Ellen Pakkies wen vier Safta-toekennings

Jill Levenberg wat die rol van Ellen Pakkies vertolk, is as beste aktrise in ʼn rolprent aangewys, vir Ellen, die Ellen Pakkies storie. (Foto: Twitter via @SAFTAS1)

Die bekroonde ware verhaal van Ellen Pakkies se lewe, Ellen, die storie van Ellen Pakkies, wat die harte van kykers oral in die wêreld aangegryp het, het die afgelope naweek met vier pryse by die 13de jaarlikse Saftas (SuidAfrikaanse Film- en Televisietoekenningseremonie) by Sun City in Noordwes weggestap.

Jill Levenberg wat die rol speel van Ellen – ’n ma wat uit desperaatheid haar dwelmverslaafde seun se lewe geneem het – is aangewys as beste aktrise in ’n rolprent, terwyl Jarrid Geduld wat Abie Pakkies speel as beste akteur in ’n rolprent aangewys is.

Bekroonde regisseur Daryne Joshua (ook bekend vir die regie van Noem my Skollie en Suidooster) is tydens dié glansgeleentheid as beste regisseur vir dié rolprent aangewys.

“Ons het nie hierdie fliek gemaak met die doel om toekennings te wen nie. Maar noudat dit met vier Saftas vereer is, skep dit ekstra blootstelling en help dit om die fokus te rig op dit waaroor Ellen, die storie van Ellen Pakkies regtig gaan. Hiervoor is ons ongelooflik dankbaar,” het Joshua gesê.

Daryne Joshua is met ʼn beeldjie huis toe is as beste regisseur vir Ellen, die Ellen Pakkies storie. (Foto: Twitter via @SAFTAS1)

“Vanuit ’n kunstige oogpunt, is ek nooit seker of ek in die regte rigting beweeg wanneer dit kom by die maak van rolprente nie. Om dus die Safta-toekenning te wen vir beste regisseur, gee vir my bevestiging dat ek wel besig is om iets reg te doen. Ek is baie dankbaar vir die erkenning wat my werk kry en deel dit met elke lid van die span wat hard gewerk het om lewe te blaas in my visie,” het hy bygevoeg.

Quinn Lubbe het ook ’n Safta-beeldjie ontvang vir beste oorspronklike musiek of klankbaan in ’n rolprent en Jean Niemandt was benoem in die kategorie beste prestasie in klankontwerp in ’n rolprent.

Ander bekroonde akteurs wat ook te sien is in dié film wat delf in die innerlike psige van ’n familie wat deur dwelms vernietig word in een van die gevaarlikste plaaslike gemeenskappe in die land, is Clint Brink (Binnelanders), Ilse Klink (Stroomop, Isidingo), Elton Landrew (Suidooster, Dryfsand) en Russel Savadier (The Wild, Isidingo).

Ellen, die storie van Ellen Pakkie was in Januarie te sien by die Rotterdam Internasionale Rolprentfees. Die film het ook verlede jaar met drie Silwerskerm-toekennings weggestap.

Kyk hier wie die ander Safta‑wenners was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.