Dié kortflieks draai vanjaar op die Silwerskermfees

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die Silwerskermfees, wat vanjaar vir die sesde keer aangebied word, gee dié jaar weer vir 15 aspirant-rolprentmakers en -draaiboekskrywers die geleentheid om hul storie op die grootskerm te vertoon.

Dié fees word van 24 tot 27 Augustus in Kampsbaai in Kaapstad aangebied en beoog om die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf deur middel van nuwe dokumentêre rolprente en kortprente ʼn hupstoot te gee.

Dié fees, Suid-Afrika se eie “Cannes-rolprentfees” in die kleine, het ʼn jaarlikse instelling geword. Dit is waar belanghebbendes in die bedryf soos regisseurs, vervaardigers, verspreiders, akteurs en ander die geleentheid kry om te ontmoet en waar daar vir ʼn paar dae lank net rolprente gepraat en geleef word. Dit is ook ʼn geleentheid vir die groeiende rolprentbedryf om die uiteenlopende stories van Suid-Afrika te vertel.

Die onderwerpe van die kortprente is uiteenlopend en jong en ook meer gevestigde talent wys weer dat die bedryf in Suid-Afrika in ʼn opwindende groeifase is.

Dié flieks word vanjaar vertoon:

Koue voete
Moenie ʼn misdadiger aan sy skoene takseer nie.

Die regisseur en skrywer is Lara Lourens wat aan die Performing Arts-leefstylinstituut in Pretoria studeer het waar sy praktiese ervaring opgedoen het in skryf, regie en toneelspel. Hoewel sy reeds haar teaterdebuut as regisseur gemaak het, is Koue voete haar eerste professionele kortprent as skrywer, regisseur en vervaardiger.

Die bok
’n Verbitterde swanger vrou veg om haar roostuin te beskerm teen ’n bok terwyl haar huwelik verbrokkel. Philip van Zyl is die regisseur en skrywer van Die bok. Hy is ’n rolprentmaker van Pretoria wat ’n voorliefde het vir eg Suid-Afrikaanse stories met sterk menslike temas. Paul Thomas Anderson, Denis Villeneuve en Martin Scorsese tel onder sy gunsteling-rolprentmakers.

Onthou
Wanneer ’n jong, sorgelose hippie aansoek doen as verpleër by ’n streng, vol nonsens en bejaarde vrou, is daar van meet af spanning. Tog ontwikkel hulle ’n dieper vriendskapsverhouding en leer mekaar hoe om die ander onvoorwaardelik te aanvaar. Ouderdom is net ’n syfer, maar hartsvriende bly deel van jou bestaan.

Die regisseur van Onthou is Susan Coetzer, ’n bekroonde aktrise wat bekend is vir haar teaterdebuut in Diepe grond, asook TV-reekse soos Daisy de Melker en Meester. Sy is ook ’n skilder, joernalis en skrywer. Sy tree landwyd op – óf as motiveringspreker óf met haar nuwe solokomedie Koek en tert, wat sy self geskryf het.

Die skrywer van Onthou is Elanie Rupping wat haar deurbraak as skrywer met die tweede seisoen van die kykNET-jeugdrama Sterlopers gemaak het. Sy is tans skrywer en teksredigeerder van die sepie Getroud met rugby.

Vlees van my vlees
Vyftien jaar ná ’n gruwelike motorongeluk vier ’n joviale man en sy kwadruplegiese vrou hul 20ste huweliksherdenking. Ten spyte van die romanse en selflose liefde noop die frustrasies van haar gebrek hulle om die waarheid van hul gebroke verhouding, verwyt, pyn en eie magteloosheid te trotseer.

Die regisseur en skrywer is Matthys Boshoff. Ná rolprentskool het hy vir vier jaar op verskeie internasionale rolprentstelle gewerk waarna hy ’n rolprentmakersresidensie in die VSA voltooi het. Hy het ervaring as skrywer vir televisie-drama en as regisseur vir plaaslike sowel as internasionale advertensies. Hy ontwikkel tans ’n paar rolprente.

Arts
André red beseerde diere, maar sy verhouding met die plaaslike veearts neem ’n donker draai wanneer sy ma begin inmeng. PG de Jonge is die regisseur en skrywer van Arts. Hy het halfpad deur ’n joernalistiekgraad besef hy hou meer van fiksie. Nou maak hy flieks en laat die nuus oor aan ander.

Merk. Sny. Stoor.
Wanneer ’n psigologiese versteurde man se traumatiese verlede sy hede beïnvloed word ’n vreemdeling die slagoffer van sy eie trauma.

Ricardo Liut, die regisseur en skrywer van dié kortprent, is ’n multimedia- en grafiese ontwerp-dosent by die Noordwes-Universiteit. Hy het ’n BA in grafiese ontwerp en spesialiseer in fotografie, rolprent en multimedia-ontwerp. Hy is tans besig met nagraadse studies. Sy MA in grafiese ontwerp fokus op rolprente, narratologie en kinematografie. In 2015 was hy die regisseur van die kortfilm Die monoloog saam met Zoo Productions.

En die wiele van die bus gaan om en om
Slapgat-busbestuurder Freddie Venter vervoer tien pasiënte van een inrigting vir geestesgestremdes na ’n ander, en dan verloor hy sy vrag.

Regisseur en Safta-wenner Pieter Grobbelaar smokkel al vir jare met ons harte en koppe met sy verhoogstukke, operas, televisiereekse en flieks. Pieter se skeppings lig ʼn mens se siel, met sy oorspronklike stem, unieke oog en gut vir komedie en ’n kreatiewe klap om die onmoontlike moontlik te maak. Die skrywer van dié kortprent is die fliek-fanatikus Marina Bekker wat haar plekkie in die son gekry toe sy begin skryf het. Met ’n hele paar toekennings op haar kerfstok gee sy deesdae vrye teuels aan haar obsessie om nuwe paaie oop te skryf en om flieks te maak in elke moontlike gedaante.

Kolskoot
Fanus Niemand is toe iemand. Die skrywer en regisseur is Wimpie van der Merwe wat in 2006 sy BTech-graad aan die rolprentskool van TUT behaal het. Bekend vir sy rol as skrywer en regisseur van Karate Kallie, werk hy sedertdien as skrywer, regisseur en kameraman in die rolprentbedryf.

Spoor(loos)
As ons maar net kon verdwyn.
Marisa Drummond is ’n bekende televisie-, rolprent- en teateraktrise en is die regisseur van Spoor(loos). Sy het haar debuut as regisseur in die nuwe kykNET-sepie Getroud met rugby gemaak. Die skrywer van dié kortprent is die Pansa-bekroonde skrywer Jannes Erasmus wat nou sy kortprentdebuut maak. Jannes is veral bekend vir sy grensverskuiwende teaterproduksies.

Oom
Ná oom Johan Booysens ’n jong man langs die pad oplaai, besef hy hoe gevaarlik die pad kan wees as ʼn mens nie jou geselskap ken nie.

Die regisseur en skrywer is PJ Kotze, ’n Johannesburgse rolprentmaker met ’n voorliefde vir platteland-stories, regte klein-dorpie-karakters en avontuur. Hy is op sy gelukkigste as hy onder die water of bo-op ’n berg kan staan met ’n kamera in sy hand en vrees na vreugde kan verander. Ná vyf jaar van klasgee in rolprentkuns, probeer hy tans sy ondervindings as ’n Suid-Afrikaner interpreteer en uit te leef deur film as medium.

Hum
Thomas hoor die verlammende hum-klank al vir so lank dat hy skaars kan onthou wanneer dinge vir hom begin skeef loop het. Met die hulp van sy psigiater, dr. Swart, begin hy om sy verlede te ontleed sodat hy vir Jana, die liefde van sy lewe, terug kan wen ten spyte van die onafwendbare gedreun asook die gevoel dat hy konstant dopgehou word…

Willem Grobler is ’n Kaapse skrywer en regisseur met ’n agtergrond in verskeie velde in die rolprentbedryf en is ook die skrywer en regisseur van Hum. Hy is ’n groot liefhebber van genre-prente, en met die ondersteuning van die NFVF ontwikkel hy tans sy speelprent God is Good, ʼn nieu-noir-fliek wat ondersoek hoe mense reageer as hulle gekonfronteer word met Suid-Afrika se ekstreme vorms van onreg en geweld. Sy bekroonde kortprent, The Great Gatsby: Redemption, is binnekort op die 2016 Durbanse internasionale rolprentfees te sien.

Die muse
’n Naïewe jong verpleegster word as oppasser aangestel om na ’n briljante, maar moeilike skrywer met Asperger-sindroom om te sien. Maar, as ’n skrywer sukkel om leuens te vertel, hoe is hy veronderstel om stories op te maak?

In 2014 ontvang Frannie van der Walt, die skrywer en regisseur van Die muse, ’n B-graad (cum laude) in visuele kommunikasie met rolprent- en TV-draaiboekskryf as hoofvak by Open Window in Pretoria, gevolg deur ’n honneursgraad in 2015 by Afda in Kaapstad met hoofvakke in draaiboekskryf en regie.

Plankekoors
Daar’s ’n fyn lyn tussen opwinding en vrees. Dis net woorde. Jy’t ’n keuse. Veg of vlug?

Nini Conradie is die regisseur en het haar honneursgraad in drama en teaterstudie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Sy spits sedertdien haar fokus toe op verskillende areas van produksie. Plankekoors is haar debuut as regisseur. Die skrywer van Plankekoors is Ludwig Binge wat in 2014 sy meestersgraad in drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Hy is ’n vryskut-akteur en was betrokke in verhoogproduksies soos Balbesit, Cabaret en Samsa-masjien, sowel as die speelprent Johnny is nie dood nie.

Die biker
’n Motorfietsryer kies die oop pad as ontvlugting. Het hy die regte afdraaipad gekies?
Geoffrey Butler en Lisba Vosloo is die mede-regisseurs van Die biker. Geoffrey is ’n vryskut-regisseur en -redigeerder van verskeie televisieprogramme en advertensies. Hy was onlangs mede-regisseur van ’n dokumentêre prent oor Pieter-Dirk Uys.

Lisba Vosloo is ’n bekroonde dokumentêre rolprentmaker, regisseur en redigeerder wat al aan verskeie programme gewerk het wat strek van opera tot oorlog. Sy en haar vennoot, Stef Albertyn, het ’n post-produksiefasiliteit teen die hange van Tafelberg in Kaapstad. Die redigering van die teks is deur Henry Cloete, ʼn skrywer van Kaapstad, behartig. Hy is betrokke by verskeie rolprent- en televisieprojekte en sy debuutroman, Draalnoot vir ’n janfiskaal, het in 2014 verskyn.

Beloofde land
Lodewyk Mouton is die naïewe heerser van die diktatorskap Anskroepolis. Wanneer ’n groep sosialistiese rebelle by sy herehuis opdaag en dreig om hom te onttroon, word Lood gekonfronteer met die realiteit van sy borrel-bestaan en die ellende van sy volk.

Mia Cilliers is ’n skrywer en regisseur van Kaapstad met ’n agtergrond in dokumentêre prente, web-reekse en werklikheidstelevisie. Sy het ’n meestersgraad in dokumentêre kunste aan die Universiteit Kaapstad. Sy is die skrywer en regisseur van Beloofde land.

kykNET het vanjaar ’n 16de projek geïdentifiseer wat nog nie gereed is vir uitvoering nie, maar glo baie potensiaal toon. Die projek se skrywer gaan onder leiding van kykNET se bekwame opdraggewende vervaardigers die draaiboek verder ontwikkel en dit sal by volgende jaar se kortprentprojek ingesluit word. Die titel van die prent en die naam van die skrywer sal op die Silwerskermfees in Augustus bekend gemaak word.

Besoek die Silwerskermfees se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.