Bertha le Roux-Wahl oor geliefkoosde ‘Emma’, geloof en ma-wees

Bertha le Roux-Wahl. (Foto: Bertha le Roux-Wahl/Facebook)

In 2014 het Bertha le Roux-Wahl eindelik haar bekende 7de Laan-karakter, Emma, vaarwel geroep. ʼn Geloofstap, as sy vandag daaraan terugdink, en een waaroor sy nie ʼn oomblik spyt is nie.

Bertha is tans te siene in die Netflix-rolprent, The Kings of Mulberry Street: Let Love Reign, wat tydens die 1990’s in Durban afspeel. Dit is die tweede aflewering van dié rolprentreeks nadat The Kings of Mulberry Street in 2019 uitgereik is.

Die gesinskomedie handel oor twee kinders se aksiebelaaide avontuur. Bertha vertolk die rol van Nancy, ʼn liefdesbelangstelling vir Dev Singh, een van die hoofkarakters, Baboo, se pa.

Sy sê die verfilming van die rolprent was ʼn wonderlike belewenis. Sy onthou veral die dag toe hulle oortyd moes werk en die vrou in wie se huis hulle daardie dag geskiet het vir die hele verfilmingspan ʼn reusepot hoenderbriyani voorberei het.

“Dit was ʼn heerlike kultuurervaring.

“Ons is almal eintlik deel van mekaar. Dit is iets wat in my gemeenskap ook sou gebeur, glo ek.”

Bertha het jare gelede bekendheid verwerf met haar vurige rooi hare en sagmoedige gees met die gewilde karakter, Emma. Sy praat vandag nog oor dié karakter asof sy ʼn familievriendin is wie se foto nog vir jare teen die Wahl-huishouding se muur sal pryk.

Bertha is in 2019 vir ʼn kort wyle terug 7de Laan toe om Emma se storie amptelik af te sluit. Toe sy Emma eindelik moes groet, het sy vrede in haar hart gehad. Haar karakter het dan gegroei, vertel Bertha. Vergete is die dae waar sy op almal rondom haar moes staatmaak, ten einde van sake het Emma op haar eie twee voete gestaan.

Dit was tog ʼn moeilike totsiens, vertel Bertha. Daar was immers nie werk wat vir haar gewag het nadat sy die deure van die 7de Laan-stel agter haar laat toegaan het nie.

Bertha met haar terugkeer na ‘7de Laan’ in 2019. (Foto: Bertha le Roux-Wahl/Facebook)

Dit is juis op dié einste dag wat haar die grondslag van haar vertrouensverhouding met die Here verhard en versterk het.

Sy het kort daarna as omroeper by Radio Kansel begin werk en het geweet, wat sy nodig het sal die Here aan haar toevertrou.

“Elke keer wanneer ek regtig móés werk, wanneer dit geldelik noodsaaklik was, het werk oor my pad gekom.

“Dit is God se voorsiening,” getuig sy.

Sy erken ook dat sonder die Here is haar pad een vol stof, moeilike draaie en heuwels wat blyk om onoorkombaar te wees.

Wanneer ʼn droom in jou hart begin blom of ʼn plan in jou kop begin nesskrop, kom dit net van een plek af, glo Bertha. Dit is die Here wat iets in jou skoot kom lê.

“Hy is in hierdie wonderbaarlike maniere altyd besig om met jou hart te praat en met jou gedagtes te woeker.”

Bertha erken dat sy ʼn selfstandige mens is wat soms ook hardkoppig is. ʼn Regte hardekwas, soos wat sy dit beskryf. Om dit wat haar kwel, haar hart angstig aan die klop hou en haar bekommer, vir die Here te gee, is dikwels vir haar ʼn moeilike stap om te neem.

Tog glo sy dat dit juis is wat mens móét doen.

“Elke keer wat die Heilige Gees jou herinner om jou bekommernisse vir Jesus te gee, wees gehoorsaam en doen dit.”

En wanneer daardie bekommernisse voor God se voete neergelê is, behoort jy nie terug te draai en dit weer op jou skouers laai nie, glo Bertha.

“Dit is nie hierdie fisieke aksie van die duiwel wat voor jou deur opdaag, die klokkie lui en jou bekommernisse aan jou terugbesorg nie. Dit gebeur stelselmatig. Jy moet jouself daaraan herinner om nie dinge terug te vat wat jy reeds vir die Here gegee het nie.”

Met dié onwrikbare geloof in die Here se genade en getrouheid, glo Bertha nie daarin om op haar louere te rus nie. Selfs al gee sy die dinge wat haar kwel oor, beteken dit nie dat harde werk nie meer vir haar beskore is nie.

“Ek is in 1975 gebore, maar bly jonk in my hart,” kom die antwoord maklik oor haar ouderdom. “My ma sê altyd jy is so oud soos wat jy voel. In daardie geval is ek ʼn vreugdevolle 25-jarige.”

Bertha is ook die ma van twee tienerdogters, die 16-jarige Kiana en die 12-jarige Brioné. Met elke nuwe lewensjaar van haar twee kinders, leer Bertha iets nuut oor haarself en oor die verhoudings wat tussen ouer en kind gesmee word.

Een van die moeilikste dinge, vertel sy, is om terug te staan en haar kinders toe te laat om hul eie lewenspad te loop. Selfs al maak hulle foute en selfs al voel sy die druk om in te gryp op haar hart en skouers rus.

“Jy wil nie hê dat hulle moet seerkry nie, maar mens moet hulle soms toelaat om self te verken. Die lewe werk nie altyd vir almal uit soos wat dit vir my uitgewerk het nie.”

Sy erken dat, alhoewel daar ʼn stewige grondslag van norme, waardes en reëls deur haar hele huishouding vloei, sy haar twee dogters op twee verskillende maniere hanteer.

Uit die verhoudings wat sy met haar dogters gesmee het, veral noudat hulle ouer is, het sy ook ʼn paar lesse oor haar verhouding met die Here geleer.

“Soos wat ek op verskillende maniere met hulle praat, praat die Here op verskillende maniere met ons.

“Hy is ʼn God van genade en geduld. Elke oomblik van die dag wag Hy vir jou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.