‘Ellen Pakkies’‑akteurs wen by Italiaanse rolprentfees

Die Taormina-rolprentfees is die oudste Europese rolprentfees en het die afgelope naweek in Sicily, Italië plaasgevind. (Foto: Facebook via Shirish Soni)

Jill Levenberg en Jarrid Geduld het onderskeidelik die toekennings vir beste aktrise en beste akteur by die Taormina-rolprentfees in Italië vir hul rolle in die aangrypende Suid-Afrikaanse rolprent Ellen, Die Ellen Pakkies storie.

Shirish Soni, Suid-Afrika se ambassadeur in Italië, het die nuus op sosiale media gedeel en die twee akteurs en vervaardigers van die fliek gelukgewens. Die Taormina-rolprentfees is die oudste Europese rolprentfees en het die afgelope naweek in Sicily plaasgevind.

“Dankie Here en dankie aan die span! En baie geluk aan Jarrid wat die toekenning vir beste akteur ontvang het. Liefde en seën!” het Levenberg op Facebook geskryf. Geduld het op sy beurt gesê hy is geëerd om die toekenning te ontvang. “Die kompetisie was straf. Kan nie wag om die toekenning by die versameling te voeg nie,” het hy gesê.

Jill Levenberg in ‘n toneel uit Ellen, die storie van Ellen Pakkies. (Foto: kykNET Films)

Ellen, die storie van Ellen Pakkies het ook vroeër vanjaar vier pryse by die 13de Suid‑Afrikaanse Film- en Televisie‑toekennings (Saftas) opgeraap. Levenberg het hier ook beste aktrise in ʼn rolprent gewen en Geduld beste akteur in ʼn rolprent. Daryne Joshua is as beste regisseur vir die rolprent aangewys en Quinn Lubbe het ’n Safta-beeldjie ontvang vir beste oorspronklike musiek of klankbaan in ’n rolprent.

Ellen, Die Ellen Pakkies Storie vertel die ware verhaal van Ellen Pakkies wat in 2007 aangekla is van die moord op haar dwelmverslaafde seun, Abe. Pakkies se verhaal het destyds opspraak gewek en mense wêreldwyd het die saak gevolg.

Levenberg vertolk die rol van Pakkies, terwyl Geduld in die rol is van Abe, Ellen se dwelmverslaafde seun. Schalk-Willem Burger, die vervaardiger van die rolprent, het vroeër aan Maroela Media gesê die film is meestal geskiet in die plekke waar Pakkies se storie in die regte lewe afgespeel het, insluitend Lavender Hill, die werklike polisiestasie, die werklike hof en Pollsmoor-gevangenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.