Blapse, onvergeetlike oomblikke: Die Oscars in foto’s

Mahershala Ali, Emma Stone, Viola Davis en Casey Affleck (Foto: Oscars)

Mahershala Ali, Emma Stone, Viola Davis en Casey Affleck (Foto: Oscars)

In sekerlik een van die ongemaklikste oomblikke in die geskiedenis van die Oscar-toekennings, het die Amerikaanse veteraan-akteur Warren Beatty gisteraand die verkeerde rolprent as die wenner in die beste rolprent van die jaar-kategorie aangewys.

Die internet is behoorlik aan die gons oor Beatty se flater toe hy die fliek La La Land Sondagaand (internasionale tyd) tydens die 89ste Oscar-toekennings verkeerdelik as die wenner van die beste rolprent van die jaar-kategorie aangewys het.

Die hele span, onder wie die akteurs en vervaardigers, het byna hul toesprake afgehandel toe Jordan Horowitz, die vervaardiger van La La Land, na die mikrofoon teruggedraai het om te sê die fliek Moonlight was die eintlike wenner.

Beatty het aan ABC News vertel hy het glo Emma Stone, wat ʼn hoofrol in La La Land vertolk, se naam op die papiertjie gesien en daarom gedink dat dié fliek die wenner is.

Die beeldjie is aan Moonlight oorhandig in ʼn oomblik wat as Oscar-geskiedenis beskryf word.

Die sterre van La La Land, Ryan Gosling Emma Stone. Foto: Chris Pizzello/Invision/AP

Die sterre van La La Land, Ryan Gosling Emma Stone. Foto: Chris Pizzello/Invision/AP

Die musiekrolprent La La Land het nietemin met ses beeldjies weggewals. Emma Stone het haar eerste Oscar gewen toe sy as beste aktrise vereer is vir haar vertolking in dié fliek wat 14 benoemings ontvang het. Die enigste twee ander flieks wat in die geskiedenis van die Oscars vantevore 14 benoemings ontvang het, was Titanic en All about Eve.

Ander onvergeetlike oomblikke tydens die aand is toe Meryl Streep met ʼn staande applous toegejuig is vir haar 20ste Oscar-benoeming. Sy het nie die aand met ʼn beeldjie weggestap nie, maar is wyd geprys vir haar uitgesprokenheid teenoor president Donald Trump.

Die Amerikaanse sangeres Sara Bareilles het ook ʼn huldeblyk aan groot name van die musiekbedryf wat verlede jaar oorlede is, gelewer. Sy het haar weergawe van die Joni Mitchell-liedjie “Both sides now” gesing.

Vir meer inligting, besoek die Oscars se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Penellope Jones ·

Die grootste vraag is hoekom daar twee koeverte was met verskillende wenners se name?

Truidie ·

Hulle het dit per ongeluk met die koevert vir beste aktrise omgeruil.

Rupert Ashford ·

Nee, die grootste vraag is hoekom so ‘n ophef maak oor ou Meryl Strip as sy niks gewen het nie.

A ·

Ek is nogals teleurgesteld in die klere en kleure. Die mense lyk maar vaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.