‘Eintlik nogal baie’ vir die hele gesin

André Lötter, Marisa Drummond en Zak Hendrikz (Foto: Verskaf)

André Lötter, Marisa Drummond en Zak Hendrikz (Foto: Verskaf)

Die nuwe Afrikaanse fliek, Eintlik nogal baie, gaan kykers weer vasgenael hou met die outydse suksesverhaal van ʼn romantiese komedie.

Dit vertel die storie van Jay van Niekerk (André Lötter), ʼn aantreklike maar teruggetrokke strokiesboek-animeerder, wat sy lewe deeglik in beheer het.

Alles verander egter wanneer hy vir Ally ontmoet; sy is pragtig, vry van gees en op ʼn reis van selfontdekking. Te danke aan omstandighede buite hul beheer word hulle, teen Jay se sin, op ʼn avontuur gedwing. Ongeag hul botsende geaardhede raak hulle al hoe meer aangetrokke tot mekaar en word dit heeltemal onvermydelik om verlief te raak.

Die pad vorentoe is nie sonder hindernisse nie en Ally se oorbeskermende pa, asook haar ekskêrel, plaas verskeie struikelblokke in Jay se pad om homself waardig te bewys.

Dié fliek is gebaseer op die draaiboek, Ally. Eintlik nogal baie is geskryf en vervaardig deur Jarrod de Jong en Pieter Oosthuizen. Jacques Brand het die regie behartig.

“Die intieme rolverdeling van gesoute akteurs en ʼn storie wat gelaai is met ʼn goeie balans van romanse, komedie, aksie, spanning en tragedie, gee Eintlik nogal baie ʼn sjarme wat toewyding in ander inspireer,” het De Jong vertel.

Hy vertel ook die fliek gaan verskeie emosies by mense ontlok. “Dit is definitief ʼn film wat die hartsnare prikkel en jou weer laat glo in die lewe. Kykers sal genoeg sneesdoekies byderhand moet hou wanneer hulle die film gaan kyk.”

Akteurs soos André Lötter, Marisa Drummond, Zak Hendrikz, Ashmund Martin, Elsabé Daneel, Anton Dekker, Susanne Beyers, Themsi Times en Hein die Vries is in die fliek te sien.

André Lötter is bekend vir sy rolle in die sepies Villa Rosa en 7de Laan. Marisa Drummond is ook bekend vir haar rolle in gewilde sepies soos Isidingo, Villa Rosa en Binneland.

Eintlik nogal baie is vervaardig in samewerking met The National Film and Video Foundation en The DTI en word deur Times Media Films versprei.

ʼn Spesiale voorafvertoning van die fliek word op 24 Augustus om 16:00 by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai vertoon. Die fliek begin op 4 November in teaters landwyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.