Bekendes skitter by die ‘Sonskyn Beperk’-bekendstelling

Stefan Ludik en Anelle Bester. Foto: Cyril Blackburn

Stefan Ludik en Anelle Bester. Foto: Cyril Blackburn

Die nuwe Afrikaanse fliek, Sonskyn Beperk, vertel die storie van ’n vurige Anya wat ná drie jaar in New York terugkeer Suid-Afrika toe om haar pa by te staan en die ondergang van hul familieplaas te probeer voorkom.

Die amptelike première vir dié fliek het 25 Februarie in Centurion plaasgevind. Die regisseur en vervaardiger, Maynard Kraak, wat ook verantwoordelik was vir flieks soos Knysna en Vrou Soek Boer, het dié keer kragte saam met die skrywer Amy Jephta gesnoer om ’n eg Suid-Afrikaanse storie na die grootskerm te bring.

Anelle Bester, wat die rol van Anya vertolk, het op haar Instagram-blad geskryf dié fliek is ’n droom wat bewaarheid is. Sy was saam met die akteur en sanger Stefan Ludik by die fliekpremière.

In die fliek moet Anya en haar pa, Marius (André Roothman), gou speel om hul familieplaas, Sonskyn Beperk, te red van ondergang. Hulle tyd is min, en die feit dat kommunikasie verbrokkel het tussen die twee hardkoppige vuurvreters, maak dit ’n opdraande stryd vir pa én dogter. Marius het wel ’n plan om die plaas van ondergang te red, maar wanneer Anya agterkom wat dit is, moet sy nog oortuig word dat dit die pad is om te loop.

Aan die ander kant van die sosio-ekonomiese landskap is daar die pierrewaaier-rokjagter Ruan (Neels van Jaarsveld) wat van sy plek in die familiebrouery ontneem kan word, juis omdat sy kop nie altyd by sake is nie. Die vonke spat behoorlik tussen dié twee karakters.

Sterre by die première het onder andere die gewilde ontwerper Diaan Daniels en Brendan Peyper ingesluit. Die rolverdeling sluit ook Vere Tindale, Peter Butler, Clara Joubert en Tim Theron in.

Sonskyn Beperk is vanaf 11 Maart in teaters landwyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.