‘Die Seemeeu’ ’n hoogtepunt by Silwerskermfees

Sandra Prinsloo in die Seeumeeu.

Die Afrikaanse filmweergawe van Anton Tsjekof se drama Die Seemeeu is ’n kragtoer, en een van die onbetwiste hoogtepunte van die Silwerskermfees, wat tans in Kampsbaai, Kaapstad, plaasvind.

Dis ’n swaargewig, ernstige, opwindende en briljant vervaardigde rolprent – aansienlik stewiger as wat gewoonlik uit die Afrikaanse rolprentbedryf voortkom. Dit bevat ’n sterk storielyn, meesleurende, dramatiese vertolkings deur ’n bobaas-rolverdeling en ook meer gekruide taal as die middelmoot-produksies wat die Afrikaanse mark tans oorspoel.

Die epiese verhaal van liefde, selfsug, magspel, ouderdom, jeug, wellus, tragiek, berusting, ideale en onvervuldheid word van negentiende eeuse Rusland na die Suid-Afrika van die 1990’s verskuif met dieselfde trefseker hand wat aan regisseur Christiaan Olwagen welverdiende lof en bekroning vir Johnny is nie dood nie besorg het.

Die interteks, tussenspel, ooreenkomste en verskille met Shakespeare se Hamlet wat in asimmetriese kringe soos vanaf ’n klippie oor ’n poel uitwaaier namate die gegewens uitspeel, is puik behou.

Die tempo, ruimte, draaiboek en spel is van ’n peil wat mens dankbaar maak dat hierdie kunstenaars hul talent in Afrikaans laat botvier. Die verhoogstuk word deur Olwagen en Saartjie Botha se avontuurlike en eietydse draaiboek aangedryf tot ’n spesiale ervaring. Luim word erns, komiek word tragiek en hoop word wanhoop namate elke karakter hulself toespin in ’n web waar hulle self die spinnekop is, al sien hulle die hand van ander en die noodlot daarin.

So loop die lewe mos maar.

Sandra Prinsloo as die selfbehepte, selfgeldende, wrede en verwelkende aktrise Irene lewer ’n vertoning deur ’n kunstenaar op die kruin van haar vermoëns – ook van die komiese. As sy nie die beste aktrise is wat Afrikaans nog voortgebring het nie, moet sy sowaar naby daaraan wees,

Maar dit is werklik so dat nie een van die ander akteurs ’n tree vir haar terugstaan in hierdie rolprent nie. Dit moet enersyds dui op die talent van die spelers, maar tog sekerlik andersyds op die briljantheid waarmee Olwagen die beste uit hulle haal.

Die rol van die bronstige en taamlik boerse Boors, suksesvolle skrywer en ywerige soeker na die vervulling van die vleeslike, verkry in Alyzzander Fourie ook ’n weerloosheid wat ’n ietwat onverwagse spel van lig en skadu in die hand werk. ’n Mens kan nie help om tog maar van die ou bok te hou nie.

Marius Weyers in die rol van die afgetakelde en teleurgestelde Piet – die man wat wou – speel met die selfvertroue, aanvoeling, eb en vloei van die meester. Gerben Kamper as dr. Eugene is die een karakter wat nie totaal gerig is op die self nie, en sowel die wil as die vermoë het om die ander mense met wie sy pad kruis, te verstaan en waardeer. Kamper lewer ’n innemende vertolking van die insider/outsider wat tegelykertyd aan die soom en in die kern van die verhaal funksioneer, en by tye onselfsugtig uitreik na ander.

Albert Pretorius het homself lankal as een van ons land se voorste jong akteurs gevestig. As rebellerende spieëlbeeld van sy ma, Irene, lewer hy ’n blink vertolking van die obsessiewe, onvolwasse en selfsugtige prulskrywer Konstant, wat meen dat hy alles raaksien, maar eintlik soveel miskyk en misloop.

Die verhaal is ’n Bermuda van liefdesdriehoeke waar hoor en sien vergaan, en een van die nodale punte is die aanvanklik naïewe Nina (Rolanda Marais), wie se brandende belofte en hoop immer die moontlikheid van uitbranding en as daarmee saamdra. Dis ’n uitbeelding van verharding, selfsug en leed wat Marais se vermoëns eer aandoen.

Cintaine Schutte se vertolking van enige rol is soos ’n helder lig, en as die wilde loot Masha verken sy ’n donker kant wat ons nie altyd van haar sien nie. Die ontwikkeling in haar karakter van onvervulde soeke na wrewelrige berusting is een waarmee te veel mense sal kan identifiseer, en die wyse waarop haar wanhoop van uitbarsting tot stilte muteer en vererger, is ’n belewenis.

Martelize Kolver as Masha se ma, Paulina, is ’n voortreflike samevoeging van die luimige en die desperate. Sy lewe kennelik vir die besoeke van die mense wat haar verag; sy lewe vir ’n lewe wat sy nooit kan hê nie. Kolver is ’n uitstekende aktrise wat in hierdie rol tot haar reg kom.

In die rol van haar man, Elias, lewer Deon Lotz die spel wat hom een van ons voorste akteurs gemaak het. Dit bly verstommend hoe hy kan inglip in die vel van ’n karakter, en die aanskyn daarvan in so ’n mate kan aanneem dat jy eintlik nooit kan dink hy is iets anders nie. In hierdie geval is dit eenvoud wat smag na meer, praktiese vermoë wat wens dit was elders, die randeier wat inloer na die kalklig, maar wat gering geag word deur diegene wat in elk geval niks buite hul eie sien of dien nie.

Geon Nel beskik as die platsak-onderwyser Simon ’n ongenaakbare opgeruimdheid wat maak dat almal hom wegwens. Hy dien dus as raakpunt en irritant vir Elias. Tragiek en komiek raak vervleg in ’n knap vertolking wat mens bybly, en as nodige teenpool vir melodrama dien – ’n ander vorm van ingeperktheid as die selfgerigtheid van die ander. Waar die ander – met die uitsindering van Eugene – nie die wil het om die wêreld van ’n ander te betree nie, het Simon (en, tot ’n kleiner mate, Elias) nie die vermoë nie.

Die Seemeeu wys waartoe die huidige Afrikaanse rolprentbedryf in staat is. Dis ’n grootse poging en ’n gehalteproduk wat hopelik ook die verskuldigde waardering van die publiek by die loket te beurt sal val.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daniel ·

Klink na ‘n goeie film maar wat my bekommer is die “gekruide” taal. Dit sal maak dat ek die film vermy, veral as daar lasterlike taal is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.