Drikus Volschenk meen dis voordelig om soos ʼn skurk te lyk

Drikus Volschenk meen dit is voordelig om soos 'n skurk te lyk. (Foto: Verskaf)

Drikus Volschenk meen dit is voordelig om soos ‘n skurk te lyk. (Foto: Verskaf)

Google jy vir Drikus Volschenk, kom jy slegs op ʼn IMDB-blad af waar die legio flieks waarin dié gesoute akteur al rolle vertolk het, verskyn. Sy Facebook-blad wemel ook nie van persoonlike plasings en bemarking nie en hy lê laag op sy Instagram-profiel.

“Sosiale media was net nog nooit vir my belangrik nie,” vertel Volschenk waar hy homself gemaklik maak op die rusbank in Maroela Media se kantoor.

“Mense is deesdae só erg oor sosiale media dat hulle geleenthede bywoon nét om ʼn foto te laat neem. Niks is meer net vir die pret nie.” Hy skud sy kop. “Ek wil graag hê dat my werk namens my moet praat. Ja, daar is meisies wat dalk 10 000 volgelinge op Instagram het, maar waar is die gravitas?”

Dit is ʼn siekte van ons tyd, voeg hy by. “Ek sien dit onder die studente met wie ek werk. Hulle wil net bekend wees. Dít is wat ek nie van sosiale media hou nie – daar is ʼn desperaatheid in die lug wat heeltyd op die plasings hang.

“Ek gaan werk eerder aan ʼn fliek en kry ʼn ordentlike CV agter my naam, of gaan studeer iets en stimuleer my brein. Baie mense sal miskien sê ek redeneer juis so oor sosiale media oor ek jaloers is omdat ek nie soveel volgelinge het nie. Ek voel: Geniet jy jou 20 000 followers, ek sal eerder werk aan my 20 000 flieks.”

Die gebore en getoë Durbaniet praat prontuit. Hy is in 1979 in dié stad gebore. Sy ouers was albei onderwysers aan Kuswag Hoërskool in Amanzimtoti en dis ook híér waar hy uit ʼn whiskyglas gedoop is.

Hy lag uit sy maag van lekkerkry as hy die storie vertel. “My pa vertel die storie eintlik die beste. Die dominee het die dag van my doop die doopbakkie vir die water by die huis vergeet. Ná ʼn groot gespartel was ʼn whiskyglas al wat hulle kon kry en is ek uiteindelik uit dié whiskyglas gedoop.”

Ná skool het hy ʼn draai oorsee gemaak waar hy vir twee en ʼn half jaar gewerk het voordat hy teruggekeer het na Suid-Afrika om drama aan Afda te studeer. Daarna het die rolle begin volg, die een na die ander. Hy skerts dat die rol van polisieman die een is waarvoor hy al die meeste gekies is.

“Dalk is dit oor ek bles is en die uitdrukking op my gesig? Ek het al baie werk gekry in my lewe en as jy ʼn pretty boy is, sukkel jy soms om werk te kry. Ek glo dit is voordeliger om meer soos ʼn skurk te lyk. As ek ʼn baard het lyk ek soos ʼn tipiese Afrikaner-man en ek het al nee gesê vir ʼn paar rolle. Dit is soms baie bemagtigend.”

Gevra of daar iets is wat hy nié voor die kamera sal doen nie, benadruk hy dat solank dit gemotiveerd is vir die karakter, hy dit sal doen. “Ek kry soveel keer met vrouestudente te doen wat byvoorbeeld sê sy wil iemand nie soen nie, want die akteur teenoor wie sy speel is nie vir haar aantreklik genoeg nie. Dan sê ek: Gaan werk in die bank, want daar hoef jy nooit iemand te soen nie.”

ʼn Tropdier is hy nie. “Ek kon nog nooit só funksioneer nie. Dit doen geen persoon, veral nie ʼn akteur nie, goed om deel van ʼn kliek te wees nie. Ek is eerder uit as dat ek myself verraai.”

Drikus het al 'n legio rolle vertolk, maar eien sy rol as die prokureur in 'Dis ek, Anna' as een van die bestes. (Foto: Verskaf)

Drikus het al ‘n legio rolle vertolk, maar eien sy rol as die prokureur in ‘Dis ek, Anna’ as een van die bestes. (Foto: Verskaf)

In sy eie omgewing tussen mense waarmee hy eie is en wat hy gesellig vind, gesels hy baie en lag hy baie. “Ek het ʼn soort van sosiale angstigheid, ek is nie die een wat eerste by ʼn vertrek instap nie. Ek hou van grappe, maar ek is nie ʼn grapverteller nie. Ek hou van mense wat van nature snaaks is en mense wat val is ook vir my verskriklik snaaks.”

Hy eien Dis ek, Anna, die fliek wat geskoei is op die gewilde boek deur Anchien Troskie, as een van die beste flieks waaraan hy tot dusver gewerk het. Hy is vol lof vir die regisseuse, Sara Blecher.

“Buiten die feit dat dit een van die min Afrikaanse tekste is wat ek al gelees het waar ek net dadelik gevoel het ek wil die fliek doen, was dit ook die eerste keer in my lewe dat ek met ʼn vroueregisseur gewerk het. Dit was só ongelooflik. Sy bring net iets heeltemal anders in ʼn mens na vore.”

Daarna het hy met ʼn hele rits regisseuses gewerk. “ Ek geniet dit. Hulle is baie goed daarmee om emosie uit ʼn mens te kry. Hulle sê net een ding en jy verstaan presies wat hulle bedoel.”

ʼn Groot hoogtepunt in sy loopbaan tot dusver was sy betrokkenheid by die internasionale rolprent Maze Runner: The Death Cure. “Dit is skop, skiet en zombies en dit was fantasties,” lag hy.

“Ek het ʼn oudisie afgelê en ná die eerste een het ek vir ʼn lang ruk nie van hulle gehoor nie.  Uiteindelik het hulle teruggebel en gesê hulle hou van my, maar verstaan nie my Suid-Afrikaanse aksent nie. Met die tweede oudisie doen ek toe ʼn Amerikaanse aksent, waarin ons geen opleiding in Suid-Afrika kry nie. Daar word bittermin aandag aan aksentwerk gegee in Suid-Afrika.”

Gelukkig het hy net ʼn paar lyne in Maze Runner gehad en het die aksent nie te veel gelol nie. “Dit was ʼn klein rol. Ons was drie of vier Suid-Afrikaners wat daarin speel met sowat drie of vier lyne elk.”

Die fliek is in Kaapstad geskiet. “Die naproduksiespan het die hele Kaapstad in ʼn ongelooflike stad omskep met rekenaartegnologie. Dit lyk soos ʼn foreign planet city. Kaapstad is deesdae ʼn baie gewilde plek om flieks te skiet, omdat dit vir oorsese maatskappy so goedkoop is en dit is ʼn beeldskone landskap, selfs wanneer daar nie water is nie. Ek dink die internasionale rolprentspanne besef ook Suid-Afrikaanse akteurs is régtig goed.”

Hy verklap dat hy weer op pad Los Angeles toe is later vanjaar. “Net vir ʼn kort tydperk vir ʼn paar vergaderings, want ek is op soek na ʼn agent. Die oomblik wanneer jy ʼn Amerikaanse rolprent doen, is jou kanse amper 100% om ʼn agent daar te kry. Hulle kyk na jou Afrikaanse goed wat jy al gedoen het en trek hulle skouers op, maar die Amerikaanse flieks laat hulle regop sit. Ek het dit voor Maze Runner nooit geweet nie.”

Dit hinder hom dat jong regisseurs in Suid-Afrika nie genoeg geleenthede gegun word nie en verwys na die flieks Wonderlus en Kanarie wat onlangs opslae gemaak het in die Afrikaanse rolprentbedryf.

“In Amerika wen 23-jariges al Oscars! Hulle maak flieks op die ouderdom van 25 wat kompeteer vir ʼn Oscar, en ons Afrikaanse omies sit daar en sê: Nee, jy moet as koffie runner begin op stel.”

Hy maak sy stem dik en swaai sy vinger terwyl ʼn Afrikaanse oom namaak. “Daar is ʼn hiërargie van dinge, seun, jy moet eers die kamera dra. Jy mag nie ʼn regisseur wees op 25 nie.”

Drikus vertel dit het geen akteur nog ooit goed gedoen om deel te wees van 'n kliek nie. (Foto: Verskaf)

Drikus vertel dit het geen akteur nog ooit goed gedoen om deel te wees van ‘n kliek nie. (Foto: Verskaf)

Hy is baie geheg aan sy ouers wat hom nog altyd in sy akteursloopbaan ondersteun het. “Ek het twee susters. My ouer suster woon in Johannesburg en my jonger suster is ʼn dokter in die noorde van Ierland, daar waar hulle Game of Thrones skiet – waarvan ek nog nooit een episode gesien het nie,” bieg hy.

“My ouers woon tans op Potchefstroom, so Aardklop-tyd is baie lekker, want ek kan my ma se kos eet terwyl ek daar is!”

Op skool was hy ʼn kranige atleet, vertel hy. “Ek het onlangs met Crossfit begin en ek is mal daaroor. Ek is seker nou maar een van daai Crossfit freaks. Ek woon die sessies ses keer per week by. Dit voel vir my party dae soos st. 7-atletiekoefening by die skool. Ek was baie afgesonder vir ʼn paar jaar, veral in my vroeë dertigs, en nou soek ek skielik weer na ʼn gemeenskapsgevoel.”

Oor sy geloof is hy uiters ernstig. “Ek kan nie dink hoe mense sonder God kan wees nie. Ek het ʼn baie naby verhouding met God, maar dalk nie noodwendig in die tradisionele sin nie. Ek behoort nie aan ʼn kerk nie, hoewel ek in die Dopperkerk grootgeword het. Ek kry hoendervleis as ek daaroor praat, want as daar een ding is wat ek weet, is dit juis dit – dat God leef. Ek is nou nader aan Hom as wat ek ooit in my lewe was.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.