Buitebioskoop: Dis weer tyd vir fliek en piekniek!

buiteboskoop 2017 facebook_Finaal.jpgMaroela Media en attooh! is uit ons vel van blydskap om jou te vertel dat jy hierdie jaar weer saam ons die nostalgie van ʼn inryteater – met ʼn bietjie van ʼn kinkel – kan herleef. Kom sprei jou piekniekkombers uit, geniet goeie musiek en kyk drie Afrikaanse flieks saam met ons by die Buitebioskoop!

Die Buitebioskoop vind vanjaar plaas op 16 September in die Botaniese Tuin, Pretoria. Sodra die son so om 18:00 se kant sak, skop ons af met die kinderproduksie Khumba in Afrikaans om seker te maak die kleiner outjies deel in die pret. Daarna kyk ons Nul is nie niks nie – ʼn heerlike gesinsfliek met mooi waardes, ʼn goeie skeut aksie en ʼn hartroerende storie. Ons sluit die aand af met ons laataandfliek, Die Rebellie van Lafras Verwey, vir die ernstige fliekgangers. Ons sal sorg dat daar koffie is om jou warm te hou terwyl jy dié swaargewig Afrikaanse film geniet. Bring gerus vir die kinders ʼn ekstra kombers en kussing saam sodat hulle deur die laataandfilm kan slaap.

Die skerm wat vir die Buitebioskoop ingespan word, is 14 m wyd en drie verdiepings hoog. Dit laat jou voel of jy in die teater sit, maar met dieselfde nostalgie en atmosfeer van ʼn inryteater.

Kom sommer vroegmiddag al en kry vir jou ʼn lekker plekkie vir jou kampstoel of piekniekkombers. Die immergewilde groep Kaleidoskoop sorg vir die musiek voor die fliek, terwyl die kinders in die speelarea baljaar.

Maroela Media en attooh! Buitebioskoop (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)

Ander bekendes uit die Afrikaanse rolprentbedryf sal ook tussen die films deur op die verhoog saamgesels oor die nostalgie van Afrikaanse flieks. Daar word vanjaar ook weer ʼn spesiale Maroela-toekenning oorhandig aan ʼn persoon wat diep spore in die Afrikaanse rolprentbedryf getrap het.

As jy nie lus is om ʼn mandjie te pak nie, kan jy heerlike eet- en drinkgoed soos pannekoek, kerrie-en-rys, biltong en koffie by stalletjies op die terrein koop. Vanjaar maak ons seker daar is ʼn groot verskeidenheid kosstalletjies sodat jy en jou gesin heel aand kan knibbel. ʼn Wynlandgoed sal sorg vir ʼn glas wyn waaraan jy kan teug terwyl die son ondergaan.

Maroela Media se nostalgiese Afrikaanse e-winkel, die Koöperasie, sal ook in lewende lywe daar wees, met allerlei eg Afrikaanse produkte sodat jy sommer nou al die hele familie se Kersinkopies kan doen – van T-hemde met die mooiste Afrikaanse woorde tot boereporselein-blikbekers en -borde, ketties, klimtolle, klapsoen-lipsalf en Afrikaanse yskasmagnete. Jy kan selfs vir jou ʼn snoesige Afrikaanse kombers kom koop as die luggie laataand begin knyp.

Koop sommer nou al vir jou familie en vriende kaartjies. Kom maak jou tuis by die grootste, lekkerste Afrikaanse buitelugfliek in die maanlig – soos net Maroela Media dit kan doen.

Vanjaar se Buitebioskoop word met trots moontlik gemaak deur attooh!.

Die program

15:00 Hekke maak oop

16:00 Musiek deur Kaleidoskoop

18:00-23:59

  • Khumba (alle ouderdomme)
  • Nul is nie niks nie (ouertoesig vir kinders jonger as 9)
  • Die Rebellie van Lafras Verwey (ouertoesig vir kinders jonger as 12)

Kaartjies kos R130 per volwassene en R60 per kind onder 10 jaar. Kinders onder 3 fliek gratis.

Bespreek nou jou kaartjies by Tixsa!

Jou kaartjie sluit toegang tot die Botaniese Tuin, vermaak en die drie rolprente in. Daar is ʼn veilige, gratis speelarea vir die kinders tot voor die eerste fliekvertoning.

Vir enige navrae aangaande die kaartjies, stuur gerus ‘n e-pos aan Tixsa – [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Denise Hildebrandt ·

Kan julle nie bietjie dit sterk oorweeg om dalk te reis met julle konsep/idee. Ons hier in Ellisras sal baie graag op die Mogol Gholfklub se drivingrange so piekniek fliek wil hou insamewerking met julle. Dink asb bietjie daaroor! Die Bosvelders is uitgehonger vir so iets. Vir Altyd onder die Sterre was hier en ons het 1000 mense gehad wat dit bygewoon het. Hier is geen fliekteater naby ons nie………… Baie dankie

Tokkie ·

Naand wil graag hoor of julle sal belangstel in kettle corn by julle fliek aand .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.