Bekroonde jeugboek binnekort ’n fliek

Anoeschka von Meck Foto verskaf aan Maroela Media deur NB Uitgewers

Anoeschka von Meck Foto verskaf aan Maroela Media deur NB Uitgewers

Die vervaardiging van ’n rolprent gebaseer op Anoeschka von Meck se bekroonde jeugboek Vaselinetjie (Tafelberg) begin eersdaags. Boonop sal ’n tweede toneelstuk van die boek binnekort op die planke wees.

Karen Meiring, M-Net se direkteur van Afrikaanse Kanale, het dié aankondiging onlangs by die bekendstelling van die Nasionale Toneelspelkompetisie 2015 in Kaapstad gemaak. Die draaiboekverwerking van die roman word gedoen deur Corné Van Rooyen, wat ook die bekroonde film Hollywood in my huis geskryf het. Die produksiespan en vervaardiger sal later aangekondig word.

Boonop is altesaam 12 leerders wat aan die 2014-toneelkompetisie deelgeneem het, gekies om saam met vier professionele akteurs in die tweede verhoogproduksie van Vaselinetjie op te tree. Shirley Ellis behartig die regie. Die stuk debuteer volgende jaar by die Stellenbosch Woordfees en sal daarna ook by Kunstekaap opgevoer word. kykNET, RSG en die Woordfees ondersteun hierdie projek.

Vaselinetjie, uitgegee in 2004, het ook in 2009 in Engels as My name is Vaselintjie verskyn en is tans voorgeskryf in Wes-Kaapse skole. Die boek is onder meer met die Rapport/Jan Rabie-prys, die M-Netprys en die ATKV-prys bekroon.

Vaselinetjie MET PLAKKERVaselinetjie
Deur: Anoeschka von Meck
Uitgewer: Tafelberg

Rapport/Jan Rabie-prys (2005)
MER-prys vir jeugliteratuur (2005)
M-Net-prys vir ’n Afrikaanse teks in kort formaat (2005)
ATKV-prys vir graad 8-10 (2006)

Sy is Helena Bosman van ’n piepklein dorpie doer ver in die Noord-Kaap, maar Oupa en Oumie noem haar sommer Vaselinetjie. Sy is hulle veldbosengeltjie, hulle hart se punt. Tot Vaselinetjie tien jaar oud is en die Welsyn haar laat wegstuur na die kosskool in Gauteng – die weeshuis waar Madiba se weggooikinders bly.

Dis ’n vreemde, harde, gevaarlike wêreld van skomgatkinders, kwaai huistannies en ’n hardvogtige, onregverdige koshuisvader; van entjies rook, hare laat afskeer en planne maak om te whallap. Waar niemand oor jou traak nie, en waar jy ook leer om oor niemand te traak nie.

Maar, soos die maande jare word, kruis een naam telkens Vaselinetjie se pad: Texan Kirby. En daardie naam loop reguit na haar hart.

Vaselinetjie het in 2004 in Afrikaans verskyn. IBBY het dit in 2006 op sy Ererol geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.