Brett Michael Innes oor kleintyddrome, loopbaan en verhouding met Afrikaans

Brett Michael Innes (Foto: Facebook)

Brett Michael Innes is ʼn wêreldreisiger met Skots-Libanese wortels en ʼn liefde vir Afrikaanse stories. Hou ʼn mens in gedagte dat sy moedertaal Engels is dan word sy storie skielik baie aanlokliker.

Vandag het hy reeds drie Afrikaanse vollengte rolprente (Sink, Fiela se kind en Racheltjie de Beer) agter sy naam. Laasgenoemde twee word binnekort landswyd uitgereik. Hy het ook al ʼn hele rits pryse verower, wat onder meer vyf Saftas vir beste rolprent, beste aktrise, beste draaiboek, beste musiek en beste redigering insluit.

Brett, wat onlangs op reis was in die VSA, gesels gretig oor sy grootwordjare, loopbaan en sy verhouding met Afrikaans. Hy vertel ook wat sy grootste uitdaging in die vervaardiging van Fiela se kind was en hoekom hy juis Afrikaanse flieks maak.

Om stories te vertel was nog altyd deel van wie Brett is – selfs nog vóórdat hy kon lees of skryf. Hy onthou hoe hy as vyfjarige kind prentjies op ou fakspapier, wat hy êrens in die huis gevind het, geteken het, dit aanmekaar gekram het en daarna vir R1 aan sy ouers verkoop het. In die sandput het hy nuwe wêrelde geskep, stories met behulp van sy niggie se Barbie-poppe vertel en later selfs begin om sy eie flieks saam met vriende te maak, “Ons het ons eie prente gemaak deur tonele met ou videokameras af te neem en dit later op my ouers se VHS-masjien tot ‘flieks’ te verwerk,” onthou hy.

Brett se kleintydstories en tydverdryf het jare later sy loopbaan geword. ʼn Mens wonder natuurlik wie hom as klein seuntjie geïnspireer het om ʼn loopbaan in rolprente na te streef. “Dis dalk vervelig, maar my ouers, Chris en Cynthia, het die grootste invloed op my kinderjare gehad,” antwoord hy. “Nie net het hulle my liefde vir kuns gesteun nie, maar hulle het my ook die vryheid gegun om ʼn beroep daarvan te maak”.

Brett is een van sewe kinders en dink ook met groot dankbaarheid terug aan die opvoeding wat sy ouers hulle gegee het. “Ek staan op die skouers van hul goeie besluite, iets wat ek hoop om te eer deur suksesvol en tevrede te wees met die werk wat ek doen.” Buiten vir Brett se gehegtheid aan sy gesin het familietyd ook ʼn groot rol in sy lewe gespeel. Hy onthou veral dat die familie tydens Paasfees en Kersfees van heinde en verre saamtrek rondom etenstafels wat kreun onder ʼn feesmaal van geselligheid en geurige kos – en dán het Brett doelbewus nie gewerk nie.

Soos wat hy praat klink dit behoorlik soos ʼn eg-Suid-Afrikaanse manier van dinge doen, behalwe dat Brett ʼn Skots-Libanese afkoms het. Met hierdie kinkel in sy verhaal wonder ʼn mens sommer hardop oor sy verhouding met Afrikaans. “My moedertaal is Engels, maar ek het Afrikaans as ʼn addisionele taal op skool gehad. Ek het ná skool tydens my oorbruggingsjaar by Afrikaanse mense gebly wat my gehelp het om die taal aan te leer,” verduidelik hy.

Brett Michael Innes, draaiboekskrywer van Racheltjie de Beer, die gehoor se gunsteling (Foto: Maroela Media)

Brett het in 2001 aan The King’s School Robin Hills in Johannesburg gematrikuleer. Oor kattekwaad en stokkiesdraai is daar min stories, maar oor sy ander kleintyd rolmodel, juffrou Diane Higginson, gesels hy met oorgawe. Juffrou Diane het geskiedenis en Engels gegee, maar die belangrikste les wat Brett by haar geleer het was om stories van die verlede te omarm en jou eie te maak. Hier het hy die eerste keer met rolprentontleding kennisgemaak. “Sy het ons dikwels fliek toe geneem as deel van die rolprentstudie-kurrikulum. Die manier hoe ons dan agterna daaroor gesels het, het my liefde vir rolprente ontwikkel”.

Ná skool het Brett rolprent by Afda gaan studeer. Danksy ʼn beurs van die nasionale rolprent- en videostigting het hy sy studie voltooi en in 2005 sy graad, met spesialisering in vervaardiging, verwerf. Dit was die begin van ʼn blink, nuwe toekoms vir Brett. Of, so het hy gedink. “My rolprentloopbaan het ʼn snaakse draai gemaak toe ek besluit het om as videograaf te werk wat wêreldwyd materiaal vir niewinsgewende organisasies vervaardig”. Brett het onder meer in Suid-Soedan en Angola gaan aanklop – gewilligheid in die een hand en sy videokamera in die ander. Hy vertel dat hy allerlei tonele verfilm en geredigeer het, afhangende van die organisasie se behoeftes.

“Maar wanneer rolprente en stories in jou bloed is, is dit moeilik om daarvan weg te bly,” bieg hy. Ná drie jaar as videograaf en vervaardiger van dokumentêre materiaal het Brett met een doel voor oë teruggekeer na Suid-Afrika – hy wou stories deur rolprente vertel. In die werklikheid was dit egter nie so eenvoudig nie. “Niemand gee om oor jou graad nie,” verduidelik hy. “In die rolprentbedryf wil vervaardigers op jou profiel kan sien wat jy al gedoen het”.

Brett se deursettingsvermoë en passie het hom gedra tot waar hy vandag is. Hoewel sy loopbaan eers ʼn afdraaipad geneem het, is hy nie vir een oomblik spyt daaroor nie. “Ek het die geleentheid om te reis geniet en waardeer die soort werk waaraan ek blootgestel is baie,” erken hy. “En as gevolg van die vaardighede wat ek daardeur aangeleer het, het ek nou ʼn beter begrip van die verskillende rolle op stel. Ek kan met die kameraman én die redigeerder op ʼn ingeligte manier kommunikeer.”

ʼn Mens sal dink dat dit vir ʼn Engelssprekende persoon uitdagend sal wees om rolprente in Afrikaans te maak. Maar Brett vertel dat Afrikaanse mense juis ʼn positiewe invloed op hom gehad het en daarom lê die taal hom na aan die hart. Hy het op skool al verhale soos Fiela se kind en dié van Racheltjie de Beer gelees, en dit het toe reeds bygedra tot sy ontwikkeling as mens. Oor die taal vertel hy dat, “soveel as wat hulle Afrikaans is, glo ek dat hulle ook Suid-Afrikaans is en daarom geskik is vir ʼn groter gehoor”.

Brett beskou homself as ’n buitestander van die taal wat met behulp van die nodige navorsing en kennis in staat is om hierdie stories aan ʼn diverse groep mense te vertel. Hy meen ook dit is ʼn doelbewuste besluit om Afrikaanse rolprente te maak, want die mark daarvoor is baie meer stabiel as die mark vir plaaslike rolprente in Engels.

Oor die besluit om Fiela se kind dekades later weer te verfilm, vertel Brett: “Ek het toevallig tydens ʼn boekstelling gehoor dat die regte om die rolprent te vervaardig beskikbaar is en toe dadelik met Dalleen Matthee se dogter, Hilary, kontak gemaak.

Brett Michael Innes tydens die verfilming van Fiela se kind (Foto: Fiela se kind/Facebook)

“Dis ʼn tydlose verhaal wat ek wou vertel. Ek wou die verhaal my eie maak, maar ek wou dit ook aanpas om meer relevant vir ʼn eietydse gehoor te wees,” brei hy uit oor dit wat sy besluit gemotiveer het.

Brett was egter deeglik bewus van bepaalde uitdagings wat die herverfilming van Fiela se kind sou inhou en so vertel hy dat hulle nie die rolprent op enige manier aan die publiek bekendgemaak het voordat hulle dit klaar geskiet het nie. “Elke persoon wat hoor dat die rolprent gemaak word het ʼn opinie – en hulle is geregtig daarop. Maar ek wou nie toelaat dat my denke óf my akteurs se selfvertroue beïnvloed word nie.”

Nog een van sy rolprente, Racheltjie de Beer, word op 18 Oktober 2019 uitgereik. Dié verhaal is reeds in 2012 as boek gepubliseer, maar die proses om dit te verfilm was ʼn lang en uitmergelende pad. Brett vertel dat die proses talle kere van voor af aangepak moes word.

“Enigeen wat rolprente maak sal weet dat ʼn mens 95 persent gereed kan wees en dan kan die kleinste ding veroorsaak dat jy van voor af moet begin.” Dit was presies hier die geval, maar weer eens het Brett se deursettingsvermoë hom enduit gedra en sewe jaar later word die fliek uiteindelik uitgereik.

Wanneer ʼn mens met Brett gesels is daar buiten vir stories en rolprente ʼn paar ander goed in die lewe waaroor hy ewe passievol is. Behalwe dat hy ʼn reisentoesias is bestee hy ook tyd aan lees, om fiks te wees en die beste koffiewinkels uit te snuffel. Wanneer hy wel eendag rustiger raak, soos wat hy skertsend vertel, wil hy weer begin om klarinet en saxofoon te speel, te skilder of jenewer te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gertina ·

Mooi so, Brett! ‘n Seun van SA om op trots te wees.

Maroela Media, let net op die regte spelling van Dalene Matthee se naam :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.