Dít is gewildste flieks wêreldwyd

Die sagtewaremaatskappy Amberscript het met behulp van die rolprentdatabasis IMDb ʼn opname gemaak van die gewildste rolprente van die afgelope sewe dekades in 130 lande.

Volgens die opname is drama die gunsteling-genre ter wêreld, gevolg deur komedie en biografiese rolprente. Romanse, Wilde Weste-rolprente en fantasie is onderaan die lys van gunsteling-genres.

Hoewel rolprente soos Skanderbeg, Seven Samurai en The Seventh Seal uit die 1950’s dateer, is dit steeds die topflieks in onderskeidelik Albanië, Japan en Swede.

Die VSA, Bangladesj en Kosovo het van die topflieks vervaardig, met hulle flieks wat onderskeidelik 9.2, 9.1 en 9.1 gegradeer is.

Suid-Afrikaners het die biografiese rolprent Hotel Rwanda, met Don Cheadle, Joaquin Phoenix en Sophie Okonedo, as die land se topfliek aangewys met ʼn gradering van 8.1.

The Shawshank Redemption, wat reeds in 1994 uitgereik is, is die VSA se topfliek met ʼn gradering van 9.2. Die animasieprent Finding Nemo is Australiërs se gunsteling terwyl China The Green Book verkies.

Joaquin Phoenix in ‘Hotel Rwanda’. (Foto: IMDb)

Nieu-Seelanders se gunsteling-rolprent is The Lord of the Rings: The Return of the King met ʼn gradering van 8.9. Die feit dat die The Lord of the Rings-trilogie hoofsaaklik in dié land geskiet is, mag dalk iets hiermee te doen hê.

In Nederland is Black Book die gunsteling-fliek, in Italië die Wilde Weste-prent The Good, the Bad and the Ugly en in Duitsland die Brad Pitt- en Edward Norton-treffer Fight Club.

Die Kanadese se topfliek is Interstellar, met Matthew McConaughey en Anne Hathaway. In Ierland is die riller Room die gunsteling terwyl die Batman-fliek The Dark Knight Brittanje se topfliek is.

Klik hier vir ʼn interaktiewe kaart na die wêreld se gunsteling-flieks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.