Eerste kykie: Grensoorlog-fliek vertel oor oorlewing

Greg Kriek (Foto: The Recce)

Die akteur Greg Kriek van Modder en Bloed– en Tess-faam sê die voorbereiding vir die rol van ʼn recce (verkenningsoldaat) in ʼn nuwe fliek wat afspeel in die Grensoorlog was een van die uitdagendste projekte wat hy nóg in sy gevierde loopbaan aangepak het

Kriek is later vanjaar as Henk Viljoen in dié tweetalige fliek, The Recce, te sien. Die fliek vertel hoe Viljoen verkeerdelik agter die kaplyn dood verklaar word en elke hulpbron tot sy beskikking moet inspan om weer by sy vrou en gesin – wat hul eie emosionele oorlog tuis voer – uit te kom.

In dié stryd moet die karakter alles wat hy tot in daardie stadium oor die oorlog geleer het, gebruik om sodoende met sy gesin herenig te word; maar die vyand bly heeltyd kort op sy hakke.

The Recce is nie gegrond op ʼn ware verhaal nie en is ook nie die fliekweergawe van Koos Stadler se boek, Recce: Small Team Missions Behind Enemy Lines, nie.

Kriek sê hoewel die fliek nie ʼn ware lewensverhaal vertel nie, was die vertolking van dié rol soms emosioneel uitmergelend omdat baie van die gebeurtenisse binne die fliek tog dié van baie jong mans in die Grensoorlog was.

“Hoewel die fliek binne die milieu van die Grensoorlog afspeel en oor die jong soldate se uitdagings in die oorlog vertel, het The Recce nie ʼn politieke agenda nie,” sê hy.

De Klerk Oelofse, Grant Swanby, Greg Kriek en Maurice Carpede (Foto: The Recce)

“Die fliek vertel van oorlewing en wat dit verg om te oorleef wanneer alles rondom jou inmekaar tuimel. Dit ís ʼn ode aan die mans wat hul eie lewe op die spel geplaas het om vir hul land en geliefdes te baklei, maar die storie word nie ingeperk deur taal, kultuur of herkoms nie.”

Kriek sê die karakter was kompleks om te vertolk en hy moet buiten fisieke uitdagings ook sielkundige en emosionele uitdagings aandurf. Sy rol in The Recce het hom gedwing tot vrae soos: Waarvoor baklei ons régtig – in die oorlog, maar ook in ons harte? Wat maak van ons mense? Wat dwing ons om te doen wat nodig is om te oorleef?

Kriek sê die verhaal is een waarmee kykers hulle sal kan vereenselwig. “Akteurswerk is ʼn ware weerspieëling van die mensdom. Dít het ek weer beleef tydens die verfilming van hierdie fliek. Binne ons elkeen is ʼn vuur – soms word die vuur gebruik net om te baklei vir oorlewing.”

Die akteur sê die hele filmspan het doelbewus gepoog om dié fliek as kunsmedium te verken. “Daar was nie eens gebruik gemaak van ʼn ‘green screen’ nie. Die hele span het alles gegee om seker te maak dat ons die verhaal eerlik vertel. Ek het self in riviere gespring en die meeste van my toertjies self uitgevoer; en ek wóú dit so hê. Ek dink nie jy kan ʼn fliek soos The Recce maak sonder om ʼn bietjie te waag nie.”

Greg Kriek en Christia Visser (Foto: The Recce)

Kriek was nié deel van die generasie jong mans wat gestuur is om diensplig af te lê nie. Hy sê die rol van ʼn recce was daarom vir hom ʼn uitdaging.

“As jong kind was ek altyd gefassineer deur die stories van diegene wat in die oorlog was. As akteur was dit vir my ʼn groot voorreg om só ʼn rol te vertolk en ek wou die uitdaging daarom met albei hande aangryp.

“Ek het soveel navorsing moontlik gedoen om dan reg te laat geskied aan die storie, elke boek moontlik gelees en selfs skerpskutter- en perdry-opleiding ontvang. Ek is baie opgewonde om te hoor wat kykers sê.”

Akteurs soos Marius Weyers, Albert Maritz, Grant Swanby, Christia Visser, Maurice Carpede en Sonni Chidiebere is ook in die fliek te sien.

The Recce begin op 28 September landwyd in teaters draai. Vir meer inligting, besoek The Recce se amptelike Facebook-blad of die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

hendrik ·

Recce, recce, recce. Ek waardeer wat hulle vir ons beteken het maar die hele weermag het nie net uit verkenningssoldate bestaan nie. Die gewone soldaat was net so n noodsaaklike speek in die wiel om die weermag kon te laat werk. Vra vir my, ek was ook n vegtende soldaat op die grens en in Angola soos duisende ander.

Stef ·

Ek was self n Recce, en ek stem 100% saam jou Hendrik, als wat mens hoor van die oorloe is recce dit en recce dat. Die feit is sonder die support en hart van vegtende soldate kon ons nie as Recces ons werk so goed doen nie.

Jason ·

Die Recce’s was awesome, maar soos Hendrik tereg se was daar BAIE soldate behalwe Recce’s wat ook geveg en hulle lewens verloor het. Ongelukkig het RECCE so ‘n ‘handelsmerk’ geword dat almal deesdae vir jou vertel hulle was Recce’s dan kom jy later agter hulle het army boots in die stoorkamer uitgedeel .. Regte Recce’s praat nie ….

Marthinus Willemse ·

Ek was `n sappeur (landmyne en brue). My jongste broer, Paul, was `n mediese ordonnans (medic), en tydens diesplig is ons maar lekker gespot, dat ons “rustige” jobs het. Eers toe ek die fliek Saving Private Ryan se strandtoneel sien, het ek besef hoe ontsaglik dapper my jongste broer was, om gewonde makkers van die slagveld af te dra. My vriend se eenheid was vasgepen tussen die grens met Swaziland. Hy moes `n week in die bloedige son, en tussen die ontbindende lyke van sy makkers lê, voordat Pretoria `n chopper (helikopter) kon aftsaan om hulle uit te haal. Ek is daarom bly dat die kommentators opstaan vir ons gewone soldate. Baie dankie.

White Rhino ·

Dit is jammer dat vandag se jeug nie dieselfde rugraat het as wat ons jong en ouer soldate in die bosoorlog gehad het nie.
Ek het groot respek vir ons soldate /troepe/pf’s – gehad en het dit nou nog.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.