Charlize weer byna onherkenbaar in jongste rol

Charlize Theron soos sy lyk in die rol van Megyn Kelly in 'Bombshell'. (Foto: Hilary Bronwyn Gayle SMPSP)

Charlize Theron soos sy lyk in die rol van Megyn Kelly in ‘Bombshell’. (Foto: Hilary Bronwyn Gayle SMPSP)

Die Oscar-bekroonde aktrise Charlize Theron is bekend vir haar vermoë om vir ingewikkelde rolle, geskoei op die werklikheid, soos ʼn wafferse verkleurmannetjie haar voorkoms te verander.

In 2004 was sy amper onherkenbaar in die fliek Monster in die rol van Aileen Wuornos, ʼn voormalige prostituut wat in 2002 in Florida in die VSA tereggestel is vir die moorde op ses mans. Vir dié vertolking het sy ʼn Oscar vir beste aktrise verower.

In 2006 het Theron haar blonde lokke verruil vir ʼn rooiblonde hare en ʼn blekerige voorkoms vir haar rol in North Country, waarin sy die rol van Josey Aimes vertolk het en weer is sy vir ʼn Oscar benoem vir dié vertolking.

Intussen het sy selfs haar hare swart gekleur vir haar rol in die wetenskapfiksiefliek Aeon Flux en ook meer onlangs haar hare afgeskeer vir haar rol in Mad Max: Fury Road.

Vir haar jongste fliek, Bombshell, wat geskoei op die ware gebeure wat gelei het tot die bekende Fox News-skandaal in die VSA, is sy weer amper onherkenbaar in die rol van Megyn Kelly, die bekende Amerikaanse joernalis en voormalige regsverteenwoordiger.

Die verhaallyn van die rolprent volg veral die optrede van Kelly en haar kollega, Gretchen Carlson, vertolk deur Nicole Kidman. In 2016 het Carlson die voormalige uitvoerende hoof van Fox News, Roger Ailes, gedagvaar vir seksuele teistering, wat daartoe gelei het dat meer vroue, insluitend Kelly, met verdere aantygings teen hom vorendag gekom het.

Charlize Theron. (Foto: Fuzheado/Wikipedia)

Charlize Theron. (Foto: Fuzheado/Wikipedia)

Die rolprent vertel die opspraakwekkende verhaal van die vroue wat dit reggekry het om een van die invloedrykste mediareuse op sy knieë te dwing.

Margot Robbie is in die fliek te sien in die rol van Kayla – ʼn jong vervaardiger wat ʼn toekoms agter die kamera in gedagte het. Hoewel haar karakter fiktief is, meen die rolprentmakers dat dié rol geïnspireer is deur die verhale van verskeie vroue wat hul ervarings met die rolprentspan gedeel het.

Volgens Los Angeles Times is die hoofkarakters “morele en komplekse heldinne, wat kykers verras in hul pogings om die regte ding te doen”. Theron se uitbeelding van Kelly weerspreek egter die tradisionele verwagtinge wat ʼn mens het van fliekheldinne.

“Ek stel belang in karakters wat kompleks is en foute maak,” het Theron aan Los Angeles Times gesê. “Vroue doen nie altyd die regte ding nie. Die idee van hoe ʼn slagoffer of misbruiker lyk is nie swart en wit nie – dit is ongelooflik grys. Dit is wat my aangetrek het na die rol.”

Theron het bygevoeg dat die wêreld tans in ʼn “baie intense era is wat nie gou gaan afkoel nie”. “Hoe meer mense saamstaan hoe beter, en dit is juis waaom hierdie fliek so ʼn groot impak en belangrike boodskap het.”

Die rolprent is baie goed deur kritici ontvang en is reeds benoem vir verskeie toekennings, onder meer beste kontemporêre grimering in ʼn vollengte speelfliek, beste spesiale effekte- grimering in ʼn vollengte speelfliek en beste kontemporêre haarstilering in ʼn vollengte speelfliek deur die sewende jaarlikse Make-Up Artists and Hair Stylists Guild.

Van links na regs is Charlize Theron, Nicole Kidman en Margot Robbie in die fliek 'Bombshell'. (Foto: IMDb.com)

Van links na regs is Charlize Theron, Nicole Kidman en Margot Robbie in die fliek ‘Bombshell’. (Foto: IMDb.com)

Bombshell is ook benoem vir ʼn Humanitas-prys in die beste vollengte dramarolprent-afdeling. Hierdie niewinsgewende organisasie vereer en bemagtig rolprent- en televisiedraaiboekskrywers wie se werk die mens se natuur op só ’n manier ondersoek en ten toon stel dat dit mense nader aan mekaar bring.

Verder is Theron ook benoem in die beste aktrise-afdeling en Kazu Hiro, Anne Morgan en Vivian Baker in die beste hare- en grimering-afdeling van die Hollywood Critics Association.

Die res van die sterbelaaide rolverdeling sluit in Connie Britton as Beth Ailes, Allison Janney as Ailes se prokureur, Susan Estrich, Kate McKinnon as nog ʼn Fox News-werknemer, Nazanin Boniadi as die voormalige Fox News-korrespondent Rudi Bakhtiar, Malcolm McDowell as Fox se uitvoerende hoof Rupert Murdoch, Mark Duplass as Kelly se man, Douglas Brunt, en Alice Eve as Fox & Friends se mede-aanbieder Ainsley Earhardt.

Bombshell begin op 24 Januarie in fliekteaters landswyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

André-Chris ·

O, ja en sy maak seker dat sy saam met Mel Gibson, Vin Diesel en daardie snare in ‘n fliek gesien word.

Anoniem ·

..het jy al rooibostee gedrink?….

Net ‘n grappie…ek hou van haar, obviously pragtig en oulike maniertjies…ken haar nie op ander vlakke om nog gevolgtrekkings te maak nie.

Karel ·

Nee wat, wat iemand ook nie sal doen vir roem nie…. skroom nie eers om die Here se naam te gebruik in flieks nie, maar ja, so verskil mense se geloof ook, maar ek sou meer van iemand verwag het wat in Suid Afrika groot geword het, omsingel deur kerke en gelowiges.

Me-too Propaganda ·

Jong Amerikaanse mans weier om te trou & die geboorte aanwas syfers is die laagste in die geskiedenis van die VSA.
REDE? Hierdie holrug geryde tema . . . alle mans is varke en vroumense is ALMAL slagoffers van mansmense se onbehoorlike gedrag.
Ek het ‘n dogter & ‘n vrou vir wie ek & my seun ons lewens sal neerlê . . . maar ek gatvol om ELKE DAG te hoor, dat ek a.g.v. my manlike geslag ‘n sosiale probleem is . . . gooi die vrouemishandelaars in die tronk !!
Maar . . . . ek is moeg om ‘n slaansak vir feministiese mannehaters te wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.