Deurbraak by Silwerskermfees: Meesterklas deur Hollywood-swaargewig

Foto: Facebook

Daniel “Dan” Mindel . Foto: Facebook

Saterdag 27 Augustus is daar tussen 11:00 en 13:00 nog ’n opwindende nuwigheid by die Silwerskermfees wanneer die Suid-Afrikaans gebore Dan Mindel ’n meesterklas aanbied.

Daniel “Dan” Mindel (BSC, ASC, SASC) is ’n kinematograaf wat in Amerika woon en werk. Hy is op 27 Mei 1958 in Johannesburg gebore en het sy opleiding in Australië en Brittanje ontvang. Mindel is bekend vir sy werk saam met topregisseurs soos Ridley Scott, Tony Scott en JJ Abrams.

Mindel het sy loopbaan as kameralaaier begin, voordat hy later as assistent-kameraman onder die Franse kinematograaf Philippe Rousselot aan die regisseur John Boorman se rolprent, The Emerald Forest (1985), gewerk het. Kort daarna het hy na Amerika verhuis, waar hy aan advertensies gewerk het saam met onder andere Ridley en Tony Scott.

Gedurende die 1990’s het hy as kameraman en fotograaf aan rolprente deur die Scotts gewerk wat treffers soos Thelma & Louise en Crimson Tide ingesluit het.

In 1997 is Mindel as die tweede-eenheid-kinematograaf vir Ridley Scott se rolprent, G.I. Jane, aangewys, waarna hy die kinematograaf vir Tony Scott se aksieriller, Enemy of the State (1998), geword het.

Mindel was later die kinematograaf vir rolprente soos Shanghai Noon, Stuck on You, The Skeleton Key, John Carter en Tony Scott se Spy Game en Domino.

Die regisseur JJ Abrams het Mindel in 2006 as kinematograaf gekies vir Mission: Impossible III, en in 2009 het hulle weer saamgewerk aan Star Trek en die vervolg, Star Trek Into Darkness. Mindel was ook die kinematograaf vir Star Wars: The Force Awakens, wat in 2015 vrygestel is, en Zoolander 2, wat in 2016 vrygestel is.

In die meesterklas sal Mindel praat oor sy pad van Suid-Afrika na die internasionale filmbedryf, asook sy uitdagings as filmregisseur en hoe hy probleme oorkom. Hy sal ook vertel van sy volgende projek, God Particle, ’n rolprent wat in die buitenste ruimte afspeel en in 2017 vrygestel word.

Mindel het ’n passie om saam met jong filmmakers te werk en is tydens die meesterklas beskikbaar om vrae te beantwoord.

Vir medianavrae, bel Ilza Roggeband by 083 448 2102 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willie ·

Dit sou goeie nuus wees as dit moontlik was om kaartjies na die fees in die hande te kry. Dit is egter onmoontlik agv die nuttelose sisteem wat gebruik word om dag-en-weekkaartjies te bespreek. Dit is onmoontlik, self vir deelnemers aan die fees self.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.