Elize Cawood: Girly se stem vir altyd stil

Elize Cawood. (Foto: Antonia Steyn)

Huldeblyke van kollegas in die kunstebedryf wat saam met Elize Cawood op rolprent- en televisiestelle gewerk en saam met haar agter die mikrofoon ingeskuif het, stroom steeds in ná haar dood Saterdag. Cawood, ʼn aktrise wat in haar loopbaan wyd lof ingeoes het, het haar stryd teen kanker op 68 verloor.

“Ek voel haar geniale werk op radio word geringskat,” sê die bekende skrywer en rolprentresensent Leon van Nierop, wat vir ses jaar (1995 tot 2001) saam met Cawood aan die radiodrama Stralerjakkers gewerk het.

Cawood het die rol van Girly Lubbe in dié drama uit Van Nierop se pen vertolk. “Waar ons aanvanklik ʼn bietjie gesukkel het om die presiese toonaard van die karakter gedurende die eerste twee weke se opnames te vind, het ek na haar in die ateljee geluister.

“Sy het my gevoer om die karakter regtig ʼn volbloed-Girly te maak, een van die gewildste karakters sedert die Du Plooys se tant Hybie. Sy het my ondersteun om van ʼn moeilike karakter ʼn mens te maak, nie ʼn stereotipe nie,” onthou Van Nierop.

Cawood het ook dié rol vir drie jaar in Van Nierop se verhoogstuk Girly se konstitusionele kwellings op talle kunstefeeste vertolk.

Elize Cawood saam met Hans Strydom (links) en Leon van Nierop (regs) tydens ‘n opname van ‘Stralerjakkers’ in 1999. Cawood was bekend vir haar rol as Girly Lubbe in dié radiodrama. (Foto: Facebook/Leon van Nierop)

Vir haar voorlesing van die roman Skrikkelkind: Girly se storie het sy ʼn ATKV Mediaveertjie verower.

Die veteraan-aktrise is verlede jaar met kanker gediagnoseer. Lizz Meiring, aktrise en jarelange vriendin van Cawood, vertel sy het nooit oor haar siekte gekla nie.

“Sy het ʼn fenomenale sin vir humor en pret gehad. Magistraal talentvol, verfynd, slim en deernisvol. Elize kon soos min ander onder ʼn karakter se vel inklim en omvorm tot ʼn totaal ander wese en volronde karakter. Ek het die grootste liefde en respek vir haar gehad.

“Saam met haar geliefde man, Wilson Dunster, die onbeskryflike wonderlike akteur, het hul nog vanjaar – sy in haar laat sestigs en hy in sy sewentigs – nuwe produksies aangepak, getoer en self gefinansier. Hulle liefde en respek en lojaliteit vir mekaar was vir ons almal ʼn voorbeeld.”

Cawood en Dunster is in 1982 getroud. Hulle het twee kinders, ʼn seun, Luke, en dogter, Jenna. Sy is in 1952 gebore in Bloemfontein en het matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal. Sy het aan die Universiteit van die Vrystaat haar BA-graad in drama verwerf.

Elize Cawood is verlede jaar met die kykNet Fiësta Teaterlegende-toekenning vereer. (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Sy het in die vroeë tagtigs bekendheid verwerf vir haar rol as Pop le Roux in die televisiereeks Verspeelde lente en was meer onlangs te sien in rolprente soos Die wonderwerker (2012), Dis ek, Anna (2015), Vir die voëls (2016) en Skemerson (2019).

Sy is in Februarie vanjaar met ʼn Fiësta-toekenning bekroon vir haar lewensbydrae tot Afrikaanse teater. Sy is ook benoem vir ʼn Safta-toekenning vir haar rol in Skemerson.

Pietie Beyers, wat teenoor Cawood in Skemerson gespeel het, sê hy het haar die eerste keer op die stel van dié rolprent ontmoet.

“Diep siele hoef dit nie van hulleself te sê nie. Reusegees woon in nederige vlees. Ek is seker haar hart, lag en generosity of spirit sal aanhou eggo. Baie liefde vir haar man en gesin. Sover ek hulle ken, besonderse hartsmense,” sê Beyers.

Haar laaste rol op radio was vroeër vandeesmaand in Radioteater in Lee Doubell se Krag. Renske Jacobs was die regisseur en die produksie die geesteskind van Kobus Burger.

“Elize, jy was, is, en sal altyd my inspirasie wees vir my mees geliefde karakter wat ek ooit geskep het. Girly Lubbe. So jammer sy en die karakter het nooit televisie toe gegaan nie,” voeg Van Nierop by.

Die joernalis AJ Opperman onthou hoe hy en sy suster as kinders na Stralerjakkers op die radio geluister het.

Elize Cawood en haar man Wilson Dunster verlede jaar by die roos wat na haar vernoem is. Cawood het aan Maroela Media gesê sy is self net so baie lief vir rose. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

“[Ons het] teen ʼn baie hoë volume ingeskakel, want sien, ons het in twee verskillende wilgerbome langs landerye op die plaas sit en luister, daarom het dit kliphard gespeel. My pa het ʼn veraf geraas gehoor en eers gedink daar gaan iets aan by die landbouskool oorkant die rivier. Hy het ons later vertel: ‘Maar nee, toe hoor ek dis Girly se stem’.”

Die Elize Cawood-fonds is onlangs gestig om haar mediese onkoste te dek en haar familie finansieel by te staan.

  • Cawood het in Mei verlede jaar in die Maroela Media-ateljee gesels oor haar rol in die rolprent Skemerson, die laaste rolprent waarin sy verskyn het. Luister na die klankgreep bo-aan die berig.
  • Cawood en Dunster het in 2015 op die Aardklop Nasionale Kunstefees oor hulle produksie Die wagkamer gesels. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.