Dié plaaslike films het vanjaar op die silwerdoek geskitter

Om ʼn lys van die “beste” films op te stel is amper net so moeilik as om ʼn gunsteling rolprent uit te sonder. Dié lys met plaaslike films is eerder ʼn herinnering aan die verskeidenheid van Suid-Afrikaanse rolprente wat vanjaar op die silwerdoek vertoon is.

Racheltjie de Beer

Vyf jaar ná hulle ma, Marie, se dood bevind die De Beer-kinders, die 12-jarige Racheltjie en die vyfjarige Jamie, hulself op pad na die Goudvelde van die Witwatersrand saam met hul pa, Herman, wat ’n nuwe lewe daar wil begin. Dit is op hierdie reis na ʼn nuwe begin wat Racheltjie in ʼn oomblik van onselfsugtige dapperheid, geskiedenis verander.

Lees: Leon van Nierop se resensie: Die verhaal van Racheltjie de Beer; Resensie: ‘Die verhaal van Racheltjie de Beer’ ʼn móét om te kyk; Foto’s: Die reis van Racheltjie de Beer

Kyk hier na die lokprent:

Ander Mens

Daniel Niemand is ʼn vervelige boekhouer wie se lewe onherroeplik verander nadat ʼn reeks misverstande sy lewe heeltemal omvergooi. Dié aksiekomedie word uit Luitenant Erica Kruger se perspektief vertel en is op Zirk van den Bergh se bekroonde roman met dieselfde titel, gebaseer.

Kyk hier na Fliekvlooi Floris se resensie.

Die Stropers/ The Harvesters

Die Stropers is die eerste keer in 2018 by die kykNET-Silwerskermfees in Kampsbaai aan Suid-Afrikaanse gehore vertoon, maar het eers in Maart vanjaar in rolprentteaters teaters gewys. Dit vertel die verhaal van Janno, wat in ʼn konserwatiewe boerderygemeenskap, wat behep is met manlikheid en krag, grootgeword het.

Kyk hier na die lokprent en Fliekvlooi Floris se resensie.

Dominee Tienie

Die rolprent vertel die storie van ʼn predikant wat sy selfvertroue moet terugkry as hy weer die ligstraal wil wees wat hy eens op ʼn tyd vir almal om hom was. Na 16 jaar in diens van die moedergemeente, word dominee Tienie gekonfronteer met ʼn skerp daling in die aantal gemeentelede en hy moet ʼn moderne samelewing wat baie vinnig verander, trotseer. Is hy dapper genoeg om sy gemeente in hierdie nuwe era te lei?

Lees: Frank Opperman ontgin in ‘Dominee Tienie’; Sallas de Jager: Rolprentmaker, musikant, gesinsman

Luister: ‘Predikantsvrou’ Henriëtta gesels oor ‘Dominee Tienie’

Kyk hier na die lokprent:

An act of defiance – die storie van Bram Fischer

Die fliek vertel die verhaal van Bram Fischer en sy gesin. Fischer was ‘n lid van die regspan vir die Rivonia-verhoor. Op ʼn wintersdag in Julie 1963, word ʼn polisieklopjag op ʼn plaas aan die buitewyke van Johannesburg uitgevoer. Nege swart en wit leiers van die verbode ANC en Umkhonto we Sizwe (the Spear of the Nation) word in hegtenis geneem. ʼn Tiende lid wat vroeër gearresteer is, word by die groep van nege gevoeg – Nelson Mandela.

Lees: Bram Fischer-fliek eersdaags op die grootskerm

Kyk hier na die lokprent:

Fiela se Kind

’n Bruin vrou wat in die dorre Karoo woon, neem ’n verlore wit kind in en maak hom as haar eie groot. Nege jaar later, word die seuntjie verwyder en word hy geforseer om in die Knysna Bos te leef saam met ’n familie houtkappers wat beweer hy behoort aan hulle. Fiela se kind is in 1988 die eerste keer verfilm. Dertig jaar later is dieselfde verhaal, dié keer deur Brett Michael Innes, weer verfilm, maar aangepas om in ʼn eietydse konteks relevant te wees.

Lees: Resensie: ‘Fiela se kind’ ʼn rolprenthoogtepunt dié jaar

Kyk: Akteurs vertel: Dié ‘Fiela se kind’ is anders

Kandasamys – The Wedding

In die verhaal staan die Kandasamys en die Naidoos, toevallig ook bure, op die punt om een ​​groot, gelukkige gesin te word. Jennifer Kandasamy en Shanthi Naidoo het hul eens besmette vriendskap hernu, en die twee kon nie gelukkiger wees dat hul kinders, Jodi en Prishen, moet trou nie. Dit is ‘n week voor die troue en die moeders bevind hulself in ʼn tuimeltrein van emosies, terwyl die verhouding van die jong paartjie op die proef gestel word.

Kyk hier na die lokprent:

Skemerson

Skemerson vertel die verhaal van ʼn jong man, Sella, wat besluit om sy eie lewe te neem. Terwyl hy op die 216 meter hoë Bloukrans-boogbrug staan om ʼn einde aan alles te maak, hoor hy ʼn vrou lag. Wanneer Emma, haar brose ma en Sella mekaar toevallig op die burg ontmoet, is dit die begin van ʼn naweek wat al drie se lewens vir altyd verander.

Luister hier wat Elize Cawood en Pietie Beyers oor die rolprent sê.

Kings of Mulberry Street

Twee negejariges besluit om hul gemeenskap van die bose karakter Raja te red. Hulle plan is om dit volgens die Bollywood-manier te doen. Die stryd tussen ontvlugting en die werklikheid is nie gelyk nie, maar tog deel die helde ʼn lojaliteit wat alles oorwin.

Kyk hier na die lokprent.

Stroop

Dié dokumentêre rolprent, wat fokus op die renosterstropingskrisis in Suid-Afrika, het reeds sowat 26 toekennings gewen en is by meer as 30 filmfeeste vertoon.

Kyk na die lokprent:

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae