‘Ek het heeltemal obsessief geraak oor die film’

christia-visser

Christia Visser Foto’s: Boondogle Films

Yolanda Wessels

Die regisseur van Tess, Meg Rickards, het verskeie toekennings in haar loopbaan ontvang, onder meer die dokumentêre toekenning by die Durban Internasionale Filmfees vir 1994: The Bloody Miracle.

Meg sê: “Natuurlik is dit verblydend om toekennings te ontvang, dit is goeie reklame vir die film, maar dit bly belangriker om te fokus op die daadwerklike verfilmingsproses sodat my films die gehoor en mense op die grond aangryp.”

Tess is ʼn aanpassing van Tracey Farren se trefferboek, Whiplash. Meg vertel dat haar emosies wipplank gery het nadat sy die boek gelees het. “My onmiddellike instink was ek sal my voortande gee om dit te vervaardig! Ek het dadelik vir Tracey genader en my maatskappy het die regte vir verfilming verkry. Dit was ʼn goeie ervaring om saam met haar te werk en ons sal beslis in die toekoms weer saamwerk. Sy is briljant in die skep van geloofwaardige karakters. Ek het heeltemal obsessief geraak oor die film. As vrou en ma lê ek soveel nagte wakker en is so bekommerd oor hoe vroue en kinders in ons land behandel word. Daar word gesê ʼn vrou wat in Suid-Afrika gebore word se kanse is groter om verkrag te word as om te leer lees. Ek het gehoop dié film sal die dialoog stimuleer oor hierdie diepgewortelde plaag in ons land.”

Die ongelooflike span akteurs het hulle uitstekend van hul taak gekwyt. Christia Visser is een van die talentvolste jong aktrises van haar generasie; inteendeel, Meg glo selfs wêreldwyd. “Sy is so natuurlik voor die kamera. Haar toneelspel kom van diep binne. Sy was braaf om hierdie rol aan te pak en ek weet dit het ʼn diep emosionele uitwerking op haar gehad. As deel van die navorsing het ek en Christia ʼn groep sekswerkers een middag ontmoet. Ons kon openhartige besprekings hê en vrae vra wat nodig was vir ons om die tema emosioneel te kon verstaan. Brendon Daniels het ʼn baie eerlike en kragtige vertolking gelewer en dit was ʼn plesier om saam met hom te werk. So ook met die ander akteurs, Quanita Adams, Dan-Jacques Mouton, Lee-Ann van Rooi en Nse Ikpe-Etim.”

christia-visser-and-tashanay-daniels

Christia Visser en Tashanay Daniels

Meg vertel dat dit onmoontlik was om haar te distansieer van dié onderwerp tydens verfilming. “Ek het self twee jong kinders en tydens die maand lange verfilming het ek in Muizenberg gebly en hulle net op my af dae gesien. Die film het elke ons van my emosionele energie benodig en ek was emosioneel uitgeput teen die einde. Dit het ʼn tydjie geneem om te herstel voor ek weer my volgende projek kon aanpak.”

Die Grammy-wenner, Christopher Tin, het die klankbaan saamgestel. Meg het hom ontmoet tydens haar studie in Londen en hy het al die klankbane behartig vir haar studentefilms. “Ek was só bly toe hy instem om die klankbaan vir Tess ook te doen. Tess het drie toekennings by die Durban Internasionale Filmfees gewen, waaronder Beste Suid-Afrikaanse Film. Ons het nog drie toekennings ontvang by die Silwerskermfees en Christia het erkenning ontvang as Beste Aktrise by beide.”

Tess het so pas begin draai in internasionale kringe en word baie hartlik ontvang. “Ons het ook pas geteken met ʼn internasionale verspreider en is baie opgewonde daaroor. Ek is baie dankbaar vir my vervaardigers, Paul Egan en Kim Williams, en kameraman Bert Haitsma. Dié drie het ʼn ongelooflike bydrae gelewer om dié droom te bewaarheid.”

Tess is ʼn film wat empatie bevorder en besprekings aanroer. Die karakter, Tess, se reis spreek vanself en dis nie net ʼn film met ʼn boodskap en ʼn les nie. “Ek hoop van harte dit laat mense dink en hul aannames bevraagteken.”

Ondanks haar sukses glo Meg haar grootste uitdaging is om sterk te bly en ʼn vel so dik soos ʼn renoster te kweek! “Daar is soveel nee’s in die allerbelangrike finansieringstadium, jy moet 100% passievol oor ʼn projek wees om dit op die skerm te kry. Ek het letterlik honderde idees onder oë gehad voordat ek begin werk het aan my volgende projek, Borderlines, ʼn baie uitdagende en intrigebelaaide politieke riller deur die Britse skrywer, Michela Wrong. Ek het hierop besluit omdat dit my belangstelling en passie lank benoeg sal behou sodat ek aan gehore nét my beste kan lewer.”

Tess is tans by uitgesoekte teaters te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trots SA ·

Ek kan nie wag om die fliek te gaan sien nie! Dankie dat dat die geweld teen vrouens en kinders in SA so uitgebeeld word, dis tyd dat ons SA vroue ons lewens terug eis van die gemene varke!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.