Dié pottereeks vat jou op ʼn intergalaktiese kookavontuur

Le Creuset se Darth Vader pot. (Foto: Le Creuset)

Al is jy nie ʼn Jedi in die kombuis nie, sal Le Creuset se nuutste reeks potte jou beslis soos ʼn vernuftige Dexter Jettster agter die stoof laat voel.

Die ikoniese vervaardiger van gietyster kookware en die tydlose Star Wars-handelsmerk het koppe bymekaargesit om die nuwe reeks aan te bied, wat ʼn hele aantal van die gunstelingkarakters uit die ruimtefliekreeks wat in 1977 sy eerste verskyning gemaak het, bevat.

Verbeel jou, jy haal ʼn Han Solo-gietysterroosterpot uit die oond. Die oomblik sal dalk nie so dramaties wees as toe die Harrison Ford-karakter in karboniet gevries is en vir Prinses Leia sê: “Ek weet”, toe sy aan hom sê: “Ek is lief vir jou” nie, maar jy gaan nog steeds jou gaste of Star Wars-mal kinders beïndruk met die gebaar.

“Wat die unieke pot nog meer uniek maak, is dat dit die eerste roosterpot in die Le Creuset-stal is wat ʼn deksel het,” het die Franse vervaardiger in ʼn verklaring gesê.

Le Creuset silikoonmatjies. (Foto: Le Crueset)

Die reeks sluit ook drie mini-platbodem-kastrolle in, wat soos die R2-D2-, C-3P0- en BB-8-robotte lyk, maar ongelukkig nie die geluide en liggies maak waarvoor die robotte bekend is nie.

Die potte is dalk mooi en uniek, maar dit gaan dalk net ʼn Star Wars-fanatikus wees wat sy beursie groot genoeg sal rek om die pryse te betaal. Die reeks sal jou soveel as R6 550 vir die Han Solo-pot uit die sak jaag, terwyl ʼn kastrol met die Darth Vader se masker op die deksel geëts jou so R5 750 gaan kos.

Vir die meer begrotingsbewustes is die mini-kastrolle R435 elk, terwyl die Death Star – en Millennium Falcon- silikoonmatjie waarop jy warm potte kan plaas, R290 elk is.

Die beperkte reeks Star Wars x Le Creuset-reeks sal vanaf 1 November by verskeie boetiekwinkels en Yuppiechef beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.