Derde ‘Downton Abbey’-rolprent op pad

‘n Foto vanuit ‘Downton Abbey: A New Era’. (Foto: Facebook/Downton Abbey)

Skink die tee, Carson, die Crawleys is terug.

ʼn Derde Downon Abbey-fliek sal binnekort die silwerskerm tref, en dit beloof om net so boeiend soos die vorige twee te wees.

“Dit voel wonderlik en ʼn bietjie emosioneel. Dit is heerlik om weer bymekaar te kan wees,” het Michelle Dockery, wat die rol van Lady Mary Crawley vertolk, tydens die aankondiging van die nuwe fliek gesê.

“Dis asof daar geen tyd verloop het nie.”

Alhoewel Focus Features nog nie die fliek se naam bekendgemaak het nie, is dit reeds bevestig dat die franchise se skrywer, Julian Fellowes, weer aan stuur van sake is.

Die meerderheid akteurs van dié historiese storiereeks keer ook terug om weer ʼn buiging op die skerm maak. Hugh Bonneville, Elizabeth McGovern, Michelle Dockery, Laura Carmichael, Jim Carter, Phyllis Logan, Robert James-Collier, Joanne Froggatt, Allen Leech en vele meer sal weer in hul karakters se skoene staan.

ʼn Paar nuwe gesigte sal ook in die fliek te siene wees, onder wie Paul Giamatti, Joelly Richardson, Alessandro Nivola, Simon Russel Beale en Arty Froushan.

Die bekroonde vervaardigers Gareth Neame en Liz Trubridge sal in vervaardigerstoele sit, terwyl Simon Curtis die regie van die fliek sal behartig.

Downton Abbey was oorspronklik ʼn dramareeks geskoei op die aristokratiese Crawley-gesin. Dame Maggie Smith het jare lank die rol van Lady Grantham vertolk. Die reeks het in 2015 ná ses seisoene tot ʼn einde gekom.

Die eerste Downton Abbey-fliek is in 2019 gemaak en ʼn tweede fliek, Downton Abbey: A New Era, is in 2022 uitgereik.

Daar is nog nie verdere inligting oor die derde fliek se uitreikdatum beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.