Beste flieks van die dekade

Die rolprent-en-televisiewebwerf IMDb het onlangs sy lys van die 10 beste flieks van die dekade bekend gemaak. Fliekvlooie kon op dié gesogte webwerf stem vir hul gunstelinge.

Let wel: Die lokprente is nie noodwendig geskik vir kinders of sensitiewe kykers nie. Maak eers seker van die fliek se ouderdomsbeperking voor jy na die lokprent kyk.

  1. The Dark Knight Rises (2012)

Anne Hathaway as Selina in 'The Dark Knight Rises'. (Foto: IDMb)

Anne Hathaway as Selina in ‘The Dark Knight Rises’. (Foto: IMDb)

Talle aanhangers kies The Dark Knight as een van die beste strokiesprentboek-aanpassings vir die silwerdoek. Dié fliek bewys dat ʼn superheldfliek sy skoene kan volstaan teenoor enige ander genre.

Die finale aflewering in regisseur Christopher Nolan se trilogie het gepoog om Batman se verhaal af te sluit. Aanhangers op IMDb het dit ʼn 8.4-gradering gegee, die 10de beste van enige groot vrystelling die afgelope dekade.

  1. Marriage Story (2019)

Scarlet Johansson en Adam Driver in 'Marriage Story'. (Foto: IMDb)

Scarlet Johansson en Adam Driver in ‘Marriage Story’. (Foto: IMDb)

Adam Driver en Scarlett Johansson is albei benoem vir ʼn Golden Globe vir hul rolle in dié Noah Baumbach-rolprent.

Die fliek handel oor ʼn paartjie wat deur ʼn egskeiding gaan terwyl hul geliefde kind in die middel vasgevang raak. Die fliek het aanvanklik ʼn 8.5-gradering op die IMDb-webwerf gehad, maar is intussen afgegradeer na 8.4.

  1. Spider-Man: Into the Spider-verse (2018)

Spider-Man: Into the Spider-verse

‘n Toneel uit die animasieprent ‘Spider-Man: Into the Spider-verse’. (Foto: IMDb)

Dié animasieprent het ʼn 8.4-gradering deur IMDb-gebruikers gekry. Spider-Man: Into the Spider-verse is gebaseer op die bekende Marvel Comics-karakter. In die rolprent is Miles Morales die regte held terwyl Peter Parker die onwillige handlanger is.

  1. The Intouchables (2011)

François Cluzet en Omar Sy in 'The Intouchables'. (Foto: IMDb)

François Cluzet en Omar Sy in ‘The Intouchables’. (Foto: IMDb)

The Intouchables vertel die ware verhaal van ʼn ryk paraplegiese man wat ʼn jong man aanstel om na hom om te sien.

Dié Franse rolprent, met Francois Cluzet as Philippe, het ʼn 8.5-gradering op IMDb gekry uit 700 000 stemme. Die fliek het verskeie fliektoekennings wêreldwyd verower, maar was nie op die kortlys vir die Oscars nie.

  1. Whiplash (2014)

J.K. Simmons en Miles Teller in 'Whiplash'. (Foto: IMDb)

J.K. Simmons en Miles Teller in ‘Whiplash’. (Foto: IMDb)

Whiplash is ʼn kleiner, onafhanklike rolprent wat ʼn liefling geword het onder kritici en uiteindelik sy pad gebaan het tot by die Oscars.

Damien Chazelle is die regisseur van die fliek, terwyl Miles Teller die rol van die jong tromspeler vertolk wat by ʼn konservatorium aansluit en ʼn mentor (J.K. Simmons) vind wat hom harder druk as enigiemand ooit tevore.

Die fliek is met vyf Oscar-benoemings vereer. Simmons is met die goue beeldjie vir beste mansbyspeler huis toe. Die fliek het ʼn 8.5-gradering gekry op IMDb.

  1. Avengers: Infinity War (2018)

Robert Downey Jr., Mark Ruffalo, Benedict Wong en Benedict Cumberbatch in 'Avengers: Infinity War'. (Foto: IMDb)

Robert Downey Jr., Mark Ruffalo, Benedict Wong en Benedict Cumberbatch in ‘Avengers: Infinity War’. (Foto: IMDb)

Die fliek, wat meer as ʼn miljard dollar by die Amerikaanse loket ingeoes het, het ʼn 8.5-gradering gekry op IMDb.

In dié Marvel-fliek daag Thanos op en begin die helfte van die aardbol uitwis.

  1. Avengers: Endgame (2019)

Jeremy Renner, Paul Rudd en Karen Gillan in 'Avengers: Endgame'. (Foto: IMDb)

Jeremy Renner, Paul Rudd en Karen Gillan in ‘Avengers: Endgame’. (Foto: IMDb)

Endgame het effens beter gevaar as Infinity War. Terwyl die eerste rolprent slegs ʼn gedeelte van die storie vertel, het die tweede aflewering vanjaar die storie afgesluit.

Die fliek het ʼn 8.5-gradering op IMDb gekry.

  1. Interstellar (2014)

Jessica Chastain in 'Interstellar'. (Foto: IMDb)

Jessica Chastain in ‘Interstellar’. (Foto: IMDb)

Christopher Nolan het dié rolprent se regie behartig. Net soos met die laaste Batman-fliek, het aanhangers gevoel Nolan het hulle met ʼn teleurstellende einde vir dié fliek gelaat.

Die wetenskapsfiksierolprent, met Matthew McConaughey, handel oor ʼn span wat deur ʼn wurmgat in die ruimte probeer om die Aarde te red. IMDb-gebruikers het dit ʼn gradering van 8.6 gegee.

  1. Joker (2019)

Joaquin Phoenix in 'Joker'. (Foto: IMDb)

Joaquin Phoenix in ‘Joker’. (Foto: IMDb)

Vele aanhangers van die rolprent het dit beskryf as ʼn briljante kykie na geestesgesondheid deur ʼn karakter wat almal ken, terwyl ander gemeen het die fliek is vlak.

Almal het dit egter eens dat Joaquin Phoenix fantasties is in sy rol as Joker en dat hy elke toekenningsbenoeming verdien. Phoenix is onder meer benoem vir ʼn Golden Globe.

Joker het ʼn gradering van 8.7 op IMDb gekry.

  1. Inception (2010)

Leonardo DiCaprio, Joseph Gordon-Levitt en Tom Hardy in 'Inception'. (Foto: IMDb)

Leonardo DiCaprio, Joseph Gordon-Levitt en Tom Hardy in ‘Inception’. (Foto: IMDb)

Christopher Nolan was die regisseur van dié wetenskapsfiksierolprent met Leonardo DiCaprio, Joseph Gordon-Levitt en Michael Caine.

Die fliek speel meestal af in mense se drome, waar enigiets en alles kan gebeur. Dit word beskou as  die mees kreatiewe rolprentkonsep sedert The Matrix en meer as 1,8 miljoen fliekvlooie het die rolprent ʼn 8.8-gradering gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.