Dié flieks moet jy in Desember sien

Julia Roberts en Owen Wilson in “Wonder”

Desember is gewoonlik die seisoen wanneer gesinne kans kry om saam te gaan fliek. Skuif die springmielies en die sodakoeldrank nader, Leon van Nierop het ʼn paar flieks uitgesoek wat op jy móét-sien-lysie moet wees.

’n Rolprent wat jou in vervoering mag hê, is die menslike drama vol patos, humor, vrolikheid, hartseer, maar bowenal die wil om ten alle koste te oorleef en die lewe te geniet ten spyte van terugslae: Wonder. Dit kom uit die stal van Stephen Chobsky, die regisseur wat jonges, wat op die rand van die samelewing huiwer en probeer inpas, ken. Dit is immers hy wat die klassieke The Perks of being a Wallflower destyds gemaak het wat vir baie tieners die toonaangewende opdragfilm is om te sien voordat hulle volwassenheid betree.

Wonder gaan oor ʼn egpaar, gespeel deur Julia Roberts en Owen Wilson saam met Izabela Vidovic, wat ʼn doodgewone lewe voer. Maar hul hele wêreld word omgekeer wanneer die Roberts-karakter geboorte aan ʼn seuntjie skenk wat aan Treacher Collins-sindroom ly: sy gesiggie is misvorm.

Na vele operasies lyk hy nog steeds “anders” as ander kinders. Die rolprent ondersoek die manier waarop sy gesin, veral sy sussie, wat self verwaarloos voel, hom bystaan, hoe hy probeer om ʼn normale lewe te voer ten spyte van sy voorkoms, en die reaksie van sy skoolmaats op sy voorkoms.

Wees verseker: die fliek weet presies watter geluide om te maak, en al die regte merkies word langs die korrekte emosies en storie-ontwikkelings gemaak. Die voorspelbaarheid tel dalk teen die draaiboekskrywer, dus weet jy hoe die gebeure gaan verloop. Maar dit is met soveel deernis en aanvoeling gemaak, dat ʼn mens later vergeet dat jy na ʼn resep kyk.

Al wat saak maak, is die emosie wat die regisseur deur middel van sy emosionele regie by die kyker opwek, asook die hegte gesinsbande wat uitgebeeld word. Dit wys ook hoe selfs boelies se harte kan versag wanneer hul die mens agter die gesiggie ontdek. Verwag ʼn staande toejuiging iewers in die rolprent!

Jacob Tremblay van Room-faam het met spesiale grimering opgetree, en die feit dat hy ‘n karakter dwarsdeur die aanplaksels kon laat registreer, is merkwaardig. Net ʼn waarskuwing: dis ‘n vyf-snesie-rolprent. Dit is die minimum vertroosting wat jy moet saamneem as jy dwarsdeur wil sit! Sterk aanbeveel.

Dan ding verspreiders ywerig mee om jou Kersfeesbonus in hul sakke te laat beland met ʼn paar flieks wat blink aan die Kersboom hang. En, erken nou maar: jy raak moeg om heeldag voor die televisie te sit. Daarom is dit lekker om ‘m slaggie uit te kom en flieks op die silwerdoek te ervaar soos The man who invented Christmas – ʼn voorstelling van hoe een van die beroemdste skrywers in die wêreld, Charles Dickens, A Christmas Carol uitgedink en geskryf het en waar die nare Ebenezer Scrooge vandaan gekom het. Dit behoort jou Kersfees deur ʼn nuwe bril te laat sien.

Die jongste in die Star Wars-reeks: Star Wars: the Last Jedi begin op 15 Desember, terwyl die nuwe weergawe van die Robin Williams-treffers oor die gevaarlike speletjie Jumanji: Welcome to the Jungle die einde van die jaar afskop met Dwayne (The Rock) Johnson wie se bultende biseps ʼn paar gevaarlike karnallies kompetisie gee.

ʼn Rateltaai rolprent, wat eintlik Eugene O’Neil (wat die teaterstuk Long Day’s Journey into Night geskryf het) as ʼn donker komedie genoem word, begin op 22 Desember. So tussen al die Kersvrolikheid vertel Woody Allen ʼn storie in Wonder Wheel met Kate Winslet en Justin Timberlake. ʼn Arm, neurotiese, verwaarloosde vrou raak verlief op ʼn lewensredder op Coney Island in New York. Die humor is wreed en dikwels venynig, en daar is minder kwinkslae as gewoonlik in ʼn Woody Allen-rolprent. Dit is neerdrukkend en jy het hare op jou tande daarvoor nodig.

Op kunsgebied open Beatriz at Dinner aan die einde van die jaar wat gaan oor ʼn vrou wat spesialiseer in holistiese medisyne (Salma Hayek) wat per ongeluk op ʼn partytjie beland waar ʼn groep mense is wat haar skok met hul onbesonne optrede. ʼn Woordryke rolprent wat jou skielik katswink slaan met ʼn dramatiese kinkel. Dis net vir kunsfoendies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

gerhard ·

Kyknet op DSTV het net afrikaanse Flieks op Kanaal 198, die hele Desembet en Januarie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.