Bram Fischer-fliek eersdaags op die grootskerm

Willie Esterhuizen en Morné Visser. (Foto: Verskaf)

Willie Esterhuizen en Morné Visser. (Foto: Verskaf)

An act of defiance – die storie van Bram Fischer, met gesoute Afrikaanse akteurs soos Antoinette Louw, Morné Visser, Willie Esterhuizen en Izel Bezuidenhout, open Vrydag 26 April in fliekteaters landwyd.

Hoewel die rolprent ʼn gemengde titel het, is die fliek oorwegend Afrikaans en is dit in samewerking met die Nederlandse produksiemaatskappy, Richard Claus & Co, vervaardig.

Die Nederlandse akteur Peter Paul Muller vertolk die rol van Bram Fischer en is die enigste Nederlandse akteur wat deel van die rolverdeling is. Sello Motlong, bekend as Generations-akteur, vertolk die rol van Nelson Mandela en is die eerste Suid-Afrikaner wat die rol van Mandela in ʼn speelfilm vertolk.

Antoinette Louw, bekend vir haar rolle in Die Laaste Tango en Swartwater, word gesien as Molly Fischer. Izel Bezuidenhout, bekend vir haar rolle in Dis ek, Anna en Agent 2000, en Morné Visser wat ook in Dis ek, Anna gespeel het, is ook in dié rolprent te sien. Die regie is deur Jean van de Velde behartig.

Die fliek vertel die verhaal van hoe Mandela tydens die Rivonia-verhoor in 1963 van die doodstraf gered is. Op ʼn wintersdag in Julie 1963, word ʼn polisieklopjag op ʼn plaas aan die buitewyke van Johannesburg uitgevoer. Nege swart en wit leiers van die verbode ANC en Umkhonto we Sizwe (the Spear of the Nation) word in hegtenis geneem. ʼn Tiende lid wat vroeër gearresteer is, word by die groep van nege gevoeg – Nelson Mandela.

Die primêre doel van die apartheidsregering was om vryheidsvegters ter dood te veroordeel: nie net as ʼn waarskuwing aan hulle mede-aktiviste nie, maar ook om van apartheid se mees gevreesde aktiviste ontslae te raak; in wese, om die vryheidsbeweging lam te lê.

Antoinette Louw as Molly Fischer.

Antoinette Louw as Molly Fischer.

Potensiële kandidate wat deur die gesinne van die verdagtes om regshulp genader word, is egter bang of onwillig om die mandaat te aanvaar. Ook die wyd gerespekteerde regsbrein, Bram Fischer, huiwer. Hy is voorsitter van die Balieraad, regsadviseur van verskeie mynmagnate en ʼn afstammeling van ʼn vooraanstaande Afrikaanse familie.

Maar Fischer huiwer om ander redes: hy koester ʼn geheim waarvan slegs ʼn paar mense, insluitende sy vrou, Molly, weet: Hy sou die elfde aangeklaagde gewees het. Dit was net per toeval dat hy nie op die plaas was toe sy mede-aktiviste in hegtenis geneem is nie.

Hy besluit egter om wel vir die verdediging op te tree. Gedurende die verhoor moes Fischer nie net die gemanipuleerde bewyse van die aanklaer ontrafel en die omgekoopte of gemartelde getuies ontmasker nie, maar homself ook teen ontmaskering deur getuies beskerm.

Tydens die verhoor begin Fischer toenemend van sy beginsels van nie-gewelddadigheid weg te beweeg en gewelddadige aksies van sabotasie en gewapende opstande te ondersteun. Die terdoodveroordeling van die aangeklaagdes kon die spreekwoordelike vonk in die kruitvat wees. Te midde van die verhoor probeer Bram koorsagtig ondergrondse weerstand organiseer.

Peter Paul Muller as Bram Fischer. (Foto: Verskaf)

Peter Paul Muller as Bram Fischer. (Foto: Verskaf)

Die veiligheidspolisie ontdek egter Fischer se dubbele rol en die staatsadvokaat word deur die minister van justisie, Balthazar Vorster, gedwing om dit uit te buit. Fischer kom voor ʼn morele dilemma te staan: moet hy sy kliënte verdedig, of moet hy eerder die welstand en veiligheid van sy gesin in ag neem?

An Act of Defiance – die storie van Bram Fischer was in 2017 die openingsrolprent by die Kaapstadse Internasionale Rolprentfees (Cape Town International Market and Film Festival) en het verskeie toekennings by verskillende filmfeeste ontvang:

  • 2017 Nederlandse Filmtoekenning – Beste Akteur (Peter Paul Muller)
  • 2017 Nederlandse Filmtoekenning – Beste Draaiboek (Jean van de Velde)
  • 2017 Internasionale Kaapstadfilmfees (CTIFMF) – Beste Aktrise (Antoinette Louw)
  • 2017 Internasionale Kaapstadfilmfees (CTIFMF) – Beste Draaiboek (Jean van de Velde)
  • 2017 Mill Valley Film Festival – Goue Gehoortoekenning
  • 2017 Movies that Matter Film Festival (Den Haag, Nederland) – Gehoortoekenning

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Judge Dredd ·

Die liberales ry die geskiedenis hol, maar hulle wil die vergrype van die hede nie erken nie.

Die Leeu ·

@Judge Dredd
Baie dankie vir jou stelling. Dis 100% korrek. Ek kon dit self nie beter gestel het nie.

thea ·

dit is wat gaan gebeur
ons as witmens gaan weer die monsters wees, sleg en vol haat
wonder wie wou gif in die water gooi, en bomme plant
maar hulle is nou helde. die fliek sal elke prys moontlik wen, net omdat hulle so opgehemel word

Heksie ·

My uitgangspunt was nog altyd, dat hoe meer ons weet, hoe beter, so ek sal dit fliek gaan kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.