Die grond treur

treurgrond posterMy oom, Frik Hermann, is wreed vermoor. Hy is doodgeskop. Die nadoodse ondersoek het gewys ʼn rib het in sy long gesteek. Dit was pynlik en hy het nog lank alleen in sy huis gelê voor hy dood is. Oom Frik is op die plaas begrawe. Dit was net logies dat hy deel van sy grond word. Toe Oom Frik se kis in die grond wegsak, sê iemand: “Die grond treur.”

Oom Frik was deel van TLU SA se statistieke oor plaasmoorde, maar ek het geweier dat hy bloot as ʼn nommer in die geskiedenis opgeteken word. Generaal-majoor Chris van Zyl van TLU SA en Ilze Nieuwoudt van Kraal-Uitgewers het saam met my deur die pynlike proses gegaan om mense se stories op te skryf. Dit is hoe die boek Treurgrond gebore is. Dit is ʼn boekemonument van mense wat op plase aangeval en vermoor is. Dit is nie ʼn storieboek nie.

Die proses van die saamstel van die boek was pynlik. My vrou se neef Renier Lamprecht, wat deur ʼn deur doodgeskiet is, se naam is opgeskryf. ʼn Skoolvriend, Lukas Nel, is in sy bed doodgeskiet en sy naam is opgeskryf. Die bejaarde Kosie van Niekerk is gesteek en sy keel is afgesny. Sy twee werkers Elisa Mokoenat en Augustine Kgojana, is verwurg en in die maag geskiet. Oom Dawie de Villiers is met ʼn hamer geslaan en in die bad doodgemartel. Altesaam 3 319 aanvalle is opgeskryf.

Ons het geskryf oor die pyn van swart en wit, werkers en boere wat saam aangeval is, rasgemotiveerde aanvalle, wraakaanvalle, intimidasie rakende grondeise en bloot misdadigheid. Dit is nie so eenvoudig soos volksmoord met eenvoudige rasargumente nie en ons het dit ook nooit gesê nie, maar dis ook nie bloot die gevolg van inkomstegapings nie. Niemand het ʼn antwoord nie, want daar is nie net een antwoord nie. Ons het geskryf oor ʼn komplekse verskynsel en ons het dit gebalanseerd gedoen.

Ons het geskryf oor Attie Potgieter wat met ʼn tuinvurk gesteek en met ʼn panga doodgekap is. Ons het geskryf oor sy vrou Wilna wat geskiet is en hulle twee jaar oue dogtertjie Willemientjie wat teregstellingstyl doodgeskiet is. In die hofsaak het die aanvallers getuig Willemientjie het te veel gesien.

Treugrond word afgesluit met ʼn gedig oor Willemientjie deur Ilze Nieuwoudt:

Willemientjie-willemeintjie
Ek hoor julle lag
Maar dit was alles voor daardie dag.
 
Willemientjie-willemeintjie
Het jy hard gehuil
Of het jy dan
Agter jou mamma geskuil?
 
Wilemientjie-willemeintjie
Jy is nou weg
Maar wat van wraak
Maak dit alles reg?
 
Willemientjie-willemeintjie
Ek sien ʼn traantjie wat val
Ek hoop nie jy’t gely nie
Dit is al

Uit Treugrond kristaliseer ʼn prentjie van boere wat vermoor is en, daarmee saam, plase wat “vermoor” is. Dit is ʼn prentjie van gemeenskappe wat oor grense heen saam treur en mekaar ondersteun. Die boek Treurgrond het die geloofwaardigste bron van plaasaanvalle geword. Dit is nie volledig nie, maar geloofwaardig.

In 2014 het André en Samuel Frauenstein besluit om ʼn rolprent oor plaasmoorde te maak. Hul inspirasie was hul ma en ouma wat in die stad vermoor is. Hulle het nie ʼn politieke agenda nie. Hulle wil die stories vertel van ma en ouma en duisende ander mense wat in stede en op plase vermoor is. Die treur van diegene wat agterbly, is dieselfde en hulle wil ʼn brug tussen die pyn van plaasmoorde en ander wrede moorde bou. Plaasmoorde is nie erger moorde nie, maar het spesiale omstandighede.

Die Frauensteins het die beste akteurs, die beste draaiboekskrywers en een van die beste regisseurs, Darryl Roodt – wat die rolprente Sarafina, Cry the Beloved Country en Winnie Mandela op sy kerfstok het – gekry om die rolprent te maak. Hulle keuse was nie die mense se politiek nie, maar of hulle die beste is.

Hulle wou die film Treurgrond noem. Vir my was dit aanvanklik ʼn probleem. Ek wou die integriteit en geloofwaardigheid van die naam “Treurgrond” beskerm. My voorwaarde vir die gebruik van die naam “Treurgrond” was dat ek eers die draaiboek wou sien voor ek toestemming vir die gebruik van die naam gee. Ek het die draaiboek gelees en ek het gehuil. Dit het my geskok, maar dit was realisties en het die storie vertel. Dit was nie politiek of propaganda nie. Ek was tevrede en die rolprent is Treurgrond genoem. Die film is nie op die boek gebaseer nie, maar dra die boek se naam.

Hulle voorwaarde aan die ander kant was dat ek geen voorwaardes vir die draaiboek mag stel nie. Net soos die departement handel en nywerheid wat die grootste borg is of enige ander borg nie die draaiboek mag voorskryf nie.

Verlede week het kritiek teen die rolprent uit twee oorde opgeklink. Die eerste kritiek het gekom van dr. Piet Croucamp. Met kwasi-wetenskap het hy ʼn byltjie met Steve Hofmeyr geslyp. Hy het nie die boek of die draaiboek van die rolprent gelees of die rolprent gesien nie, maar hy het die integriteit van die rolprent aangeval en verkeerde feite-aannames gemaak. Kort daarna het Deon Maas ook ʼn byltjie geslyp, skynbaar met Rapport se mediaborgskap van die rolprent, asook met Steve Hofmeyr en AfriForum. Hy het ook nie die boek gelees of die rolprent gesien nie. Maas, ʼn musiekpromotor, het ʼn simplistieste verduideliking van die oorsake van plaasmoorde, deurspek met verkeerde statistieke en feitefoute, gegee. Mense gaan dood en Croucamp en Maas slyp byltjies. Hulle skiet, maar op verkeerde teiken.

Om seker te maak die draaiboek en die rolprenttonele stem ooreen, het ek die rolprentstel gaan besoek. Shaleen Surtie-Richards was op haar beste, Jana Strydom was weereens uitstekend en Steve Hofmeyr het ongekende spel gelewer. Ek het die moordtonele aanskou: Kinders skreeu. Steve Hofmeyr lig sy bebloede hande op om te keer en ek dink aan my Oom Frik se laaste oomblikke. Het hy sy hande ook so opgelig? Ek sien Lukas se hande wat hy in die lug steek en hoor hom skreeu: “Nee!” Ek voel hoe Augustine probeer om die hande van sy keel af te druk. Ek hoor Willemientjie histeries skreeu terwyl hulle haar pa met ʼn panga doodkap en haar ma skiet, en ek hoor die skoot wanneer hulle haar teregstel. Ek hoor Oom Dawie sê: “Vat my, los net my vrou.” Sy hande keer, maar die hamer slaan, hou vir hou.

As Treurgrond in Mei begin draai en die name van die wat vermoor is aan die einde rol sal ons tussen trane vra: het ons genoeg gedoen?

Dr Dirk Hermann is bestuurshoof van Solidariteit en medeskrywer van die boek Treurgrond – Die Realiteit van plaasaanvalle

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Flieks, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bruno Stef ·

Dirk dit sal n ver pad gaan om al die afgryslikhede van die nuwe SA by die publiek en buiteland te vertoon. Die mense wat afrikaans kan praat en nogtans uit hulle bevooroordeelde posisies n platvorm probeer soek sal in hulle arrogansie later agterkom waaroor die hele gesprek gaan. Afrikaners moet die egoistiese snert wat hulle in die media opdis verwerp omdat die meerderheid van ons n beter opvoeding gehad het en die swak argumente onmiddelik sal kan indentifiseer.

Cathy Kotze ·

Dr Hermann, volgens my beskeie mening lê daar nog ‘n groot taak voor. U moet u boek in Engels vertaal. Dit behoort wêreldwyd gelees en versprei word.

Tans verskyn die meerderheid van berigte oor plaasmoorde in die Afrikaanse media. Die kere wanneer ek daaroor in die Kanadese koerante geskryf het, het dit groot reaksie ontlok. Die res van die wêreld MOET weet wat aangaan. U kan baie help om die situasie aan gewone mense te verkondig.

Jean ·

Stem absoluut %110 saam met jou Mev Kotze.
Dis al hoe die mense daar buite bewus sal word van die hartseer agterlangse gebeure tans hier in die RSA. Mense oorsee hoor net van die bekendes se doene en late die Oscars ens, maar nie die wat regtig die beskerming verdien nie. Die anc het die buite wereld gebruik om die wereld na sy pype te laat dans en dit is presies dieselfde druk wat ons moet gebruik van maak om hul tot verantwoording te roep.In die RSA wil dit blyk niemand in die vrot en eenogigge anc regering gee n dooie duit om vir die Boere Afrikaner en sy kind om wat gemartel en vermoor word nie, miskien doen iemand daar buite!!!

Sarie ·

As ek dit nie mis het nie is hierdie boek in Engels beskikbaar. Miskien moet dit as e-boek gepubliseer word. Ek het hierdie boek by ‘n boekuitverkoping in die Waterfront in Kaapstad gekoop. Wat my daardie dag opgeval het was die dame agter die toon bank se verbaasde gesig toe sy in Engels vra hoe hierdie boek daar beland het. Miskien was dit nie geoorloof om boeke wat nie politiek korrek is daar te verkoop nie.

Annie Small ·

Gaan nou die boek soek! Stem saam – maak ‘n Engelse fliek met ONS mense!

Johan ·

Goeie dag. Ek stem saam dat dit vertaal moet word! Wil net byvoeg! Dit moet in heelwat tale vertaal word,volgens my denke! WANT!? Hier woon Duitsers,Italianers,Grieke,Franse,ens,ens! Dit moet oor die hele Aardbol versprei word! Tot by die UN ook! (my Kleinneef is Redakteur by Rapport Koerant. Waldimar Pelser.)

Albert marais ·

Laat die hele wererld hoor en lees wat werklik hier in ons land aangaan.
Dis afskuwelik dat daat heeldag net oor anderkleuriges se “lot” gelees en gesien moet word.
Dit is niks anders as volksmoord op groot skaal nie en die anc sit net en toekyk en lag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.