Bosch-egpaar eersdaags weer saam op die silwerdoek

Thys & TrixThys & Trix, die skreeusnaakse aksiekomedie met Leandie du Randt Bosch en Bouwer Bosch in die hoofrolle, se lokprent is van vandag af aanlyn te sien.

Thys en Trix is broer en suster en ook ywerige, maar onbeholpe, polisiebeamptes. Thys is ’n bedagsame knoeier en Trix ’n ongeskikte, sexy rabbedoe. Hul onderlangse twis en die feit dat hulle van kleins af sukkel om as ’n span saam te werk, veroorsaak dat hulle geskors word nadat hulle die polisiediens een keer te veel in die verleentheid stel.

Speurder Solomons, ’n gesoute en passievolle speurder, ondersoek die bedrywighede van ’n dwelm-sindikaat in ’n hoogs onwaarskynlike plek – ʼn eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai.

Daar is egter een probleem: Solomons gaan sukkel om in te pas in die landgoed en vanweë hulle “vanilla-voorkoms” word Thys en Trix vir die eerste keer uitgesonder as die bekwaamste span om ’n ondersoek te lei, of eerder te laat ly. Solomons sal hulle vergesel, maar is glad nie ingenome met die feit dat hy die dienskneg gaan wees nie.

Trix besef dit is haar laaste kans om haarself as ’n bekwame polisiebeampte te bewys. Thys weet dit is sy laaste kans om die moeilike verhouding met sy suster te red, maar die feit dat hulle moet voorgee om ’n getroude paartjie te wees om die ondersoek geloofwaardig te maak, bemoeilik die situasie, dikwels met onverwagse, verreikende en komieklike gevolge.

Leandie du Randt Bosch, Brendon Daniels en Bouwer Bosch.

Leandie du Randt Bosch, Brendon Daniels en Bouwer Bosch.

Kragpaar Chandré en haar katelknapie, André; die gay kunshandelaars, Stephán en Gerhárd; hippie-swingers, Ben en June; en die lieflike jong weduwee, Heidi; is Thys, Trix en Solomons se nuwe bure.

Hierdie groepie kleurvolle karakters van Pelican Close in Pinnacle Point is glad nie wat ’n mens sal verwag van luukse landgoedbewoners nie. Is enige van hulle moontlik betrokke by die vervaardiging en verspreiding van MTHC, ’n verlammende hallusineringsmiddel?

Die rolverdeling sluit in Brendon Daniels, Zak Hendrikz, Dorette Potgieter, Charlie Bouguenon, Deon Coetzee, Ivan Zimmerman, Chanelle de Jager en onlangse Sama-wenner Carine Rous.

Die fliek word vervaardig onder leiding van Danie Bester van The Film Factory en die regie is behartig deur die bekroonde regisseur Quintin Krog van Vir Die Voëls en Ballade vir ’n Enkeling.

Thys & Trix word landwyd op 22 Junie deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik. GrootFM is die trotse mediavennoot van die fliek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Ek wil bitter graag Afrikaanse polisiemanne en -vroue sien. Ek sal dit gaan kyk.

Eltay ·

sal nooit ooit weer hierdie polities korrekte meneertjie ondersteun nie. Wil mos so graag namens witmense omverskoning vra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.