styan (links) en Anant Singh (regs). (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse fliekvervaardiger Anant Singh en sy vervaardigingsmaatskappy, Videovision Entertainment, het die filmregte tot die nuwe Chris Barnard-biografie, Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanting, bekom.

Die boek is geskryf deur James-Brent Styan en die publikasie daarvan val saam met die 50ste herdenking van die eerste hartoorplanting wat uitgevoer is deur dié pionier-chirurg.

“Ek was nog altyd gefassineer deur Chris Barnard se storie,” het Singh luidens ʼn verklaring gesê. “Ek was 11 jaar oud toe die eerste hartoorplanting uitgevoer is en ek onthou die media-herrie wat daardie naweek losgebars het. Apartheid was toe ook in sy piektyd en dit verskaf ʼn uitsonderlike agtergrond.”

Singh het gesê Barnard se lewe was gevul met talle dramatiese kinkels en kabels en dit sorg vir ʼn “perfekte filmreis”. “Hy was ʼn fassinerende Suid-Afrikaanse karakter, ʼn wêreldwye bekende met ʼn nederige begin. Styan het ʼn uitstekende boek geskep om met lesers te deel en dit is ʼn goeie basis vir ʼn fliek om ontwikkel te word. Hy het dit gedoen met behulp van baie van Barnard se familielede.”

Styan het luidens die verklaring gesê hy onthou hoe hy gekyk het hoe die nuwe Christiaan Barnard-hospitaal opgerig word en gedink het hy weet eintlik so min van Barnard. “Ek het begin oplees oor sy lewe. Wat gevolg het was ʼn jaar en ʼn half se navorsing waar ek ingesuig is deur die ongelooflike storie van ʼn man wat waarskynlik die mees bekende dokter wat die wêreld nog gesien het, geword het.”

Volgens Styan voel hy geëerd deur Singh se belangstelling en opgewondenheid oor die verfilming van sy storie. “Hierdie ooreenkoms is ʼn droom wat bewaarheid is in elke sin van die woord,” het hy gesê. “In realiteit bly dit egter steeds die storie van Chris Barnard en ek was net gelukkig genoeg om dit te herontdek. Dit is ʼn storie wat vir seker gehore reg oor die wêreld gaan verstom en prikkel. Op die einde van die dag is dit ʼn groot avontuur.”

Van die mees bekende Suid-Afrikaanse flieks is deur Videovision Entertainment vervaardig, onder meer Cry the Beloved Country, Sarafina! en A Place of Weeping. So ook Yesterday, die eerste Suid-Afrikaanse fliek wat ʼn Oscar-nominasie ontvang het, en Mandela: Long Walk to Freedom, wat ook vir ʼn Oscar genomineer is.

Die ooreenkoms tussen Singh en Styan is in Kaapstad gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Justice ·

Hoop die waarheid oor die seun ”Jnr” gaan uitkom deur die verfilming.
Hy is veronderstel om sy pa se legacy te bou maar hy doen soveel mense in.
Wonder hoekom hy meer in Switserland is as SA.
Die wiel draai……Chris Jnr

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.