Dalene Matthee se ‘Toorbos’ binnekort ook op die silwerdoek

André Scholtz (Foto: Verskaf)

Die skrywer Dalene Matthee se bekende roman, Toorbos, sal binnekort in filmteaters draai.

Die vervaardiger André Scholtz sal aan die stuur wees wanneer verfilming van dié bekende verhaal op 21 Mei in die Knysnabos begin.

Volgens Scholtz werk Hillary Matthee, Dalene se dogter, ook aan dié projek en “is baie bly” oor die besluit om ’n film te maak. René van Rooyen, bekend vir haar werk in Mooirivier en Nantes, sal as draaiboekskrywer en regisseur betrokke wees om die verhaal lewe op die silwerdoek te gee.

Die 2003-topverkoper handel oor die karakter Karoliena Kapp en haar liefde vir die bos. Wanneer Kapp egter ’n liefde vir iemand anders ontwikkel, bevind sy haar in ’n innerlike tweestryd en as’t ware ’n liefdesdriehoek wat haar dwing om te kies tussen trou en dorp toe trek of by haar eerste liefde, die bos, agter te bly. Dit lei dan tot ’n avontuur van innerlike konflik, verandering, aanvaarding en, natuurlik, liefde.

Scholtz verduidelik dat die verhaal hom in die dertigerjare van die vorige eeu afspeel “toe die regering houtkappers wou dwing om op die dorp te gaan woon”.

Dié projek is nommerpas vir Scholtz met die herdenking van sy 50ste jaar in die rolprentbedryf om die draai in 2019. Volgens Scholtz het hy sowat drie jaar gelede met ’n kennis, Peet van Rensburg, gesels oor die vervaardiging van nog ’n rolprent toe Van Rensburg hom Toorbos gee om te lees. “Ná een maal se deurlees het ek geweet dít is nog ’n Dalene Matthee-wenner!”

Scholtz is bekend vir sy werk in meer as 30 films en sewe televisiedramas, onder meer die Oh Schucks-reeks in samewerking met Leon Schuster, asook die rolprente, ʼn Paw Paw vir my darlingDie Wonderwerker en Meerkat Maantuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.