Donnalee oor gróót toekenning en ʼn lewe in die kollig

Donnalee Roberts. (Foto: Facebook)

Die kinderlike opgewondenheid is duidelik hoorbaar in Donnalee Roberts (34) se stem – nie ʼn sweempie voorgee nonchalantheid te bespeur nie.

“Ek is só opgewonde hieroor, nie net vir Stroomop nie, maar vir Suid-Afrikaanse rolprente in die algemeen. Al sou dit nie ons fliek gewees het wat hierdie toekenning ontvang het nie, maar ʼn ander Suid-Afrikaanse prent, sou my hart net soveel oorgeloop het, want dit beteken ons stories word op ʼn internasionale verhoog gehoor,” sê sy.

Stroomop het pas die Grand Remi-prys vir beste rolprent op die 52ste internasionale wêreldrolprentfees in Houston in die VSA gewen. Dié fees is die oudste onafhanklike rolprentfees ter wêreld en dié toekenning spog met ʼn indrukwekkende lys van vorige wenners: Steven Spielberg, George Lucas, Ridley Scott, John Lee Hancock en Randal Kleiser het almal al die Grand Remi-prys gewen. En nou kan Ivan Botha, skrywer en regisseur van Stroomop, ook sy naam by dié gesaghebbende lys voeg.

“Ek is so trots op Ivan! Hierdie was sy eerste fliek en dan slaan hy ʼn internasionale toekenning los. Hy is net gebore om flieks te maak!” borrel Donnalee oor haar sakevennoot en verloofde van die afgelope twee jaar.

“Ek weet hy is ook uit die veld geslaan hieroor. Hy is baie kalmer oor sulke goed – ek ontplof van opgewondenheid, terwyl hy ʼn bietjie rustiger reageer,” lag sy. “Maar ek ken hom en ek weet sy hart is so vol.”

Stroomop was Ivan Botha se eerste fliek as regisseur. Dié fliek het pas die Grand Remi-prys vir beste rolprent op die 52ste internasionale wêreldrolprentfees in Houston in die VSA gewen. (Foto: Verskaf)

Stroomop is ʼn avontuurprent en vertel die verhaal van vyf vroue wat die stormagtige waters van die Oranjerivier, en hul eie lewens, aandurf. Die prent is in uiters uitdagende omstandighede op die Oranjerivier en naby Onseepkans in die Noord-Kaap, asook rondom Johannesburg geskiet, en fokus op temas soos selfontdekking, vergifnis, aanvaarding en genesing.

Stroomop is nie die enigste projek wat Donnalee en Ivan al saam aangepak het nie – inteendeel, hulle is hand-aan-hand besig om diep spore in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf te trap.

Benewens Stroomop het die twee ook saamgewerk aan Pad na jou hart (2014) en Vir altyd (2016) en die wiele is reeds weer aan die draai vir ʼn nuwe fliek en drie televisiereekse.

Die twee het ook in Januarie vanjaar die klerereeks The Romantic Collective bekendgestel, een van Donnalee se lewenslange drome wat hulle saam bewaarheid het en wat binne enkele maande reeds ʼn dawerende sukses is.

Hoe is dit moontlik om só baie ysters in die vuur te hê en dan brand hulle almal so witwarm? “Balans is belangrik. Ek voel as jy nie iets voluit kan doen nie, moet jy dit nie doen nie,” sê Donnalee.

“Daar is genoeg ure in ʼn dag as jy die nodige beplanning aanwend. Ek dink as jy passievol is oor wat jy doen, maak daardie passie die ure in ʼn dag meer doeltreffend, want jy is anders gedryf as wanneer jy nié passievol is oor iets nie.”

Donnalee was juis weer onlangs deel van Laeveld Agrochem se Seil-safari waar sy honderde vroue op dié MSC-boot toegespreek het. Laeveld Agrochem was ook ʼn trotse vennoot van Stroomop. “Ek is ʼn passievolle motiveringspreker, ek is ʼn passievolle rolprentmaker, ek is passievol oor entrepreneurskap. Alles wat ek doen, word deur passie gedryf,” sê sy.

Donnalee Roberts en haar verloofde, Ivan Botha, het saam die avontuurrolprent Stroomop aangepak. (Foto: Facebook)

Ja, sê sy, daar gaan beslis baie beplanning in haar dag en weke in. Maar sy is ook oop daarvoor dat die lewe haar saamneem op sy soms onverwagte paadjies en draaie. “Ek dink as jy die vraag antwoord oor waar jy wil wees oor tien jaar, moet jou antwoord wees ‘gelukkig’. As iets jou nie gelukkig maak nie, hoekom dit enigsins doen?

“Ek sê nie daar sal nooit stresvolle tye of moeilike omstandighede wees nie, maar dit is nie die kern van wat jy doen nie. Jy kan nog steeds gelukkig wees al is jy hoe gespanne of hoe oorwerk. As jy altyd die vraag kan antwoord ‘hoekom doen ek hierdie?’ en die antwoord kan altyd volwaardig wees, want dit bring vreugde, dan is jy op die regte pad.”

Dié positiwiteit word ook weerspieël in die naam van haar en Ivan se klerereeks, The Romantic Collective. “Ek is ʼn hopeless romantic,” erken Donnalee. “Dit is meer as die romanse van wat die wêreld se beeld van wat romanse is. Dit is meer ʼn romantiese sin vir die lewe, wat op die ou end gaan oor deur watter kleur bril kies jy om na die wêreld te kyk.

Donnalee Roberts in Stroomop. (Foto: Verskaf)

Haar viering van die lewe se oomblikke en herinneringe is ook die inspirasie agter The Romantic Collective. “Ek kan my kas oopmaak en enigiets uit my kas uithaal en vir jou sê, ek het hierdie rokkie aangehad toe ek hierdie herinneringe gemaak het. Ek het hierdie uitrusting aangehad toe ons gaan roomys eet het, toe ons gaan piekniek hou het, toe ek daardie groot vergadering moes aanpak. Dit is die hart van The Romantic Collective. Dat dit meer sal wees as net ʼn kledingstuk, dat dit iets sal wees waarin jy herinneringe sal maak.”

Donnalee ontwerp baie van die klere self, terwyl van die items ingevoer word en ander ontwerp word in samewerking met ander klereontwerpers. Elke item word egter met sorg gekies en elke seisoen word gekoppel aan bewusmaking vir ʼn saak, soos die jongste seisoen met sy Afrika-tema wat spesifiek ontwerp is om bewusmaking vir bewaring te skep.

Die paartjie het onlangs die mooie Kaap hul nuwe huis gemaak. (Foto: Instagram)

Sy sê sy voel baie bevoorreg dat sy boonop die grootste deel van haar werk in haar moedertaal kan doen. “Ek is verskriklik lief vir my taal. Afrikaans is ʼn ongelooflike mooi taal en dit is ʼn taal waarin jy gevoel en emosie op so baie verskillende maniere kan uitdruk.”

Donnalee is passievol oor die Afrikaanse rolprentbedryf en sê sy is dankbaar om in ʼn bedryf te werk wat so divers is en waar so baie mense se stories vertel kan word. Sy stem egter nie saam met die persepsie dat Afrikaanse prente al beter word of nou eers op internasionale standaard is nie. “Watter maatstaf word gebruik wanneer mense sê Afrikaanse prente word al hoe beter? Vir my is dit al lankal goed. As jy dink aan flieks soos Paljas, besef jy dat goeie kwaliteit Afrikaanse rolprente nog altyd gemaak word,” verduidelik sy.

“Ek dink nie dat Afrikaanse films noodwendig beter word nie, maar ek dink wel daar is nou meer geleentheid om die talent wat nog altyd in ons land was te wys. Ek dink mense skep vir hulself meer geleenthede. Kanale soos M-Net en kykNET is wonderlike platforms waar mense nou hul stories kan vertel. Ons kry nou die geleentheid om ʼn verskeidenheid van mense se werk te sien wat almal talentvol is, en mense het nou die geleentheid om ʼn wyer verskeidenheid van rolprentmakers se stem en visie op die silwerdoek te sien.”

Ek vra oor ʼn lewe in die openbare oog wat soms ongenaakbaar kan wees en dikwels ongegronde kritiek uitlok – iets wat maklik deur die gesigloosheid van sosiale media vererger kan word. Hieroor is Donnalee net so oopkop soos sy is oor loopbaan.

Donnalee Roberts. (Foto: Facebook)

“Ek dink op die ou end maak dit nie saak watter persepsie jy probeer skep nie, mense gaan nog steeds hul eie opinie hê van wat hulle dink wat jou lewe is. My sosialemediaplatforms is ʼn celebration. Ek het die keuse gemaak dat enige iets wat ek op sosiale media deel, ʼn viering sal wees – ʼn viering van ons werk of ons rolprente of ons projekte, ʼn viering van ander mense se werk wat ek ondersteun, ʼn viering van oomblikke of geleenthede. Dit is ʼn platform waardeur ek kan dankie sê, waardeur ek ʼn lig op ander mense se projekte en werk kan skyn, en dis ʼn platform om die hart en storie agter ons prente te deel. My hart waarmee ek goed op sosiale media deel is altyd reg en ek hoop dat mense altyd my hart daarin sal kan sien.”

Dit verg nie vreeslik baie moeite om Donnalee se innerlike raak te sien nie. Dié donkerkop skoonheid loop met haar hart op die mou – en daardie hart is móói.

“Jy hoef nooit baie te hê om baie te gee nie,” sê sy. “Wanneer die lig in jouself helder genoeg is, is daar meer as genoeg om dié lig ook op ander te laat skyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theo ·

Ons moderne rolprente is van wereldgehalte en dit hoog tyd dat ons rolprentmakers erkenning kry ?Baie geluk.

Penelope ·

Pragtige twee mense. Ek het die fliek gekyk en dit was so lekker om weer ‘n ‘n afrikaanse rolprent te kyk waar ons as Suid-Afrikaners se name nie met ‘n plank geslaan word nie. Dit het so normaal en sonder aansit gebeur soos in die alledaagse lewe. Ivan en Donnalee vul mekaar so mooi aan, julle gaan nog ver kom.
Baie sterkte vir jul toekoms en ons hoop om gou die trouklokkies te hoor….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.