Cintaine Schutte oor haar rol in ‘Die seemeeu’

Christiaan Olwagen en Saartjie Botha se rolprentverwerking van Die seemeeu, die verhoogstuk van die Russiese dramaturg Anton Tsjekof, word op 5 April in fliekteaters landwyd uitgereik en word deur talle resensente as ʼn kragtoer beskryf.

Olwagen, wat eers die regie van die teaterstuk en daarna van die fliekweergawe behartig het, neem die klassieke teaterstuk en verplaas dit na Suid-Afrika in die 1990’s, bykans 100 jaar nadat die stuk geskryf is.

Elkeen van Tsjekof  se volronde karakters wroeg met hul eie vrese, verlange, twyfel en frustrasie, wat natuurlik as gevolg van hul eie toedoen is. Die teaterdiva, Irene, vertolk deur Sandra Prinsloo, sukkel om gewoond te raak aan streeksrade wat nie meer bestaan nie en kunstefeeste wat haar loopbaan se voorland is.

Sy woon op ʼn landgoed saam met haar broer, Piet, vertolk deur Marius Weyers, en haar seun, Konstant, vertolk deur Albert Pretorius, wat hunker na sy ma se goedkeuring en aandag. Rolanda Marais is Nina, ʼn naïewe aspirerende aktrise wat wil wegkom van die klein dorpie waar sy woon, maar nie weet wat om te doen wanneer sy die geleentheid kry nie en Masha, vertolk deur Cintaine Schutte, is immer terneergedruk.

Martelize Kolver, wat die rol van Masha se ma, Paulina, en Deon Lotz, wat haar pa, Elias, vertolk, is saam met Geon Nel as die armoedige onderwyser Simon, die opgewekte filosoof dr. Eugene, vertolk deur Gerben Kamper en die bekende skrywer Boors, vertolk deur Alyzzander Fourie, deel van die rolverdeling.

Hoewel sy die rol van Masha in die teaterstuk ook vertolk het, vertel Schutte aan Maroela Media dat sy weer by die begin moes begin om haarself as Masha te vestig in die fliekrol.

“Die verfilming het eers ʼn jaar of wat nadat die teaterstuk die feesrondtes gedoen het begin, en ʼn mens groei in daardie tyd as persoon en as aktrise. Daarom kon ek nie bloot net sê dat ek nou die karakter onder die knie het nie, en omdat ek soveel gegroei het as mens moes ek die teks op ʼn ander manier aanpak.”

Geon Nel en Cintaine Schutte in 'Die Seemeeu'.

Geon Nel en Cintaine Schutte in ‘Die Seemeeu’.

Sy vertel dit was ook ʼn nuwe deur wat oopgegaan het in terme van die fisieke wêreld waarin sy skielik die rol van Masha kon vertolk. “Nou is jy op ʼn plaas met water en landskappe wat so ver verwyder is van die grense van ʼn verhoog. Tog voel dit of ons nou ʼn volle sirkel gemaak het, want ons is presies dieselfde rolverdeling as in die teaterstuk en ons het die dinamika opgebou met al die karakters, al het ons almal intussen ouer geword en meer gegroei.”

Volgens Schutte het dit die ervaring om saam met Olwagen aan die fliekweergawe te werk, verdiep. “Hy het besef dat ons almal gegroei het sedert die teaterstuk aangebied is en het geweet dat ons nie die karakters weer op dieselfde manier sou of kon aanpak nie. Hy het my veilig laat voel en terselfdertyd my uit my gemaksone forseer om sodoende vir Masha op ʼn ander manier te leer ken.”

Sy onthou een spesifieke dag wat die hele span ter wille van kontinuïteit moes wag vir die wind om te gaan lê voordat verfilming hervat kon word, toe Olwagen almal versoek het om in stilte te bly sit.

“Hy wou ons laat verstaan hoe dit is om, soos die karakters, in ʼn plek te wees waar dit ongelooflik stil is. Hy is een van die hardwerkendste mense wat ek ken, wat net nooit die bal laat val nie. Hy het gewerk met al die elemente wat hy tot sy beskikking gehad het en dit was ongelooflik om hom te sien groei deur die proses en dat hy die stuk nóg ʼn vlak verder kon verdiep.”

'Die Seemeeu'.

‘Die Seemeeu’.

Schutte sê dat die stuk ʼn vergrootglas op mense en verhoudings plaas en wat gebeur met die psige en dryfkrag van die mens wanneer jy in stilte moet leef. “Masha voel soms sy word gesmoor met verveeldheid in die stilte en ander kere laat dit haar kop meer maal en dink. Tsjekof  gooi ʼn klomp mense in een vertrek en kyk wat gebeur.”

Masha se ouers is die plaaswerkers Paulina en Elias en sy woon haar hele lewe lank op die plaas, waar sy saam met Konstant grootgeword het. Hy is haar heel eerste en grootste liefde.

“Sy neem haarself baie ernstig op, wat by tye vir my as aktrise baie komieklik was. Sy dra net swart klere en is in ʼn stadium in haar lewe waar sy baie goed bevraagteken en so diep dink dat dit haar depressief maak. Masha het ʼn groot behoefte om te behoort en sy wil gesien en gehoor word en dit gebeur net nie. Die enigste persoon wat haar wel raaksien is Simon en iets wat hulle verhouding so mooi maak, is dat hulle verstaan mekaar,” vertel Schutte.

“Natuurlik is daar Nina, wat Konstant se groot liefde is, en Masha weeg haarself teen Nina op. Sy is nie jaloers op Nina nie, maar sy is op ʼn ouderdom waar sy haarself vergelyk met die ander persoon en sy wil so graag ʼn Nina in Konstant se oë wees, wat ook ʼn struikelblok in haar lewe is.”

Schutte het die Fleur de Cap-toekenning gewen vir haar rol as Masha in die teaterstuk en is ook op verlede jaar se Silwerskermfees in Kampsbaai met die beeldjie vir beste vrouebyspeler vereer. Sy is ook onlangs deur die RapidLion-rolprentfees in Johannesburg vereer vir beste vrouebyspeler.

Rolanda Marais en Albert Pretorius in 'Die Seemeeu'.

Rolanda Marais en Albert Pretorius in ‘Die Seemeeu’.

“Ons het tydens die Silwerskermfees soveel liefde ontvang. Christiaan was ook met die fliek in Moskou en die Russe se terugvoer was dat dit ʼn baie verfrissende aanslag op dié bykans eeu-oue stuk deur Tsjekof is. Dit gaan tog interessant wees wanneer die publiek dit uiteindelik te sien kry, want dit is ʼn kunsfliek en is nie vir almal nie. Tog glo ek daar is ʼn plekkie onder die son vir dié soort rolprente en dat dit mense die geleentheid gee om opgevoed te raak in dié genre. As die storie of die karakters jou omkrap of as jy met hulle kan vereenselwig, is dit ook ʼn goeie ding.”

Schutte verklap dat sy eersdaags weer teruggaan na die stel van die gewilde kykNET-drama Fynskrif en dat sy ook op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en die Vrystaat Kunstefees te sien gaan wees in die teaterproduksie Huishou, waarvan sy die vervaardiger is.

Sy het ook onlangs saam met haar Seemeeu-medespeler, Albert Pretorius, in die teaterstuk Tien duisend ton verskyn. Haar verloofde, die akteur Carel Nel, het dié produksie vervaardig.

“Ons troubeplanning vorder maar baie stadig,” lag sy. “Ons sal seker nou binnekort sit en alles beplan, maar niks het ons nog ooit aangejaag nie!”

*Die seemeeu het ʼn ouderdomsbeperking van 16 vir onder meer kru taalgebruik, tonele van dwelm- en alkoholgebruik, seksuele tonele en geweld. Die fliek is nie geskik vir kinders jonger as 16 jaar nie. Ouers se diskresie word aanbeveel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.