Beplande kortfliekprojek werp lig op plaasaanvalle

(Foto: Verskaf)

Wat gebeur met die verwoesting wat in plaashuise gesaai is nadat ʼn boer, sy vrou of ʼn gesin op wreedaardige wyse aangeval of vermoor is? Hoe sal dit jóú raak as jy die skoonmaker is wat die toneel moet gaan skoonmaak?

Dít is die kernvrae wat Dian Weys, skrywer en regisseur van Plaashuis, in sy beplande kortfliek oor plaasaanvalle ondersoek. Weys en sy span het reeds die helfte van hul begrotingsbedrag deur middel van skarebefondsing ingesamel.

“Gehore word aangemoedig om self te besluit hoe hulle oor hierdie kwessie voel. Die fliek is dus nie voorskriftelik of prekerig nie,” verduidelik hy.

Weys het BCom Regte en honneursgrade in Engels, asook film- en mediastudies, aan die Universiteit van die Vrystaat met lof behaal. Daarna het hy ook ʼn meestersgraad onder leiding van Martin Botha aan die Universiteit van Kaapstad met lof geslaag. Weys is die skrywer en regisseur van die kortfliek Versnel wat in 2017 toekennings vir beste film en draaiboek in die kort-kortfilmkategorie by kykNET se Silwerskermfees gewen het. Versnel het sedertdien by 15 filmfeeste gewys, waaronder vyf Oscar-kwalifiserende feeste.

In sy jongste kortfliek speel al die gebeure in ʼn plaashuis af. Vir baie mense is dit ʼn plek van samesyn en geselligheid, maar terselfdertyd kan dit in ʼn gruwelike en wreedaardige toneel verander.

Weys sê dat hy doelbewus nie op die grusaamheid van aanvalle fokus nie. Sy aanslag is gestroop van politieke agendas en is nie bedoel om sensasie na te jaag nie.

“Dit is uit respek vir diegene wat werklik op ʼn plaas aangeval is dat dié kortfliek eerder fokus op wat ná die aanval of moord gebeur.”

Plaashuis vertel die verhaal van ʼn vrou wat aan die inwoners van haar dorp skoonmaakdienste verskaf. Nadat sy ʼn oproep ontvang en gevra word om ʼn plaasmoordtoneel skoon te maak, vra sy haar vriendin om haar te help.

Gedurende die skoonmaakproses word die twee vroue nie net met die stille getuienis van ʼn plaasmoord gekonfronteer nie, maar ook wat dit werklik beteken om verantwoordelikheid vir hul medemens te neem.

Martelize Kolver en Nicola Hanekom het ingestem om die rolle van die twee vroue te vertolk en Albert Pretorius sal na verwagting die boer van ʼn aangrensende plaas speel.

“Ek dink Dian het ongelooflike integriteit in sy benadering tot dié kwessie,” sê Hanekom. “Hy is iemand wat insig kry, nie net deur navorsing nie, maar ook deur sy medemenslikheid.”

Hanekom beskryf Weys se teks as “sensitief en aangrypend” en sy voel sterk daaroor dat die fliek gemaak moet word.

Dian Weys, skrywer en regisseur van die kortfliek “Plaashuis” (Foto: Lourens Badenhorst)

Weys onthou dat hy ongeveer vyf jaar gelede Carla van der Spuy se boek oor plaasmoorde gelees het en dat dit hom op ʼn ontstellende wyse gemotiveer het om die draaiboek te skryf.

“In Plaasmoorde: Slagoffers vertel self is daar ʼn storie waar die bure ná ʼn gruwelike plaasaanval ʼn plaashuis gaan skoonmaak het,” vertel hy. “Die idee dat jou bure die ontstellende werk doen sodat jy dit nie hoef te doen nie, was vir my baie aangrypend.”

Hy het daarna onderhoude gevoer met vroue van die dorp wat in Van der Spuy se boek vertel hoe hulle self plaasmoordtonele skoongemaak het en die kortfilmdraaiboek het van daar af ontwikkel.

Dit is belangrik dat die onderwerp op ʼn verantwoordelike wyse benader word, veral omdat dit so ʼn sensitiewe en verpolitiseerde kwessie is, vertel Weys.

“Ek stem ook nie saam met hoe die meeste films geweld voorstel nie. Geweld is nie vermaak in die werklike lewe nie, maar eerder traumaties en ontstellend. Boonop word ons as gehoor ook selde gekonfronteer met wat ná die geweld plaasvind.”

Ondersteun die projek

Die vervaardiging van Plaashuis beloop ongeveer R200 000, daarom het Weys en sy span besluit om ʼn skarefinansieringsveldtog te begin. Sedertdien het die projek daarin geslaag om die helfte daarvan in te samel.

Die produksiekoste sluit die volgende uitgawes in:

  • Huur van die kamera-, klank- en beligtingstoerusting
  • Produksie-ontwerp
  • Huur van die perseel
  • Vervoer na die plaas
  • Verblyf en etes vir die skiettydperk van drie dae
  • Video- en klankredigering
  • Versekering en belastinguitgawes

Weys benadruk dat hy en sy vervaardigers geen salaris ontvang nie, maar dat hulle graag die res van die filmspan wil vergoed.

“Die koronavirus het die kunsbedryf, nes ander bedrywe, op sy knieë gedwing. As ek ten minste die tegnici kan betaal, sal dit ongelooflik baie beteken.”

Kykers en ondersteuners kan die kortfliekprojek ondersteun deur ʼn bydrae op Plaashuis se webwerf te maak. Daar is nie ʼn minimum of maksimum bedrag vir bydraes nie. Besoek ook hul Facebook-blad vir meer inligting of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Kyk hier na Plaashuis se lokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Pieter

Wat gaan dit help. Die hele klomp wil eerder monumente verwyder as om te fokus op moorder op boere. Die rassiste van anc en eff.